BlogsOpinion

Liefde vir God en vir mekaar

Het U al gewonder hoekom God slegs hierdie twee gebooie uitsonder?

Ons ken almal die Tien Gebooie. Ons weet ook dat alhoewel die tien gebooie daargestel is om ‘n rigsnoer in ons lewe te wees van wat reg en verkeerd is, dat ons vrygemaak is van die Wet en dat Jesus Christus vir ons gesterf het om ons van sonde te verlos. Ons kan nooit die vereistes van die Wet volkome nakom nie want ons skiet daarvolgens sover tekort! Jesus het vir ons die prys betaal om ons van die wet vry te koop. Ja, uit Sy Genade is ons gered.

Lees gerus die skrifgedeeltes in o.a. Romeine 6:14-15 en ook Galasiers 3:10-14; ons is vry van die Wet want deur Genade is ons gered. Ons is wel nie meer onder die wet nie maar, toe die skrifgeleerdes in Mattheus vir Jesus vra “Meester wat is die groot gebod in die wet”, het Hy die volgende geantwoord (sien die skrifgedeelte in Mattheus 22, veral vanaf vers 37); Jesus sit hier vir ons die Groot Gebod uiteen. Vers 37 sê vir ons: “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand”; dit is die eerste en groot gebod! En die tweede wat hiermee gelykstaan, in vers 39: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself” Vers 40 sê: “Aan hierdie twee gebooie hang die hele wet en die profete”. Wat sou dit beteken? Het U al gewonder hoekom God slegs hierdie twee gebooie uitsonder?

God sê vir ons “Jy moet die Here liefhê met jou hele hart, siel en verstand!”. In Johannes 1:12 lees ons dat, “aan almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in Sy naam glo”. As jy Hom dus liefhet met jou hele hart, erken jy dat hy God is en neem hy besit van jou hart; as jy iemand liefhet, gee jy tog jou hele hart oor aan hom? As jy Hom liefhet ontvang jy dus die Genade wat hy aan ons skenk!

Hieraan gelyk: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself”! Ons het almal onsself lief – ja, natuurlik is dit so! Jy wil nie seerkry nie, jy wil nie ongelukkig wees nie, jy wil nie tenagekom word nie, natuurlik nie. want jy gee om vir jouself! Nou, as jy vir ander mense netsoveel omgee as wat jy vir jouself omgee, sal jy ook mos nie wil hê dat hul moet seerkry of ongelukkig wees of tenagekom word nie?  Dit is waarom God wil hê ons moet ons naaste liefhê soos onsself. Deur so oor elke ander persoon te voel sal ons outomaties ons nie skuldig maak aan die negatiewe dinge soos om moord te pleeg, ander se goed te steel, of iets leliks aan jou naaste te doen nie. Sodoende vervul ons dan die reels wat in die Wet van Moses in die Ou Testament saamgevat word.

Wees dus Lief vir God (ontvang Sy genade) en wees lief vir jou naaste – “aan hierdie twee gebooie hang die hele wet!” (Matt 22:40).

 

===oooOooo===

Related Articles

Back to top button