EntertainmentLifestyle

8 Wenke vir neuse en lippe dié winter

Ivohealth se raadgewer oor mondgesondheid Dirna Grobbelaar gee hier bietjie praktiese raad oor hoe om hierdie winter die rooineusvoorkoms te vermy.

’n Rooi, sensitiewe neus is dikwels in die winter ons voorland. Mense wat met verkoues, griep of allergieë sukkel, se neus is dikwels seer weens al die geblaas. As jy dikwels jou neus blaas, raak die delikate vel rondom jou neus en ook jou lippe droog en geïrriteerd. Klein, amper onsigbare barsies vorm en dit vererger elke keer as jy jou neus afvee. Mettertyd raak die barsies groter en ontsteek dit.

Pixabay

Die eerste stap om dit te voorkom, is om onmiddellik die vel ekstra beskerming te gee met ’n beskermende velroom, vogroom, petroleumjellie of ’n produk  wat spesiaal geformuleer is om die delikate neus, lippe en die vel tussenin gesond te maak en ’n beskermende laag op die vel te vorm. Wanneer jy jou neus blaas, gebruik baie sagte snesies of toiletpapier met ’n ekstrak van Aloe vera in. In plaas van om jou neus te vee, druk dit saggies droog.

Pixabay

Jy kan ook die vel van binne help bevog. Eet ’n voedsame dieet wat vars vrugte, groente en gesonde vette insluit. Drink baie water en rooibos- of kruietee. Ekstra vloeistowwe kan help om slym te verdun. Los slym kan beteken dat jy jou neus minder hoef te blaas. ’n Eenvoudige soutoplossing kan wondere verrig vir ’n toe neus. Spuit twee keer per dag van die soutoplossing in jou neus.

LEES OOK: Jy voel goor – is dit griep, of is dit dalk malaria?

Warm sop en drankies kan help om stuwing te verlig. Soos die stoom opstyg, bevogtig dit die neusgange en help om ’n toe neus oop te maak. ’n Stoombad verrig dieselfde taak. Jy kan ook ’n bevogtiger gebruik om vog by die lug te voeg.

Pixabay

Beskadigde en geïrriteerde vel ontsteek maklik. Was jou hande gereeld en hou die vel skoon. Vermy sterk sepe, gesigafskilferaars en baie warm water as jy stort of bad, want dit kan die vel uitdroog. Smeer ’n vogmiddel aan nadat jy gebad het, en onthou om Letibalm aan te smeer elke keer nadat jy jou neus geblaas het.

8 wenke vir neuse en lippe dié winter:

  1. Sorg dat die vel goed bevogtig is.
  2. Gebruik baie sagte snesies of toiletpapier met ’n Aloe vera– of gousblomekstrak.
  3. Druk eerder jou neus saggies droog as om dit te vee.
  4. Smeer ’n goeie salf aan om die vel te beskerm, te bevogtig en gesond te maak.
  5. Was met louwarm water en vermy sterk sepe en afskilferaars.
  6. Gebruik ’n soutsproei om die neusgange klam te hou.
  7. Gebruik ’n bevogtiger om die lug te bevogtig.
  8. Drink baie water, warm soppe of kruietee.

 HAVE YOUR SAY

Like our Facebook page, follow us on Twitter and Instagram

 

Back to top button