South Coast Fever

Wouter se Watergat: Drakensberg, Zuma and yswoestyn

Social piece by Wouter Willemse.

Vroulief en ek het besluit om vir ‘n paar dae te gaan uitspan omdat ons ‘n ruskans nodig gehad het, en die Watergat tradisioneel hierdie tyd van die jaar baie stil is. Ons het vir vier dae Drakensberge toe gegaan, en eers na die naweek teruggekeer.

Dit was baie aangenaam, veral omdat dit nie koud was nie, en ons weereens beïndruk is met die natuurskoon van daardie omgewing. Die berge doen darem iets aan ‘n mens se gemoed as jy naby hulle ‘n wandelstaproete aanpak.

Terug hier by die huis het Oom Pottie, wat die fort gehou het, ons meegedeel dat daar in ons afwesigheid nie veel gebeur het nie, behalwe die gewone sportgeselsies, met ‘n groter fokus op die politiek as gewoonlik. Die hoofbesprekingspunt was Jacob Zuma. Pottie het vertel daar is soos soveel kere vantevore gevra hoe dit moontlik is dat hierdie man ons regstelsel so kan manipuleer.

Sy Stalingradtaktiek duur nou reeds jare, amper dekades, in verband met verskeie aanklagte teen hom, en hy slaag daarin, om ten spyte van terugslae, elke keer met ‘n nuwe slenter vorendag te kom.

Toe hierdie rubriek geskryf is, was daar nog nie ‘n uitspraak deur die Verkiesingshof oor sy appèl teen die beslissing dat hy nie ‘n kandidaat in die verkiesing mag wees nie omdat hy ‘n kriminele rekord het.

Hoop van harte sy appèl word verwerp. Die troos is indien dit nie gebeur nie, sal as ‘n kandidaat vir sy MK-party hier in KZN groter probleme vir die ANC gaan veroorsaak as wat die geval sou wees sonder hom.

Ewenwel, ons gesels aanstaande week weer, en sluit met ‘n storie uit Pottie se argiewe:

‘n Suid-Afrikaanse toeris in Groenland wil graag die yswoestyn oorsteek met ‘n slee wat deur ‘n sterk sleehond getrek word.

Hy huur dus ‘n hond met ‘n slee en die nodige toerusting, maar hy weet nie so reg hoe om die dier aan die loop te kry nie.

”Dis heel eenvoudig,” sê die Eskimo wat alles aan hom verhuur het, ”praat net Eskimotaal met die hond, meneer. As jy ‘Sjoe’ sê, sal die hond begin loop en as jy ‘Sjoe! Ai, mensig darem” sê, sal hy hardloop dat hy bars.”

”En as ek wil hê hy moet stop?” vra die Suid-Afrikaner. ”Dan sê jy bloot Amen,” antwoord die Eskimo.

Die hond staan ingespan voor die slee en wag, en die Suid-Afrikaner klim op die slee.
”Sjoe,” sê hy, en die hond begin loop.

‘n Entjie verder die yswoestyn in sê die man: ”Sjoe-Ai Me ‘Nsig Da Rem”, en die hond laat waai oor die ys.

Skielik sien die man egter ‘n reusagtige afgrond voor hom opdoem. En paniek pak hom beet.

Hy het vergeet wat hy moet sê om die hond te laat stilstaan.

Hy weet dat hy hom saam met die sleehond te pletter gaan val, en hy het nog net tyd vir ‘n skietgebedjie.

Aan die einde daarvan sê hy: ”Amen” – en wonder bo wonder, die sleehond gaan staan botstil.

Vlak voor die rand van afgrond steek die dier in sy vier spore vas. Die verligte Suid-Afrikaner vee die sweet van sy voorkop af en sê: “Sjoe! Ai, mensig, darem.”

HAVE YOUR SAY

Like the South Coast Fever’s Facebook page

You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button