Wouter se Watergat

Ons moet duim vashou die verkiesing bring uitkoms vir SA...

Die hooftema van besoekers aan die Watergat deesdae is die komende verkiesing oor minder as ‘n week.
Daar is ‘n magdom menings oor die moontlike uitslag en die kandidate en partye, maar uiteindelik is die algemene wens dat, watookal die uitslag by die stembus, dit Suid-Afrika uit die doldrums sal lig en op die pad na voorspoed sal plaas.

Ons kry dalk ‘n werkbare koalisieregering of die ANC kry ‘n skrale meerderheid, die Ramaphosa-faksie kry die oorhand en hy kan ontslae raak van die vrot appels rondom hom en met ‘n sterk opposisie kom dinge stadigaan reg.

Enige ander alternatief, soos bv. ‘n koalisie tussen die ANC en die EFF/MK-partye, is ‘too ghastly to contemplate’. Kom ons hou duime vas. En bid.

Die naweek se rugby was, soos gewoonlik, die ander groot besprekingspunt. En ek moet verklaar, die Lions het vir groot opwinding gesorg.

Selfs geharde Sharks- en ander span-ondersteuners was telkens op hul voete toe die Johannesburgers in die tweede helfte teen Cardiff met 14 man ‘n skittervertoning gelewer het.
Ná ‘n teleurstellende eerste helfte en Oom Pottie wat kreun asof hy erge maagpyn het, het die Lions losgetrek met een van die beste vertonings van alle spanne in jare.

Pottie het skielik gelyk of hy tien jaar jonger is en het tot laatnag gejubel. Met ‘n paar skuimkoppe, natuurlik.
Die wedstryd tussen die Lions en die Stormers die komende naweek behoort ‘n rugbyfees te wees.
Mits die Lions hul wisselvalligheid afskud. Oor die Sharks is daar nie te veel te sê nie. Hul tweede span het hard probeer, maar hul fokus is ooglopend op die Uitdaagkompetisie want die VRK is vir hulle lankal neusie verby.

Die ander sport-hoogtepunt vir ons was die vangskoot van die 39-jarige Faf du Plessis vir sy span Royal Challengers Bengaluru in die Indiese Professionele Krieketliga.

Een van die beste wat ek in my hele lewe gesien het. Dit en sy skitterende kolfbeurt het sy span gehelp om deur te dring tot die uitspeelwedstryde nadat hulle lank onder op die punteleer was.
Hoop hulle wen die titel.

Ons loopstorie kom van Susan Vermooten van Scottburgh: ‘n Bombastiese en sarkastiese onderwyser vra sy klas: ‘Is daar enige idiote onder julle? Staan op asseblief.’

Na ‘n lang stilte staan net een leerling op. ‘En waarom dink jy jy is ‘n idioot?’ vra die onderwyser.
‘Ek dink nie ek is ‘n idioot nie, meneer, maar ek kan jou nie alleen daar laat staan nie.’

HAVE YOUR SAY

Like the South Coast Fever’s Facebook page

Exit mobile version