Verskillende maniere hoe ons van ons geld geskei word

Opinion piece by Johan Pretorius.

As die gesinslid wat die meeste inkopies vir ons huishouding doen, kom die uwe gereeld in aanraking met produkte van ’n verskeidenheid kategorieë in winkels en op die digitale media, en word telkens bewus van maniere om prysverhogings te verdoesel, en advertensie-tegnieke om my van my geld te vervreem.

Lesers van die Fever sal weet waarna ek verwys, veral diegene wat bewus word van skielike prysstygings en produkte wat stilweg kleiner word indien die pryse nie styg nie. My belangstelling oor die onderwerp is vandeesweek geprikkel toe ek bewus geword het van ’n boek met die titel The Future: More than 80 Key Trends for South Africa wat deur die Daily Maverick bespreek is. Die boek is geskryf deur Dion Chang, Bronwyn Wiliams en Faeeza Khan, aldrie hoogs-kundig op hierdie gebied, en hul waarnemings ivm. geheime tegnieke in handelspraktyke is interessante leesstof. Dit dek ’n wye veld, en ek verwys net na enkele aspekte.

As iemand wat nie ’n groot kenner van digitale bemarkingsmetodes en -tegnieke is nie, was dit nogal ’n openbaring om kennis te neem van hoe nuwe platforms geskep, algoritmes en Kunsmatige Intelligensie (KI) gebruik word om rolle te speel in die sg. e-handel en aanlyn-aankope. Die skrywers sê ’n verskeidenheid nuwe tegnieke word gebruik om impulsiewe aankope op aanlynplatforms aan te moedig. Een van die tegnieke is die sg. virtuele produkplasing (VPP), en wat genoem word ‘donker advertensies’.
VPP stel handelsmerke in staat om produkte te plaas nadat ’n insetsel/berig reeds geplaas is, en dit te varieer na gelang van die spesifieke gehoor op ’n gegewe tyd. ’Donker advertensies’ stel maatskappye in staat om advertensies te genereer wat net deur die teikengehoor eerder as die breë publiek gesien kan word.

Die skrywers wys daarop in ’n sukkelende ekonomie is dit nie net die verbruikers wat swaar kry nie. Handelsmerke en sake-ondernemings se winsgrense is onder groot druk.
In die tweede helfte van 2022, het Shoprite en Pick n Pay tydens beurtkrag saam R906-miljoen rand aan diesel bestee vir hul krag-opwekkers. Hulle het dus strategieë ontwikkel om van die koste na die verbruikers toe af te wentel. ‘Krimpflasie’ is een van hulle. Die pryse word onveranderd gehou, maar die item word kleiner of die inhoud minder. ’n Tegniek in Engels bekend as ‘Drip pricing’ beteken die geadverteerde prys sluit nie al die belastingkostes en verskeie hanteringsfooie in nie, wat later bygereken word.

Hotelle en lugdienste maak alhoemeer gebruik van ‘gemorsfooie’ (junk fees), oftewel onverwagte koste wat nie in die aanvanklik-gekwoteerde prys ingesluit is nie. In baie gevalle vind reisigers uit die uiteindelike koste van hul vlugte is heelwat meer as die lae geadverteerde prys wat hul oog gevang het.

Ander ondernemings wend hulle tot ‘aanvraagpryse’, ook bekend as dinamiese kosteberekening, en die koste word bereken na gelang van die belangstelling. Verbruikers in hierdie sektor het blykbaar reeds daaraan gewoond geraak. Dit lyk asof die gebruik nou ook versprei het na verbruikersartikels. Baie van hierdie strategieë gaan ongemerk verby, maar verbruikers onder geldelike druk begin in ’n toenemende mate bewus raak van hoeveel, veral hoe min, hulle in ruil vir hul geld kry.

Chang, Williams en Kahn sê dis kritiek-belangrik dat sake-ondernemings seker maak dat hulle niks wegsteek in verband met hul pryse of fooie nie. In verband met die sg. ‘gemorsfooie’ moet seker gemaak word dat daardie koste prominent is, en nie iewers verskuil in bemarkingsmateriaal nie. Indien hierdie bykomende kostes aansienlik is, sal verbruikers gekul voel, die transaksie kanselleer of selfs wegloop en nooit terugkeer nie.

In die geval van ‘n verhoogde aanvraag, moet ondernemings dit beklemtoon dat pryse hoog is wanneer die aanvraag styg, en andersom wanneer dit daal, sodat daar ’n keuse is vir diegene wat nie die hoër pryse kan bekostig nie. Deursigtigheid en effektiewe kommunikasie is van die uiterste belang vir goeie verhoudings tussen ondernemings en hul klante.

In die onlangse verlede het Snapchat, YouTube en Discord ’n stelsel aanvaar waarvolgens verbruikers vir spesiale voordele, en Instagram, Facebook en X wil hê verbruikers moet kontrakte teken. Meta het in Februarie 2023 begin om Meta Verified, ‘n verifikasiediens vir Facebook en Instagram, te toets vir Australië en Nieu-Seeland, voordat dit wêreldwyd aangewend sal word om betalende verbruikers meer sekuriteit en blootstelling te verseker.

Hierdie sosiale mediamaatskappye het die betaalroete gekies omdat hulle nie langer net op advertensies kan staatmaak nie. Kortom, hulle moet nuwe maniere vind om geld te maak. Meta-verifikasie kan verskeie voordele vir sake-ondernemings bied, onder meer groter reikwydte, beskerming teen indringers, toegewyde klantediens en toegang tot bykomende inkomstebronne.

Daar is egter nadele, bv. die lyn tussen advertensies en kern-inhoud kan vervaag. Talle verbruikers kla reeds dat Instagram totaal oorgekommersialiseerd is. Dit kan verbruikers wat nie meer betaalde inhoud wil sien nie, vervreem. Verbruikers wat nie wil betaal vir die diens nie, kan ook verdwyn.

Dit was enkele grepe uit die boek, van toepassing op verskillende seksies van ons samelewing met tersaaklike implikasies vir verskillende mense. Wat wel duidelik is, is dat pryse voortdurend styg, wat die redes ookal is. En die betrokke maatskappye se winste en direksie/senior bestuursalarisse bly buitensporig groot.

HAVE YOUR SAY

Like the South Coast Fever’s Facebook page

Exit mobile version