South Coast Fever

Depressie is endemies onder Suid-Afrikaners

Opinion piece by Johan Pretorius.

In gesprekke die afgelope weke oor verskeie onderwerpe oor die huidige omstandighede in Suid-Afrika en internasionale gebeure, was daar verskeie kere die volgende opmerking deur individue: ‘Dit maak my skoon depressief’.

Dit het my self ‘n depressiewe klap gegee, en was ‘n goeie rede om inligting oor die siekte in te win. Redelik onlangse navorsingsyfers van die Universiteit van die Witwatersrand toon dat meer as 25% van die Suid-Afrikaanse respondente met wie onderhoude gevoer is, aan die een of ander vorm van depressie ly.

In die ouderdomsgroep ouer as 65 jaar was die persentasie 39% onder geskeides, en wewenaars of weduwees, diegene met slegs ‘n laerskool-opvoeding 32.6%, afgetredenes 30.6%, inwoners van metropolitaanse gebiede 27.0%, en vroue 26%.

Dr. Louis Awerbuck, ‘n bekende kliniese sielkundige van Stellenbosch, sê ondanks volop beskikbare inligting oor, en die toenemende begrip vir depressie, is dit duidelik dat mense nog nie die volle impak van hierdie siekte besef nie.

Wêreldwyd word gepraat van ‘n ‘depressie-epidemie’, en alhoewel hierdie gemoedstryd so algemeen in ‘n moderne wêreld geword het, lyk dit asof mense nog nie besef hoe gevaarlik die toestand is nie.

In Suid-Afrika is depressie die tweede grootste oorsaak van sterftes by mense tussen die ouderdomme van 15 en 25, en een uit elke vier tieners wat aan depressie ly het al selfdoodpogings aangewend.

Ongeveer twee-derdes van alle selfdood in Suid-Afrika gebeur met mense tussen die ouderdomme van 20 en 39.

Hierdie mense het byna almal onder depressie gebuk gegaan. Dr. Awerbuck wys daarop afgesien van die direkte verband tussen selfdood en depressie, veroorsaak die ‘Swart Hond’ ook ander lewensgevaarlike fisieke toestande.

Dr. Awerbuck se verwysing na die ‘Swart Hond’ het my laat dink aan Dana Snyman, die bekende bekroonde skrywer, self ‘n depressielyer, se onlangse ‘n treffende artikel op Facebook oor die siekte:

“Jy word wakker en wil nie opstaan nie. Party nagte slaap jy byna glad nie. Ander nagte slaap jy te lank en te diep. Jy wil die hele dag lank, die hele week lank, die res van jou lewe lê en staar na die uitgebrande kers op jou bedkassie. Jy voel knaend tam. Dit is ‘n swaar, donker tamheid waarvoor slaap en rus en vitamien B nie help nie. Huiwerig trek jy die gordyne oop. Die son skyn te helder buite. Die lug is blou, nie ‘n wolk in sig nie. Nog ‘n pragtige dag in Afrika wat jy nie wil hê nie.

Om te lewe is onnatuurlik. Om te lewe is seer en jy weet nie waar die pyn vandaan kom nie. Jy kan nie besluit of jy honger is nie. In die yskas is groente en vrugte wat jy gekoop het, maar jy is lus vir NikNaks en sjokolade. Die 5 liter-boks Robertson-rooi is leeg, al is die verligting wat wyn bring, slegs twee glase lank. Jy skakel die TV aan. BBC. CNN. Al Jazeera. Nog vlugtelinge uit Sirië. Nog ‘n reënwoud wat brand.

Die 500 rykste rykste mense in die wêreld se inkomste het verlede jaar met 25 persent gegroei. God het die aarde verlaat, en ons is nou in die hande van biljoenêrs en die pastore wat op kanaal 340 tot op kanaal 343 opereer. Lawaaierige mishandelaars van woorde, wat nooit sê Jesus was ‘n man van trane nie. Jesus het gehuil. Die kortste vers in die Bybel: Johannes 11 vers 35. Al kanaal op die TV wat vir jou sin maak, is die een waarop dag na dag gewys word hoe leeus en ander roofdiere jag op ander diere maak en hulle vang. Jy, nes daardie steenbokkie in die krokodil se kake, is self in die greep van ’n wilde iets – iets wat jou vreugde steel en jou vermoë ondermyn om liefde te gee en liefde te ontvang.

Jy kan nie glo iemand kan lief vir jou wees nie. Al sê daardie een oor en oor vir jou: Ek is lief vir jou, ek is lief vir jou, wil jy dit nie glo nie en probeer jy om die liefde te saboteer. Jy glo jy verdien al die ongelukkigheid wat jou toekom. Niks gee jou meer plesier nie. Jy kyk na die boeke op jou rak, en dink: Vergeefs, alles vergeefs. Jy vermy al hoe meer kontak met ander mense.

Sien jy iemand wat jy ken in die winkel, koes jy agter ‘n pilaar of ‘n rak in. Jy kyk na die mense rondom jou en glo hulle is net so alleen en ongelukkig soos jy, hulle weet dit net nie. Jy wil huil oor al die weerlose mense, en mishandelde diere, en bome wat afgekap word, maar het iewers tussen jou brein en jou hart het jou trane vermis geraak.

Jy voel leeg. Jy skakel die rekenaar op jou lessenaar aan. Nog nuwe e-posse in jou inboks wat jy nie kans sien om te beantwoord nie. Jy kyk na die toekennings wat jy al ontvang het wat geraam teen jou muur hang, en dit beteken niks vir jou nie. Dit voel of jy iets verloor het, iets baie belangrik, wat jou lewe weer betekenis sal kan gee as jy dit net weer kan vind.

Jy hou nie van hoe jy lyk nie, maar kyk soms in die spieël, asof jy wil seker maak jy bestaan nog. Jy wonder of jou ma jou regtig wou hê. Jy is spyt jy is gebore. Dit is hoe die lewe soms voel vir iemand wat aan erge depressie ly.”

‘n Insiggewende maar ontstellende blik op die gewaarwordinge van ‘n depressielyer in Suid-Afrika. Die siekte van ons tyd. Die Swart Hond.

HAVE YOUR SAY

Like the South Coast Fever’s Facebook page

Check Also
Close
Back to top button