South Coast Fever

Stiltetyd

Fokus ons op ‘n erediens of die God wat ons eer?

Elke Sondag kom talle gelowiges bymekaar in die onderskeie eredienste van hul gemeentes.’
Die vraag is op wie fokus ons? Op die erediens of op die God wat ons eer?

Dit is belangrik om altyd te onthou dat dit in die godsdiens nie gaan om God se diens aan ons nie, maar om ons diens aan God.

Hy staan in die middelpunt. Op Hom moet ons fokus.
Daarom pas dit die gelowiges om soms weg te kyk van ons eie situasie en te vergeet van al ons baie dinge en die oë te vestig op die Here.

Doen ons dit, dan kan ons nie anders as om in verwondering voor Hom te kniel nie.
Dan kom ‘n loflied spontaan oor ons lippe. Dan vind ons dat so baie vrae waarmee ons worstel en so baie dinge waarop ons nie antwoorde het nie, in plek val.

As ons dan die fokus op die Here plaas, dan doen ons dit nie om die werklikheid te ontduik nie. Wie is meer werklik as die Here? Dan probeer ons nie God verklaar nie, want dit kan ons tog nie.

Dan wil ons maar net die pad loop van die digter van Psalm 145. Psalm 145 fokus op die Here.
Hoe dikwels dink ons ‘n bietjie na oor wat die Here vir ons doen en beteken? Oor sy grootheid? Oor sy Koningskap? Oor sy betrokkenheid by ons?

Miskien moet ons doelbewus tyd opsy sit om ‘n bietjie oor God te peins.

Ons is so besig en jaag so, dat ons dit wat werklik saak maak, vergeet. So verloor ons perspektief en verval ons in die duister en verloor ons hoop.

Kom ons dink ‘n oomblik na oor God, die Skepper, Koning, Vader.

Kan ons dan anders as om stil te word voor Hom? Kan ons anders as om die Here te loof?
As ons bietjie ophou om net na onsself en ons direkte omstandighede te kyk; as ons ‘n slag na die Here kyk, dan kan ons nie anders as om Hom te loof nie.

Dan sing ons saam met die Psalmis: ‘Ek wil u verheerlik, o Koning, my God; ek wil u naam prys vir altyd en altyd.’

HAVE YOUR SAY

Like the South Coast Fever’s Facebook page

Back to top button