South Coast Fever

Is Suid-Afrikaners rêrig die vriendelikste mense ter wêreld?

Opinion piece by Johan Pretorius.

Met die onderhandelings en ander verwikkelinge in Suid-Afrika aan die gang om ‘n nuwe regering ná die verkiesing saam te stel, kan aanvaar word dat die stresvlakke onder ons redelik hoog is.
Dit blyk duidelik uit gesprekke op die sosiale media, die geskrewe en digitale media, asook interaksie en berigte op radio en televisie.

Politici en hul ondersteuners grom deurentyd vir mekaar onderwyl ons landsburgers ons asems ophou en hoop Suid-Afrika gaan uit die moeras waarin hy hom bevind, opstaan.

Hierdie bekommernis, swartgalligbeid en grondliggende anti-regeringsgevoel kom al ‘n lang pad, soos ons almal weet, en weerspieël is in die taai klap wat die ANC in die verkiesing gekry het.

Daarom was die uwe redelik verbaas oor ‘n onlangse buitelandse meningspeiling se bevinding dat Suid-Afrikaners teenoor buitelanders die vriendelikste mense ter wêreld is.

Die Brits-gebaseerde webwerf Remlity wat mense raad gee oor waarheen hulle kan emigreer, het mense regoor die aardbol uitgevra oor die ‘aangenaamheidsvlak’ as deel van wat genoem word die ‘Groot 5-persoonlikheidstoets’, ‘n internasionaal-aanvaarde en gestandaardiseerde persoonlikheidsanalise.

Die belangrike persoonlikheids-eienskappe ter sake is openheid, aangenaamheid van persoonlikheid, en hoe konsensieus en neuroties die mense van ‘n gegewe land is.

‘n Belangrike faktor was die vrae hoeveel ‘n land se mense doen om besoekers welkom te laat voel en of die landsburgers bereid is om tyd aan hulle te bestee.

Elke vraag is as ‘n verklaring aan die respondente voorgelê, en hulle moes antwoord of hulle nie saamstem nie, effens verskil, neutraal oor die stelling is, gedeeltelik saamstem of heeltemal saamstem.

Hoe hoër hul tellings was, hoe hoër was hul gradering as vriendelik, vrygewig, behulpsaam en gewillig om hul belange met ander te deel.

Mense met hoë tellings in antwoord op die vrae word beskou as individue wat graag met ander mense wil klaarkom, ‘n optimistiese siening van die menslike natuur het en gevolglik gulhartig en vriendelik sal wees teenoor mense wat hulle ontmoet. By implikasie dan ook met hul eie mense.

Volgens die opname is Suid-Afrikaners bekend as warm en verwelkomend, en dat hulle reisigers en besoekers gemaklik maak in hul teenwoordigheid.

Suid-Afrikaners groet besoekers en reisigers beleefd op straat, en is gelukkig daarmee om te sosialiseer, aan gesprekke deel te neem en hul sin vir humor ten toon te stel.

Suid-Afrika het met 34.63 uit 40 die hoogste telling behaal, gevolg deur Griekeland (33.71), Kroasië (33.50), Meksiko (33.47), Swede (33.30), Australië (33.13), Kanada (32.84), Duitsland (32.66), Estonië (32.58) en België (32.50).

Remlity beskryf Suid-Afrika as mooi en divers, en ‘n top-keuse met ‘n bekostigbare lewenspeil vir mense wat wil emigreer.

Die land se wildlewe, wonderlike klimaat en lang kuslyn word beklemtoon. Bekostigbare lewenspeil? Kom ons laat dit daar.

Nog ‘n opname wat my aandag getrek het tydens my internet-ekskursie, is die Verenigde Volke en die bekende analise-maatskappy Gallup se jongste ‘Gelukverslag van die Wêreld’.

Die verslag is gegrond op die terugvoer van mense in meer as 140 lande oor ‘n tydperk van drie jaar om die gelukkigste lande ter wêreld te bepaal.

Uit hierdie opname blyk dit dat Suid-Afrika, ondanks sy ernstige probleme soos beurtkrag, wydverspreide werkloosheid ‘gelukkiger’ geword het.

Volgens hierdie verslag het Suid-Afrika as ‘n ‘gelukkige land’ van nommer 106 voor die Covid-epidemie, gevorder tot by nommer 87.

Die top vyf gelukkige lande is Finland, vir die sewende agtereenvolgende keer, Denemarke, Ysland, Swede en Israel.

Die opname is gedoen voor die aanval van Hamas op 7 Oktober verlede jaar.

Afghanistan (143) is die ongelukkigste land ter wêreld, onder Libanon (142) en Lesotho (141).

‘n Bykomende opname waarop ek afgekom het, was die beoordeling vroeër vanjaar van die vriendelikheid van die Engelse aksente van die wêreld, deur Engelssprekende lande.

Hierdie opname het bevind Suid-Afrika s’n is nommer 12 op die lys, ‘n groot verandering sedert 2019 toe dit as die tweede vriendelikste bevind is.

Amerika se Engelse aksent is as die vriendelikste aangewys, gevolg deur Brittanje en Australië.

Die Nieu-Seelanders, ten spyte daarvan dat hul aksent feitlik dieselfde as die Aussies s’n is, was in die vyftiende plek. Amerikaans die vriendelikste aksent? Julle speel seker.

Nog ‘n opname is die aanwysing van Kaapstad as die 11e vriendelikste stad ter wêreld aan die einde van verlede jaar deur ‘n internasionale reis-organisasie, en vroeër as die beste stad om te besoek op aarde.

Die Moederstad was die enigste Suid-Afrikaanse stad in die top sestig.

Hierdie opnames hang uiteraard af van hoe betroubaar die organisasies is wat dit doen en van die metodes wat gevolg word. Net die feit dat die uitslae so baie wissel en varieër, wek my bedenkinge.

Is ons werklik is vriendelikste mense ter wêreld? Besluit maar self.

HAVE YOUR SAY

Like the South Coast Fever’s Facebook page

Back to top button