Benut jy jou vermoëns?

Mens kan slegs mens se dankbaarheid vir wat jy ontvang het wys, deur bly te wees.

Ek besef weereens vanoggend hoe baie ons van God af ontvang! Ons kan loop, ons kan hoor en ons kan sien, al hierdie dinge wat ons as vanselfsprekend aanvaar. Hy het alles vir ons gegee! Benut ons dit? Besef ons dit ooit werklik, of neem ons dit as vanselfsprekend aan?

Daar is mense wat aan ‘n siekbed gekluister is, wat beperk is en slegs kan beweeg in ‘n rolstoel om iewers te kan kom. Daarby het ons nog die goeie gawes van gesond wees, intellektuele vermoëns asook vermoë om keuses te kan maak, ontvang. Ja, al hierdie dinge gee ons genoegsame rede om elke dag met blydskap aan te pak. Die lewe is inderdaad ‘n geskenk!

Leef ons soos God wil hê ons moet leef? Ons is Sy eiendom, daarom moet ons ons lewens inrig volgens Sy wil.

Wat is Sy wil vir ons lewens? In Sy woord vind ons die voorskrifte vir ons lewens: “Laat julle Lig so skyn dat …..” Jy kan dus nie jou lig vir Hom laat skyn met ‘n neerslagtige of depressiewe houding nie.

“Wees altyd deur bly …..” Mens kan slegs jou dankbaarheid vir wat jy ontvang het wys, deur bly te wees.

U sal dalk sê, “Ek kan nie bly wees nie, die lewe is nie vir my maklik nie.”

Ek ken nie u omstandighede nie maar het u al tot die besef gekom dat elke voorreg eers ‘n verantwoordelikheid het? Ek wil by u pleit, ongeag die negatiewe omstandighede wat vir ander miskien onbekend is, begin in u gedagtes ‘n prentjie vorm waar u alles wat vanselfsprekend aanneem , nl. sien, loop, en hoor verloor en hoe u in daardie omstandighede sou voel!

Ons het hierdie gawes verniet gekry maar waardeer ons dit? Hoekom is ons dan onvergenoegd? Kan ons omstandighede regtig erger wees as om nie te sien, te hoor of te loop nie?

Begin dan om die Here te loof vir die dinge wat jy kan doen, sien en geniet! Begin dan verantwoordelikheid neem vir al hierdie dinge deur positief daarop te reageer en positief te dink! U sal sien dat, sodra u positief dink en God loof vir Sy goedheid, Hy u baie meer sal seën en u tot meer in staat sal stel! Miskien dink u dit is maklik vir ‘n ander ene om te praat, maar weet u, dit is nie omstandighede wat belangrik is nie, maar u ‘attitude’!

Is u omstandighede soos die spreekwoordelike “half-leë glas” of die “half-vol glas”? Verander u denke deur die lewe te sien as half-vol eerder as half-leeg en, aangesien daar soveel is om oor dankbaar te wees, vul jou lewe, jou half-vol glas, met positiewe denke en met dankbaarheid!

Jou glas sal begin oorloop en jy sal besef dat jy baie het om voor dankbaar te wees!

 

 

Exit mobile version