South Coast Fever

Die krag van die Here het geen einde nie

Stiltetyd by Oom Kallie.

Soms kom mens te staan voor ’n situasie wat vir jou onoorkomelik lyk en dan pak die gevoel van moedeloosheid jou beet.

Staan op uit die stof en sing ’n nuwe lied! Moenie sê: die situasie is hopeloos en ons is hulpeloos oorgelewer nie.
Dit, is die oproep wat uit Psalm 149 tot die Israeliete gekom het. Dit is die oproep wat Psalm 149 tot elkeen van ons vandag rig.

Natuurlik voel mens nie altyd daarna om te sing of te jubel nie. Dit word ook nie van ons gevra nie. Die Psalmis wil die gelowiges egter oproep om met nuwe krag die stryd aan te knoop. Om die stryd te begin in die wete dat die oorwinning verseker is, want die Here is aan hulle kant.

Hy is immers die Skepper en die Koning. Hy bepaal die verloop van alles.

Daarom kan die hulpeloses voor die stryd juig omdat die Here hulle gaan kroon met oorwinning. Die mag van die Here is mos onbeperk.

Daarom roep hy die troue dienaars op om te juig oor die mag van die Here. Hulle kan maar gerus gaan slaap. Die krag van die Here het geen einde nie. Ons het hier in die Psalm nie oormatige gerustheid nie.

Hulle is nie te selfversekerd nie. Dis nie arrogansie wat deurslaan nie. Wat ons wel hier het, is kragtige geloofsvertroue.

Hoor ons nie iets hiervan in die verhaal van Dawid en Goliat nie? Die jongman Dawid was nie bang nie, maar het kragtig voor die reus gestaan en was seker dat die Here vir hom die oorwinning sal gee. Met oortuiging kon hy sê: ek kom na jou toe in die naam van die Here!

Psalm 149 wil ons oproep om ’n nuwe lied te sing. Om die stryd, ook die stryd van die geloof, aan te knoop met vreugde, omdat ons verseker is van die oorwinning.

Het Jesus nie gesê dat alle mag in die hemel en op aarde aan Hom behoort en dat Hy elke oomblik by ons is nie?
Daarom kan ons maar rustig slaap. Daarom kan ons die stryd stry terwyl ons ’n nuwe oorwinningslied sing.
Sing vir die Here ’n nuwe lied. Halleluja!

HAVE YOUR SAY

Like the South Coast Fever’s Facebook page

Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Back to top button