BlogsLocal newsNewsOpinion

Pitkos vir my siel – Vrug van die Gees

“Die boom word aan sy vrugte geken” – besef ons wat hierdie woorde beteken?

Die Woord sê vir ons in Mattheus 7:16: “Aan hulle vrugte sal julle hulle ken. ’n Mens pluk tog nie druiwe van dorings of vye van distels nie!” Hoe moet ons vrugte dan lyk?. Wat is die vrug van die Gees? Lees gerus uit Galasiërs 5:22, nl. “Maar die Vrug van die Gees is Liefde, Blydskap, Vrede, Lankmoedigheid, Vriendelikheid, Goedheid, Getrouheid, Sagmoedigheid en Selfbeheersing.”

Dink net hoe wonderlik hierdie wereld van ons kan wees as ons hierdie vrugte kan dra:

Liefde: As ons liefde teenoor mekaar kan uitdra; die teenoorgestelde daarvan is haat – hoe donker is mens se hart dan nie – nee, vul jou hart met Sy liefde!

Blydskap: ‘n Mens met blydskap in sy/haar hart, is iemand wat dankbaar is! ‘n Bly mens is ook ‘n tevrede mens!

Vrede: Vrede sluit ook aan by die bogemelde vrug naamlik om tevrede te wees – ‘n tevrede mens dra ook vrede in sy hart rond. Teenoorgestelde van vrede is sekerlik twis; as iemand blydskap ervaar kan hy/sy ook vrede in die hart ronddra.

Lankmoedigheid: ‘n Maklike ander woord vir lankmoedigheid is om o.a. geduldig te wees. Om nie maklik in aggressie oor te gaan of soos ons ook gewoonlik sê “jou te wip nie”! Ja, moenie te gou “op jou perdjie klim nie” – wees lankmoedig; keer die grimmigheid af!

Vriendelikheid: Wie hou nou nie van ‘n vriendelike mens nie = dit is lekker om in so’n persoon se teenwoordigheid te wees! Dit kos mos niks om vriendelik te wees nie – die spreekwoord sê: “glimlag en die wereld glimlag saam met jou”!

Goedheid: Wees goed vir ander mense! Help ander mense waar jy kan – gee om vir ander! Dit kos nie altyd geld om goed vir iemand anders te wees nie. Mens kan goed vir iemand wees deur slegs ‘n vriendelike boodskap of liefde uit te dra.

Getrouheid: Wees getrou; laat jou woord jou eer wees; kom beloftes wat jy aan ander maak, na; ‘n Mens wat altyd getrou is, is iemand op wie jy altyd kan staatmaak – jy weet so’n mens sal jou nie in die steek laat nie!

Sagmoedigheid: ‘n Sagmoedige mens is nie iemand wat gou kwaad word nie. Dit is ook nie iemand wat selfsugtig is en soos ment lankmoedigheid, nie sommer “op sy perdie klim nie”. Die Woord se vir ons: “’n Sagmoedige woord keer die grimmigheid af”! is dit nie waar nie!

Selfbeheersing: Selfbeheersing maak van jou ‘n standvastige mens! Deur standvastig en Selfbeheersd te wees kan jy nooit ‘n verleentheid vir jouself of vir ander mense wees nie. Al die bogemelde eienskappe (vrugte van die Gees) word outomaties gevind by ‘n mens wat selfbeheersing toepas.

Laat jou leefwyse gekenmerk word met die Vrug van die Gees van God!!

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button