Wouter se Watergat

Wat het met Handré Pollard gebeur?

Vroulief en ek het vir ’n paar dae Drakensberge toe vertrek met die einde van die skoolvakansie, en Oom Pottie bestuur die Watergat tot aanstaande week. Hy het gerapporteer en die enigste noemenswaardige nuus was die absolute blydskap wat daar geheers het toe die Bokke die Iere Saterdag op hul herrie gegee het.
Ek het hom meegedeel ek het dit in ’n hotelkroeg meegemaak, en my enigste kommentaar, nee vraag, is wat het met Handré Pollard gebeur? Ons praat weer na Saterdag se tweede toetswedstryd in Durban wanneer ons terug is.
Ons glimlag van die week is langerig omdat daar weens die gebrek aan nuus uit die Watergat, en dis ’n langerige storie wat die naweek aan Oom Pottie vertel is deur Bertus Vlok, ’n besoeker uit Gauteng.
’n Negentienjarige seun, ’n eerstejaarstudent wat naweke by ’n pizzaplek werk om sy studies te help betaal, kom laat een Saterdagmiddag huistoe met ’n Porsche 911 Turbo, skaars twee jaar oud en spiekeriesblink. ’n Spogmotor. Sy ouers is tegelyk verstom en bekommerd. ‘Waar kry jy daardie motor?’ skreeu sy pa en ma tegelyk.
‘Ek het hom vandag gekoop,’ antwoord die tiener kalm.
‘Met watter geld wat jy waar kry?’ vra sy ma, hewig ontsteld.
‘Ons weet wat hierdie model Porsche kos, en jy kan dit so nooit as te nimmer bekostig nie!’ sê sy pa.
‘Dis ’n gebruikte motor, pa, en ek het dit teen ’n baie goeie prys gekry. Kon die transaksie nie weier nie. Ek het die nodige registrasiedokumente en alles.’
‘Wat het jy daarvoor betaal?’ vra sy ma met ongeloof in haar stem.
‘Een honderd rand, ma.’
‘Waaattt?! Nonsens, man, dink jy ons is gekke? Wie op aarde by sy volle verstand sal so ’n motor teen R100 verkoop?’ vra sy ma.
‘Die vrou hier straataf by nommer 33,’ verklaar die seun, ‘sy het gister ingetrek, ’n pizza bestel en ek het dit afgelewer. Sy vra my toe of ek ’n Porsche wil koop teen R100. Ek sê onmiddellik ja, gee haar R100, sy oorhandig die sleutels, ek teken die oordrag van eienaarskapvorm en sy gee my die registrasiedokumente.’
Die seun se ouers klim onmiddellik in hul motor en ry na die vrou se huis toe.
Hulle kry haar waar sy in die tuin werskaf.
Hulle groet, die pa verduidelik hy is die ouer van die seun aan wie sy so pas ’n Porsche 911 Turbo teen R100 verkoop het, en hulle wil asb. weet wat aangaan.
‘Hoe is so iets moontlik?’ wou hy weet.
‘Kyk, alles is wettig en korrek gedoen,’ antwoord die vrou, onderwyl sy aanhou met haar tuinwerk.
Later kyk sy op, bly ’n rukkie stil, en glimlag breed.
‘Ek het twee dae gelede ’n oproep van my man gekry. Ek was onder die indruk hy is op ’n sakereis in Kaapstad, maar het my meegedeel hy en sy sekretaresse is in ’n verhouding, hy wil van my skei, hy kom nie terug nie, en sy prokureur sal my die nodige dokumentasie verskaf, onder meer tekenregte namens hom om van sy goed te verkoop. Hy het my spesifiek gevra om sy Porsche te verkoop en die geld in sy bankrekening in te betaal.’
Sy glimlag, amper ’n grynslag. ‘Dis toe presies wat ek gedoen het.’

HAVE YOUR SAY

Like the South Coast Fever’s Facebook page

Exit mobile version