South Coast Fever

Wouter se Watergat

Die vervoerkoste vir vakansiegangers na die Suidkus ruk heeltemal hande uit...

Weer ‘n rustige week hier by die see met ‘n hele paar bekende gesigte van Gautengers wat reeds hier is vir die Paasvakansie, Van hulle gaan tuis by vakansieplekke wat wateronderbrekings ervaar. Gelukkig het die meeste van hierdie ondernemings Jo-Jotenks oor die jare aangeskaf en die ongerief is dus nie te groot nie, maar dit bly ‘n irritasie. Van die Johannesburgers wat hier was, het ons ingelig dinge gaan deesdae basie sleg in die stad. Wateronderbrekings kom oral voor, en die beurtkragskedules is besig om ‘n groot tol te eis onder die groot supermarkte, kleiner, gevestigde besighede en die verkeersv;oei op die besige snelweë.

Jan van den Bergh van Randburg, ‘n verlangse familielid van Oom Pottie, het ons ingelig dis chaos op die stad se paaie. Die verkeersdrukte, wat reeds ‘n nagmerrie is weens die aantal voertuie op die paaie, raak onhanteerbaar. Twee jaar gelede nog het dit hom 40 minute geneem om sy werkplek in Midrand te bereik wanneer hy ses-uur die oggend by die huis wegtrek. Nou ry hy reeds 05:30, en die rit neem tot ‘n uur, afhangend van ongelukke op die pad of beurtkrag. Jan sê dis ‘nag’ en die vertragings wat ons ondervind met die opknappingswerk aan Marine-rylaan is ‘n ‘vulletjie’. Ons moet ons seëninge tel. Wees verseker Jan. Ons tel hulle. Ons tel hulle.

Ander besoekers kla oor die vervoerkoste hierheen. Van hulle ry voertuie soos Toyota Fortuners, wat bv ‘n gesin van vyf en hulle bagasie, en dalk met ‘n sleepwaentjie, vervoer. Minstens 1 400 kilometer heen en weer, met ‘n tenk van 80 liter wat minstens drie of vier keer volgemaak moet word teen die huidige prys van heelwat meer as twintig rand per liter, en die tolgeld jaag die koste hemelhoog op. Die gevolg? Baie mense bly by die huis, ander kom vir vier of vyf dae pleks van sewe of agt, en instede van uiteet by ons restaurante, maak hulle so goedkoop as moontlik self kos. En wie verloor? Die Suidkus se mense.

Ons kan aanstaande week weer sport gesels. Ons loopstorie van die week kom van Santa Geldenhuys van Roodepoort: Eendag merk die dominee ‘n klein seuntjie in die voorportaal van die kerk op wat aandagtig na ‘n groot Tweede Wêreld Oorlog-gedenkplaat teen die muur staan en kyk. Dit was oortrek met name en daar was klein landsvlaggies aan die weerskante. Die 7-jarige seuntjie het vir ‘n baie lang tyd aandagtig na die plaat gestaan en kyk.

Toe loop die dominee nader – kom staan reg langs die seuntjie – en sê saggies: “Môre, seun.” Die seuntjie, sonder om sy oë van die gedenkplaat te verwyder, antwoord: “Môre, dominee! Dominee, wat is dit hierdie?” vra die seuntjie. Die dominee antwoord: “Wel, my seun, dit is ‘n gedenkplaat vir die jongmanne wat in die diens gesterf het.” In doodse stilte en met groot eerbied staan die twee toe voor die plaat en staar na die name. Uiteindelik, in ‘n skaars hoorbare stemmetjie en bewend van vrees vra die seuntjie: “Watter diens dominee? Die agtuur diens of die elfuur diens?”

HAVE YOUR SAY

Like the South Coast Fever’s Facebook page

Check Also
Close
Back to top button