Mymeringe van ‘n hondeliefhebber

Opinion piece by Johan Pretorius.

As ‘n diere- en veral hondeliefhebber is die uwe erg bewus daarvan wanneer hulle deur mense mishandel word. Dalk oorsensitief. Maar dis die gevolg van ‘n jarelange verhouding met en ervaring van verskillende honde en diere-organisasies van kindsbeen af. Dit het begin toe ek as jong kind in Florida gereeld naweke besoek gebring het aan die VVMD, oftewel die destydse benaming die Vereniging vir die Voorkoming van die Mishandeling van Diere.

Vandag is dit nog steeds die SPCA in Engels, maar met die gemakliker Afrikaanse benaming, die Dierebeskermingsvereniging. Die bestuurderes van die destyds moderne kompleks, reg onder ‘n groot mynhoop in Maraisburg, was die weduwee van ‘n welgestelde Roodepoortse prokureur, Albert Düring, ‘n goeie vriendin van my ouers. Haar oorlede man het die kompleks gefinansier, en haar groot, gemaklike huis en woonkwartiere van enkele personeellede was op dieselfde perseel.

Tydens ons besoeke daar het my suster en ek, albei van ons was toe nog nie tien jaar oud nie, baie tyd by die hondehokke deurgebring om met die diere te gesels en te help om hul woonplekke skoon te maak.
Wat ek vandag nog onthou is die wanhoop wat uit sekere van die honde uitgestraal het. Veral die wat lank reeds daar was, asof hulle besef het hulle leef op geleende tyd. Indien honde langer as ‘n sekere tyd daar was, as ek reg onthou, ses weke, en nie nuwe eienaars gekry het nie, is hulle noodgedwonge ‘uitgesit’. Hulle moes plek maak vir nuwe aankomelinge, daar was eenvoudig nie plek om almal in te neem sonder om van die vroeëre innames ‘ontslae’ te raak nie.

Ons het die een week nog met van hulle interaksie gehad, groot plesier daaruit geput om hulle opgewonde, stertswaaiend en die blydskap in die oë te sien, net om met die volgende besoek te hoor hulle is nie meer met ons nie. Dit was hartverskeurend.

Van die honde wat daar was, het net in ‘n hoekie gesit, sommiges die ene bewerasie, te bang om mense by hulle toe te laat uit vrees vir erge mishandeling. Hul ervaring in die verlede. Ander het met groot verwagting en blydskap na die besoekers toe gehardloop, sterte geswaai en teen die draad opgespring. Om net weer druipstert hoekie toe te gaan wanneer niemand in hulle belangestel het nie.

Ons het ook verskeie ervarings gehad met honde-eienaars wat die diere om heeltemal die verkeerde redes aangehou het. Daar was bv. verskeie kere dat mense net voor skoolvakansies ‘rondloperhonde’ soontoe gebring het. Na die vakansies was hulle terug op soek na ‘n hond om huis toe te neem. Indien die ‘rondloperhond’, wat hulle vroeër kom aflaai het, nog daar was, het hulle hom ‘gekies’. Indien nie, een van die ander. Die SPCA het toe agtergekom hierdie mense is nie bereid om reëlings te tref dat iemand na hulle diere kyk of die koste by die vereniging self te dek vir hul verblyf nie. Die hond word dus as ‘n rondloper afgelaai, en later ‘aangeneem’. Indien die dier nog daar is.

By Dierebekerskmingsverenigings regdeur Suid-Afrika is daar vandag honderde, selfs duisende honde wat nooit daar moes gewees het nie. Ook by die organisasie in Margate. Waarom? Verskeie redes, onder mee die volgende: Mense wat nie noodwendig diere- of hondeliefhebbers is nie, skaf hulle aan vir hulle kinders, of as waghonde. Die honde word groot, en tensy die kinders die liefde gee en opleidingswerk doen, word hierdie diere ‘n las in die huishouding.

Van die mense wat honde as waghonde aanskaf, hou hulle in die tuin aan, laat hulle in ‘n hok slaap, voer hulle een maal per dag, maar vestig nooit ‘n band of verhouding met die hond nie. Om van opleiding of dissipline nie te praat nie. Hierdie diere sal óf iemand byt indien hulle by die erf sou uitkom, óf nie belangstel om hulle huismense se eiendom te verdedig nie. Oplossing? Neem hulle Dierebeskermingsvereniging toe.

Ander mense koop honde op impuls ‘want is die ou dingetjie nie te skattig nie’. By ‘n sg. agterplaas-teler wat dit doen om geld te maak, óf by ‘n troeteldierwinkel, wat die hond waarskynlik by so ‘n teler gekry het en teen ‘n groot wins verkoop. Die hond word groot, indien hy nie binne dae vrek van ‘n siekte soos Parvo-virus omdat hy nie behoorlik ingeënt is nie, en word ‘n las.

Mense koop ook honde sonder om te weet wat hulle koop. Elke honderas het sy besondere kenmerke, en indien jy onbewus hiervan is, koop jy jouself dikwels, verskoon die vergelyking, ‘n kat in die sak. Die kenmerke van honderasse is uiters belangrik wanneer ‘n hond aangeskaf word, en hierdie rubriek het te min plek om daarop in te gaan. Suid-Afrikaners is lief vir hul honde.

Maar ‘n betekenisvolle deel van die bevolking beskou hulle bloot as net nog diere soos hoenders, beeste en varke. Gelukkig word daar baie goeie werk deur diere-organisasies gedoen om veral die minder-gegoede deel van die bevolking met raad en veeartsenykundige hulp by te staan.

Die goeie nuus is die Dierebeskermingsverenigings doen wonderlike werk om ons minder-gelukkige vierpotige vriende se lot te verlig. Hulle verdien alle moontlike steun.

HAVE YOUR SAY

Like the South Coast Fever’s Facebook page

Exit mobile version