Die deur staan oop

South Coast Fever, opinion, local news

Kersfees 2023. Wat maak hierdie Kersfees anders as al die ander? In jou persoonlike lewe was daar dalk verliese wat jy gely het en jy bring hierdie Kersfees deur sonder die geliefde aan jou sy.

Dalk was daar ’n nuwe aankomeling in die uitgebreide gesin en julle is een meer wat saam hierdie jaar Kersfees vier. Dalk is jy alleen hierdie Kersfees. Waar en hoe ons Kersfees gaan vier sal verskil van huis tot huis. Die Johannes Evangelie vertel nie van die engele en die herders, die krip en die ster nie. In teologiese taal word dit as ’n feit gestel: ”Die Woord het mens geword en onder ons kom woon. Ons het sy heerlikheid gesien, die heerlikheid wat Hy as die enigste Seun van die Vader het, vol genade en waarheid.” Hierdie is ’n duidelike verwysing na die Christuskind wat op Kersdag gebore is.

Johannes sê dat Jesus mens geword het en onder ons kom woon het, letterlik Sy tentwoning onder ons kom opslaan het. Of soos Peterson se vertaling dit stel: “The Word became flesh and blood, and moved into the neighborhood. We saw the glory with our own eyes, the one-of-a-kind glory, like Father, like Son, Generous inside and out, true from start to finish.”

Dis aangrypend om daaraan te dink dat Jesus Christus volledig mens geword het. Meer as dit, Hy het die gestalte van ’n slaaf aangeneem. Hy deurbreek alle grense en reik uit na ( deur die Jode) gehate Samaritane van Sy dag, Hy sterf vir verlore seuns en dogters. Hy die onskuldige en sondelose, hang saam met terdoodveroordeelde misdadigers aan ’n kruishout.

Vir elkeen in jou buurt en jyself, kom die belofte in Johannes 1:12: “Aan almal wat in Hom glo, het Hy die reg of die volmag gegee om kinders van God te wees of te word.” Hier gaan dit nie om ’n reg waarop die mens aanspraak het nie, maar eerder om ’n weg wat God in Christus vir die mens geopen het. Die deur staan vanaand nog oop. Wie in Jesus glo, Hom aangeneem het, word deel van God se huisgesin, en die Here Jesus Christus neem Sy intrek in jou lewe. So word dit Kersfees in jou buurt.

HAVE YOUR SAY

Like the South Coast Fever’s Facebook page

Exit mobile version