Die Lorriesmous: Vuurdoop bravade

Die nat agter die ore lorriesmous was onbewus dat hy in die leeuhok gegooi is.

Kyk, daar spring ‘n walvis uit! Loretta gil steeds opgewonde asof dit die eerste blink kolos is wat opskiet uit die ver branders. Hulle oë ontmoet in ryke dankbaarheid; die vars seebries en oneindige helderbloudak gespan oor woelige skuimende branders het die daaglikse ritme van hulle bestaan geword. Hier het Neels ware rykdom ontdek. Tog bly hy vasgeknoop in die web van sy lorriesmous eskapades. Hy het voorwaar uit noue ontkomings ontsnap.

Pixabay

Ted Oxley het hom aangestel om Oshkosh perde te verkoop. Hulle was bulperde met CAT enjins. Die moeder maatskappy was Barlows wat die volledige reeks geel grondverskuiwingmasjiene verskaf het. Neels was gelukkig om hom tussen die grootmenere van kapitaaltoerusting te bevind. In die verste hoek van hierdie kollosale besigheid is Hyster laebed leunwaens vervaardig.

Die uiteindelike teiken was om aan die grondverskuiwing- en padboumaatskappye ‘n Oshkosh perd gekoppel aan’n Hyster laebed met ‘n D8 dozer op sy rug te verkoop.

Neels was ook in die foto tydens so’n geleentheid.  Sy betrokkenheid was die Oshkosh en Hyster transaksie met Vermaas Grondwerke. Giel Vermaas was ‘n glibberige paling. Hy het die Dozermanne in die sak gehad en het soms oor ses maande betaal. Ted Oxley was nie hiervoor te vinde nie maar was genoodsaak om binne die gevestigde betaalreëlings te bly.  Nadat Giel weg is met sy nuwe pronkstukke, roep Ted vir Neels na sy kantoor.

Neels, die betaling op Vermaas Grondwerke is nog uitstaande. Die verkoopooreenkoms bepaal vereffening  by aflewering. Dis nou jou verantwoordelikheid om die tjek te gaan haal, neem die faktuur saam. Jy kom nie terug sonder Vermaas se tjek nie, verstaan ons mekaar?

Die nat agter die ore lorriesmous was onbewus dat hy in die leeuhok gegooi is.

Pixabay

LEES OOK: Die Lorriesmous: Kaskenades in die plantasies

Neels ry dadelik na Giel se kantoor in Modderbee. Dit was nogal ‘n gedoente om verby die sekuriteitmanne by die hek te kom sonder ‘n afspraak met die eienaar. Uiteindelik bevind Neels hom in Giel se uitspattige luukse kantoor. Net waar jy kyk staan daar outentieke modelle van padskrapers, kruiptrekkers en al wat ‘n implement is. Het jy my Oshkoshmodel gebring? Grom Giel vanuit sy direkteurstoel. Giel was groot in vele opsigte. Sy swaartekrag trek meer na sy knieë toe en sy hande lê tamaai op die lessenaar. Neels laat hom nie ontsenu nie. Meneer Vermaas, jou Oshkosh model staan netjies toegedraai in Ted Oxley se kantoor.

Hy het laat weet sodra jy vir jou nuwe perd en leunwa betaal het, oorhandig hy jou model persoonlik. Meteens rys Giel soos ‘n beneukte kobra  uit sy stoel. Sy groot hande kom in beweging asof hy in gebare taal praat. Neels gee een ferm tree nader aan die dreigende storm en kyk Giel ferm in die oog. Ek doen net my job, jy’t die Oshkosh en Hyster by my gekoop en die transaksie is nie afgehandel eerdat jy hierdie faktuur vereffen het nie. Ek is deur die Bestuur aangesê om nie terug te kom sonder jou tjek nie.

Nou is die vet in die vuur! Giel se hande wil eers vuiste bal maar dan bedwing hy hom.

Mannetjie, jy is wragtag manhaftig of domastrant. Jy moet weet ek was die vuilste vaskop in Diggers se span. Neels kyk na Giel se gestalte, amper dieselfde as ou Snorre wat hom eenmaal geknak het. Sê my, Giel se asem is warm in Neels se gesig, het jy ook voor in die oond gedruk? Neels verander die stemming deur bulderend aan’t lag te gaan. Ek was hopeloos onder die hoë bal, te stadig en lomp vir die agterlyn en te kort om te rank in die lynstaan. Daar was net een plek oor vir my, regs voor as die vaskop. Giel is steeds opgepomp en daag Neels uit om teen hom te skrum.  My kantoor is groot genoeg vir sulke sports.

Neels sak laag af om onder Giel se swaartekrag te kom. Voor hulle teen mekaar inslaan, breek Neels los en gee Giel die hand. Hierdie rondte behoort aan jou, meneer Vermaas. Ek wil jou eerder uitdaag in ‘n stryd om die betaling vir die Oshkosh en Hyster. Ons gaan arm druk vir die tjek! Giel kan sy ore nie glo nie: Neelsie, nou praat jy my taal. Vir sulke okkasies is ek ingerig.

Pixabay

In ‘n oogwink staan ‘n stewige soliede tambotie tafeltjie met twee riempiestoeltjies op die geresiveerde spasie in Vermaas se kantoor. Giel maak sy stem dik: Hier staan ons nie en armstoei nie, hier sit ons en laat die arms met mekaar gesels. Giel rol sy kort moue nog hoër op en klap sy hande grootmeneer voor Neels se gesig. Kom sit, meneer die Lorriesmous; soos jy gesê het, as ek jou knak loop jy sonder die tjek.

