Stiltetyd

"Gebed is die asemhaling van die siel."

Here, ek roep u aan. Kom gou na my toe! Luister na my stem wanneer ek na U roep. Mag my gebed standhoudend voor u wees soos reukwerk, die ophef van my hande soos die aandoffer.

Psalm 141, die woorde van die Psalm, is die gebed van iemand wat ernstig soek na antwoorde vir die lewensvrae wat hom kwel.

Iemand het gesê dat gebed die asemhaling van die siel is. Gebed kan soms wees soos rustig asemhaal.

Ander kere kan dit intens wees soos die Psalmis hier bid. Die tye waarin ons leef in die wêreld vandag vra dat kinders van God meer voor die Here moet ‘asemhaal’.

Haal jy asem? Hoe sien so ‘n lewe daar uit? Wat is kenmerkend aan die lewe van ‘n gelowige?

Dit is vrae wat elke gelowige van tyd tot tyd vra. Die digter van Psalm 141 het ook met hierdie vraag geworstel.

Psalm 141stel dit dat vertroue een van die wesenskenmerke van ‘n kind van die Here is. Here, ek roep U aan. Kom tog gou na my toe. Dit wil byna voorkom asof die Psalmis in nood verkeer.

In die res van die Psalm vind ons egter nie besondere verwysings na ‘n noodsituasie nie. Sy lewe is nie in gevaar of word nie bedreig nie. Sy byna angstige roep na die Here het dus ‘n ander grond.

Hy is ernstig in sy versoek dat die Here na hom sal kom omdat hy seker wil maak dat sy lewenswyse dié van ‘n toegewyde kind van God is.
Daarom bid hy vertrouend in vers 8 van die Psalm: ‘Op U Here, my Heer, bly my oë gerig. By U skuil ek.’

Gebed is op op te kyk, om op te kyk na die Here vir leiding, hulp en beskerming.
Miskien moet ons almal opnuut leer dat vertrou op die Here beteken dat ek alles in sy hande laat terwyl ek voluit alles doen wat Hy wil.

Psalm 141 is ‘n spieël waarin ons na onsself moet kyk. Leef ons as wyse gelowiges in die harde werklikheid van elke dag se lewe?

Haal ons regtig asem in gebed, of snak ons na asem?

HAVE YOUR SAY

Like the South Coast Fever’s Facebook page

Exit mobile version