South Coast Fever

Herinneringe aan die SA parlement, 40 jaar gelede

Opinion piece by Johan Pretorius.

Omdat vanjaar se algemene verkiesing byna met ons is, was dit die logiese onderwerp vir vandeesweek se rubriek.
Na deeglike oorweging het die uwe besluit in die beperkte ruimte van hierdie rubriek is daar niks wat gesê kan word wat nie reeds bekend is nie.

In die proses van oorweging het my gedagtes egter teruggegaan na die parlement voor 1994, en hoe verskillend die omstandighede toe was.

Vir die doel om iets daaroor te skryf, het ek deur amper vergete foto-albums geblaai en deur bokse met geraamde fotos gegrawe.

In die proses het ek afgekom op fotos van die jaarlikse dinee van die Persgaleryvereniging van destyds in die Cape Sun-hotel waarby ek as voorsitter van die vereniging betrokke was, vandeesmaand presies 40 jaar gelede.

My gedagtes het teruggegaan na vele gebeure, indrukwekkende toesprake, interessante insidente, en bowenal, humoristiese voorvalle.

Wat my altyd sal bybly, is die kundigheid en presisie waarmee die parlement bestuur is, asook die tradisievastheid en stylvolheid daarvan.

Sowel die Senaat as die Volksraad het ‘n feitlik tasbare waardigheid gehad, met streng reels wat onverbiddellik toegepas is.

Die Speaker was ‘n gesiene lid van die parlement, en sy woord was wet.
Die Speakers is feitlik sonder uitsondering deur die lede, insluitende die opposisiepartye, gerespekteer, omdat hulle sigbaar regverdig was, ongeag hul partyverband.

Daar was wel uitsonderings wanneer partye gebrom het oor beslissings, maar in my besoeke aan die persgalery tussen 1974 en 1994 relatief min.

In teenstelling met die post-1994-Parlement, was die peil van debatte hoog. Wanneer die hardebaarde van die partye mekaar gevat het, was dit intellek teen intellek. Argument teen argument. Ideologie teen ideologie.
Ek het die voorreg gehad om egte ‘orators’ in aksie te sien. Lede wat teenstanders se redenasies binne minute kon verwoes.

Daar was baie meer, maar hierdie lede het my oor die jare besonder beïndruk met hul debatsvermoë: Douglas Mitchell (VP), Marais Steyn (VP, NP), Radclyffe Cadman (VP), Helen Suzman (PFP), John Vorster (NP), Ferdi Hartzenberg (NP, KP), Dr Andries Treurnicht (NP, VP), Dr Frederik van Zyl Slabbert (PFP), Barend du Plessis (NP) en Pik Botha (NP).

Wie my die meeste beïndruk het? Moeilik om te kies tussen Vorster en Slabbert, maar my lg. is my keuse.
Die destydse huise van die parlement was nie net ernstige plekke nie. Daar was talle humoristiese oomblikke wat, veral binne die ernstige konteks van die parlement, soms skreeusnaaks was.

Een wat ek goed onthou, was toe Helen Suzman se onderrok besluit het hy het nou genoeg gehad.
Sy was reg onder my besig met ‘n ernstige toespraak. Skielik het ek opgemerk haar onderrok is sigbaar. Enkele minute later meer sigbaar.

Sy het dit begin besef, maar aanhou praat. Skielik het die onderrrok op haar skoene gelê.
Medelede om haar het dit gesien en begin giggel.
Sy het bloot aanhou praat, en nonchalant uit die bondeltjie materiaal getrap, dit eenkant toe geskop, en ongestoord voortgegaan.

Dieselfde Helen het by geleentheid na die destydse Minister van Polisie en later Speaker, Louis le Grange verwys as ‘that pompous minister heavily disguised as an ordinary citizen’ te midde van proteste onder die Nasionaliste en lagbuie in die opposisiebanke.

By geleentheid het Vause Raw, destyds die leier van die Nuwe Republiekparty, in ‘n debat oor verdedigingsake in Afrikaans na die Russiese wapen genaamd Stalin’s Organ, verwys as Stalin se orgaan.
Die raad het met lagbuie tot stilstand gekom en Raw se gesig was bloedrooi toe hy sy fout besef.
Een middag tydens ‘n redelik vervelige debat het Pik Botha, toe nog ‘n agterbanker, wanneer die Speaker anderpad kyk, papiervliegtuigies die lug ingestuur en laag agter die lid voor hom afgebuk.
Giggelgeluide het deur die raad getrek, die Speaker kon nie agterkom wat aangaan nie, en by twee geleenthede ‘orde!orde!’ geroep.

Toe een van die vliegtuigies grasieus voor hom verbysweef, het hy ergerlik gevra wie verantwoordelik was.
Doodse stilte.
Toe hy weer vra, hierdie keer woedend, het Botha soos ‘n stout skoolseun opgestaan en gesê dis hy.
Ek kan nie die presiese woorde onthou nie, maar die Speaker het hom ernstig berispe dat hy hom moet gedra. Na ‘n plegtige onderneming, het Botha gaan sit.

By ‘n ander geleentheid, tydens hoogspanning in die raad weens die destydse Inligtingskandaal, net voor die sitting begin het, het Horace van Rensburg van die Progs, bekend as ‘n grapmaker en tussenverwerpselkoning, in sy bank vorentoe geleun en in ‘n luide stem aan die destydse eerste minister, wat reg oorkant hom gesit het, gevra, sodat almal dit kon hoor: ‘En wat sê jy nou, PW?’

Botha het woedend half uit sy bank opgestaan, en ewe luid geantwoord: ‘Dis Eerste Minister vir jou!’
Van Rensburg het met perfekte tydsberekening ‘n rukkie gewag onderwyl almal toegekyk het, en weer luid geantwoord, ‘Ag ou PW, noem my maar net Horace’.

Daar was pandemonium in die raad, die Eerste Minister het gestik van woede, maar niks het gebeur nie want die raad was nog nie in sitting nie.

Uitstaan-oomblikke wat my bybly, is die aankondiging deur PW Botha dat die destydse president, John Vorster, bedank het, Minister Barend du Plessis se vreeslose karnuffeling van Dr Andries Treurnicht toe albei nog NP-lede was onmiddellik na die skeuring in 1982, Dr Slabbert se bedanking uit die parlement in 1986, en die teregwysing van Pik Botha op dieselfde dag deur President Botha omdat hy op ‘n nuuskonferensie verklaar het hy is bereid is om onder ‘n swart staatspresident te dien.

Bg. is enkele herinneringe uit ‘n vergange parlementêre era. Daar is nog talle ander. Ek het geen eerstehandse ervaring van die post-1994-parlement nie, maar wat ek op TV sien, bewys vir my dit kan nie dieselfde wees nie. Hoegenaamd nie. Hoe jammer.

HAVE YOUR SAY

Like the South Coast Fever’s Facebook page

Back to top button