Neels bevestig die ooreenkoms met ‘n onderduimse grynslag. Sy pa was ‘n skrynwerker en sy oupa ‘n blacksmid, hulle voorarmgene vloei ryklik deur sy regter voorarm. Die sleutel van hierdie armstryd lê in onafgebroke oogkontak. Daarom daag Neels sy opponent met die vasvatslag:  Giel, moenie bang wees om my vas in die oë kyk as ek jou druk nie, ek sal jou nie seer maak nie. Dis die vuurhoutjie in Giel se kruitvat.

Sy oë blits deur skrefies en hy begin brul nes een van sy D8 dozers.

Neels het al sy skarniere en gewrigte op slot geslaan. Sy voorarm staan geplant soos die rots van Gibralter. Nou raak die Lorriesmous se tong los. Gielie, treiter hy die grootman, wanneer gaan jy begin druk, ek moet kantoor toe voor more. Giel spoeg ‘n paragraaf kragwoorde en druk met elke greintjie mieliepap in sy pype. Neels is bykans onkant gevang en herstel kalm met vuurrooi vonke uit sy regterskouer. Giel blaas en suis soos ‘n oorverhitte enjin sonder water. Sy kop hang slap na onder en Neels slaan die finale bres. Luister mooi meneer Vermaas, ek was laasjaar in die armdrukeindrondte van die plaaslike Streek. Ek was in ‘n titanies stryd gewikkel met ‘n Pool. Net voor bloedsweet uitgebars het, raak die tawwe tienie se arm slap.

Sy skouerbeen het uit sy potjie geglip! Ek wil nie hê jy moet in dieselfde gat trap nie. Ek gaan ook nie jou arm knak nie. Gee my die tjek en ons call dit kwits. Giel skud sy kop dat die sweet spat. Neels het nou die oorhand en speel woerwoer met Giel se slap arm. Tenlaaste klap Giel oorgawe met sy linkerhand op die tambotieblad. Hy kom swaar op uit die lae riempiestoel. Neels rek homself behaaglik uit op sy riempies. Sy regterarm is doodgedruk en Neels voel hoe die warmbloed terugvloei. Hy staan op toe Giel die tjek onder sy neus druk. Asof in die bokskryt na die geveg omhels hulle mekaar. Woordeloos groet die twee nuutgevonde kamerade mekaar.

Pixabay

 

Kort voorlank kom Neels fluit-fluit by sy kantoor aan, halfuur voor tjailatyd. Meneer Oxley laat nie op hom wag nie en beveel hom in sy sammajoorstyl: Ek wag al die heel dag vir jou, kom na my kantoor: Waar is  Vermaas se tjek?

Neels frommel sy gesig in gedweë oorgawe. Hierdie is sy oomblik om die hef in die hand te hê. Onverwags kyk hy, die groen lorriesmous, sy bedrewe bestuurder vas in die oë sonder om ‘n woord te uiter. Neels se krag lê in sy kalmte en net voor Oxley ontplof, trek hy die wit koevert met groot gebaar uit sy binnesak. Oxley se hande bewe  so erg dat Neels die brief oopmaak en die tjek uithaal. Meteens spring die bestuurder uit sy stoel en prewel in ‘n skaars hoorbare stem: Ek en jy moet na meneer Brits, die Handelaarhoof, se kantoor verkas.

Sy instruksie was spesifiek: as Neels die Vermaas tjek bring, kom julle omniddellik na my kantoor toe. Meneer Brits het selde geglimlag, selfs sy treë was ernstig afgemeet. Indien hy enigiemand na sy kantoor ontbied, was dit om finaal te groet. Ted Oxley was stilweg benoud toe hulle voor meneer Brits plaasneem. Hy gluur Neels aan en bulder, wat het jy in jou binnesak? Neels staan op en oorhandig die koevert aan die omgesukkelde man wat hom stip in die oë kyk. Eweskielik verskyn daar ‘n breë glimlag op sy gesig en nes ‘n onverwagte haelstorm bars meneer Brits  uit in ‘n ongekende lagbui. Na ’n  lang verposing kom hy tot bedaring.

Pixabay

Hy gee Oxley ‘n halwe kyk en sê:Jy weet waar is die kabinet, bring ons drie kelkies en my beste Muskadel. Hierdie een is op die Lorriesmous, hy het sy vuurdoop loshande geslaag! Met die derde rondte trek meneer Brits vir Neels nader en fluister in sy oor: vertel my, wat het jy gedoen, hoe het jy die tjek uit Vermaas gekry?

Neels kyk hom vas in die oë en antwoord: Maklik was dit nie, die detail bly tussen my en Giel. Al wat ek kan sê is dit het wragtag balledruk gegaan en die kliënt is tevrede. Al wat oorbly is vir Ted om die Oshkoshmodel af te lewer. Neels tuur oor die blou einders en skielik rank ‘n blink kolos loshande uit die branders. Spontaan bulder hy: Kyk, daar spring my grootvis uit die blouwater! Virseker het hy ook sy vuurdoop met lof geslaag.

 

Hannes van der Westhuizen was born, raised and educated in Pretoria. He tried varsity, did not like it and took up a job with Lever Brothers.

 A colleague suggested they try being salesmen after reading a newspaper ad.  On his first assignment, Hannes managed to get a large corporation in Kimberley to buy calculators and once he was handed his first commission cheque, he was hooked on sales.

Hannes was head-hunted by a truck sales company and was completely smitten.  He and his proper love, wife Elma, retired to Anerley where they enjoy being beachcombers.

 

HAVE YOUR SAY

Like our Facebook page, follow us on Twitter and Instagram

 

Exit mobile version