South Coast Fever

Stiltetyd

Moenie vertrou op ‘n mens by wie daar geen verlossing is nie

In hierdie dae waar ons dikwels die stem van magtiges hoor, kom daar ‘n tydige waarskuwing na ons uit ‘n ou bekende Psalm.

‘Moenie op vooraanstaandes vertrou nie, op ‘n mens by wie daar geen verlossing is nie. Sy asem gaan uit, hy keer terug na die grond, op daardie dag is sy planne daarmee heen.’

Dis ‘n aanhaling uit die baie bekende Psalm 146, ‘n Psalm wat nog in baie kerke gesing word.
Die Psalmis rig dan ‘n waarskuwing.

Moenie op magtiges vertrou nie. Mens kan nie staatmaak op magtiges of enige ander mens nie.
Mense is mense. Hulle is nie net nie altyd betroubaar nie, maar is ook verganklik.
Mense kan nie werklik help nie. Hulle lewensduur is boonop kort.

Hier het ons ‘n besondere woordspel as hy die woorde mens en grond, wat in die Hebreeus byna dieselfde klink, gebruik. Die mens is aards en keer gou na die aarde terug.

Die Psalm roep ons eintlik op om die vraag te stel op wie ons ons vertroue stel. Waarop steun ons?
Op onsself en ons eie vermoëns of in die Here God?

Die Psalm leer dat die mens wat die God van Jakob as sy hulp het, gelukkig is.
Jakob het mos op ‘n keer vir sy broer Esau gevlug en die Here het hom deurgedra.

Die Psalm verskaf ’n reeks beloftes van die trou van die Here.

Hy handhaaf die reg van verdruktes. Hy gee hongeriges brood. Die Here stel gevangenes vry. Die Here maak blindes se oë oop. Die Here rig die op wat terneergedruk is.

Diegene wat emosioneel geknak is, kan hul hulp op Hom vestig. Die Here beskerm vreemdelinge. Vaderloses en weduwees help Hy op.

Dis die rede vir sy lofprysinge aan die begin.

‘Loof die Here o my siel. Ek wil die lof van my God besing solank ek bestaan.’
Natuurlik roep die Psalm ons ook op om vreemdelinge met empatie en gasvryheid te behandel.

Dit roep ons op om die wat terneergedruk is, met liefde en sagtheid en omgee te behandel.
Die Psalmis prys die Here omdat Hy die Skepper en Koning is op wie hy hoop en vertrou. Sal ons nie saam met hom so sing nie?

HAVE YOUR SAY

Like the South Coast Fever’s Facebook page

Back to top button