Behoefte om die Here te prys alhoe sterker

Stiltetyd by Oom Kallie.

Miskien het u al na die Halleluja-koor van Händel se Messiah geluister, veral tydens ’n geïnspireerde kooruitvoering. Die Halleluja koor verkondig Christus se opstanding.
Daar is ’n tradisie dat die gehoor opstaan as die koorgedeelte uit die opvoering gesing word. Die Psalms eindig ook met ’n Hallelujakoor!

Dit vorm ’n gepaste klimaks in die Psalmbundel in die bybel.
In elkeen van die sinne waaruit hierdie Psalm bestaan, kom die woord Halleluja (prys die Here) voor. Daar is nie ’n enkele sin waar dit ontbreek nie. Nou sou iemand dalk kon sê dat die woorde hier na 150 Psalms opgeraak het.

Miskien sou ons eerder kon sê dat die behoefte om die Here te prys nou al sterker en sterker geword het en hier ’n klimaks vind.

Ons hoop dat ons almal nou al gereed is om hierdie Hallelujakoor saam te sing. Soos ’n goue draad het die oproep deur die Psalms geloop en al sterker het die oproep tot ons gekom: prys die Here!

Dit moet nie net ’n integrale deel of die begin en einde van ons aanbidding van die Here wees nie. Dit moet ons hele lewe omvat.

Laat alles wat asem het, die Here prys! Dit gaan dus om veel meer as net die gelowiges. Dit gaan om alle mense. Alle mense behoort die Here te prys. Dit was nogal iets radikaals vir daardie tyd.

Toe is mos gedink dat net Israel die volk van God is. Van hulle is verwag om Hom te prys. Maar nou kom hierdie oproep tot al die volke en nasies. Maar meer, nie net alle mense nie. Hier staan tog immers: alles wat asem het.

Dit sluit dan ook die diere in. Ons sou selfs sover kon gaan om te sê dat die uitdrukking: alles wat asem het, dui op alles wat leef. Dan sou dit selfs die plante en planete kon insluit.

Elders in die Psalmbundel word die plante en planete ook ingesluit by die universele koor wat die groot Halleluja sing.

Die groot heelal neem deel aan die uitvoering van hierdie besondere universele koorsang! Sou jy sê dat jou lewe eer en lof aan die Skepper bring? Halleluja?

HAVE YOUR SAY

Like the South Coast Fever’s Facebook page

Exit mobile version