South Coast Fever

Stiltetyd

Jy is geroep om te seën, en nie te vervloek nie...

Gebeur dit nie maar orals dat mense by mekaar verby leef en nie juis veel vir mekaar te sê het nie? Tog bly dit net goeie maniere om mekaar te groet, te respekteer en te eer. Miskien is dit wat Psalm 134 ons ook wil leer. Al voel ons dalk dat ons nie iets in die besonders het om vir die Here te sê nie, dan moet ons nog bid en Hom groet en respekteer en eer en prys.

“Prys die Here. Julle almal diensknegte van die Here, wat snags diens verrig in die huis van die Here.”

Hierdie Psalm verwys na die priesters van ouds, wat die nag diens gedoen het en nou op die punt is om verlore slaap te gaan inhaal. Dan sê die Psalm: voor jy van diens af gaan en voor jy gaan rus en slaap: gee erkenning aan die Here: groet Hom; erken sy magsposisie en prys Hom.

Behoort ons dit nie ook te doen voor ons ons deure sluit en voor ons die lig saans afsit nie? Nie net vir groot dinge wat gebeur het nie, maar ook vir die klein dingetjies wat elke dag oor ons pad kom en waarvoor ons aan die Here erkenning behoort te gee nie?

Die priester roep die aanbidders op om God te prys. Hulle moet hulle afhanklikheid van God toon deur hulle hande in gebed na Hom toe op te hef. Dan, voordat hulle ná die feesvierings teruggaan huis toe, stuur hy hulle weg met ’n seëngroet: Mag die Here jou seën uit Sion.

Sion, die plek van aanbidding, word die toegang tot die krag agter die lewe van elke dag. Hulle kan nou terugkeer, verryk en toegerus vir hulle verantwoordelikhede en probleme, want die krag wat hulle so pas in lofprysing erken het, vul nou hulle lewe. So word die seëninge van die Here nie maar as vanselfsprekend aanvaar nie.

Jy is in Christus met al die seëninge van die Gees wat daar in die hemel is geseën. Jy is geroep om te seën en nie te vervloek nie. Gaan leef uit daardie krag en laat dit vandag deur jou optrede sigbaar word dat jy ‘n draer van God se seën is.

HAVE YOUR SAY

Like the South Coast Fever’s Facebook page

You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button