South Coast Fever

Afrikaans is amptelik 100 jaar oud – geluk jou mooi ding!

Opinion piece by Johan Pretorius.

Afrikaans vier vandeesmaand sy amptelike 100e verjaardag – dit is op 8 Mei 1925 as amptelike taal van Suid-Afrika erken. Die uwe het besluit om ons geheues te verfris oor die geskiedenis van hierdie taal waarvoor ons so lief is.

Toe ek bronne op die internet en op my boekrak begin raadpleeg, het ek opnuut besef daar is soveel reeds oor Afrikaans te vertel, dat hier hoegenaamd nie genoeg plek vir die magdom inligting is nie. Wikipedia se geskiedenis van Afrikaans deur kenners daar geplaas, is volledig en indrukwekkend, en ek het dit as die hoofbron gebruik.

Afrikaans is, tipologies beskou ‘n Indo-Europese, Wes-Germaanse en Nederfrankiese taal wat aan die suidpunt van Afrika onder invloed van verskeie ander tale en taalgroepe ontstaan het. Europeërs het hulle teen die middel van die 17e eeu aan die Kaap gevestig. Aan die Kaap is verskillende Afrikaans-Hollandse omgangsvariëteite gepraat met Nederlands as die oorkoepelende kultuurtaal. Nederlands was die algemeen aanvaarde kultuurtaal en het as skryftaal, bestuurstaal, kerktaal en die taal van die onderwys gedien. In 1806 het die Kaapkolonie vir die tweede keer in Britse hande geval, waarna Engels ‘n kragtige opmars begin het.

In 1854 het die Oranje-Vrystaat Nederlands as amptelike taal aanvaar. In 1882 is Nederlands, naas Engels, as die amptelike taal in die Kaap aanvaar. In 1888 is Nederlands as die amptelike taal in die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) aanvaar. Aan die einde van die 19de eeu was sommige mense van mening dat Afrikaans (veral Boere-Afrikaans) meer erkenning moes geniet en het hulle voorspraak vir ‘n eie inheemse taal begin maak, naamlik Afrikaans. In die Nederlandstalige pers is toe soms briewe en artikels in Afrikaans geplaas.

Die Kaapse Maleiers het ook begin om Afrikaans-Nederlands, naas Arabies, soms in Arabiese skrif, in hul godsdiensgeoefeninge te gebruik. Die eerste Afrikaanse taalbeweging begin in 1875 met die stigting van die GRA of die Genootskap van Regte Afrikaners in die Paarl. Die doelstellings van die GRA is egter deur die meeste Kapenaars verwerp. Nederlands is as die algemeen aanvaarde kultuurtaal beskou. Dit was die formele skryftaal, kerktaal, bestuurstaal, onderwystaal en die taal van die pers. Afrikaans is as ‘n taal beskou wat die stempel van onkunde dra. Die meeste Afrikaners het Afrikaans op daardie tydstip insgelyks as ‘n uiters minderwaardige taalvorm beskou. Vir hulle was dit ‘n taal sonder grammatika; ‘n Hottentotstaal; ‘n wartaal; ‘n mengelmoes vol onsin en dwaashede en ‘n taal wat by skaapkrale en in die kombuis hoort.

Ten spyte hiervan het die status van Afrikaans stadigaan verander, ook weens politieke redes. Invloedryke mense soos C.J. Langenhoven en dr. D.F. Malan het hard gewerk om Afrikaans as amptelike taal naas Engels, erken te kry, en dit gebeur wel in 1925. Ongelukkig het die taal hierna verpolitiseer geraak en sinoniem met ‘n uitingsvorm van nasionalisme geword. Later as die taal van Apartheid. Dis egter ‘n onderwerp vir ‘n ander dag.

Die Grondwet van 1961 het Afrikaans en Engels as amptelike tale erken, maar bevestig dat Afrikaans en Nederlands dieselfde status geniet. Volgens die Grondwet van 1983, was slegs Afrikaans en Engels die amptelike tale van die land. Die Grondwet van 1996 erken elf amptelike tale, waarvan Afrikaans een is.

Die aftakeling van Afrikaans as ‘n volwaardige ampstaal in Suid-Afrika, het in die afgelope jare tot groot ontevredenheid gelei. Regeringsinstellings en privaatondernemings gee om verskillende redes dikwels aan Engels die voorkeur. Ten spyte hiervan, is daar positiewe verwikkelinge wat daarop dui Afrikaans gaan hom nie sommer laat onderkry nie. Die verkope van Afrikaanse boeke in Suid-Afrika is bv. uitstekend.
Die verkoopsyfers van boeke wat plaaslik in Engels geskryf en verkoop word, word oorskadu deur dié in Afrikaans. In 2004 was net 22% van plaaslik gepubliseerde boeke in Afrikaans, teenoor 77% wat Engelstalig was. Teen 2015 het die omset van Afrikaanse boeke tot 49% van die totaal toegeneem, terwyl die aandeel van Engelse boeke tot 50% afgeneem het. Ook wat die digkuns betref, floreer Afrikaanse werke terwyl plaaslike verkope van Engelse digbundels so power vaar dat bykans geen plaaslike uitgewer meer daarin belangstelling toon nie. Afrikaanse boeke word deesdae ook deur buitelandse uitgewers soos PRH, Macmillan, Oxford en Pearson uitgegee.

Uit ‘n skatting van 2007 blyk dit dat Engels (as onderrigtaal) nie ‘n groot invloed uitoefen op Afrikaanssprekende kinders se huistaalgebruik nie. Dit blyk verder dat baie minder bruin Afrikaanssprekers na Engels oorskakel as wat aanvanklik vermoed is. Die getal mense wat Afrikaans tuis gebruik, het van omtrent 6,44 miljoen in 2007 tot omtrent 6,49 miljoen in 2010 gestyg (Namibië inkluis).

Wat verrassend hierby mag wees is dat die syfer van swart Afrikaanssprekendes gestyg het van omtrent 0,24 miljoen in 2007 tot 0,29 miljoen in 2010. Volgens 2007 se Community Survey word geskat dat omtrent 6,44 miljoen Suid-Afrikaners Afrikaans as huistaal gebruik het (Blankes: 2,76 miljoen – Namibië inkluis, Bruin: 3,44 miljoen – Namibië inkluis, Swart: 0,24 miljoen (Namibië uitgesluit), Indiërs: minder as 10 000).

Benewens blanke en bruin Afrikaanssprekendes word Afrikaans deur die meeste etniese groepe in Suid-Afrika as ‘n tweede (of selfs derde) taal gepraat. Ten spyte van bekommernis oor sy voortbestaan, toon bg. dat Afrikaans hier is om te bly. Ons moet net seker maak hy verbaster nie met woorde soos ‘amazing’, ‘awesome’, ‘great’ en talle ander nie. Wat nogal moeilik gaan wees. Indien nie onmoontlik nie.

HAVE YOUR SAY

Like the South Coast Fever’s Facebook page

Back to top button