South Coast Fever

Stories van hoop – en van totale moedeloosheid

Opinion piece by Johan Pretorius.

In die huidige Suid-Afrika met sy eiesoortige probleme beleef mense vanoor die hele bevolkingspektrum verskillende emosies in verskillende situasies opm verskillende tye. ‘n Mens, veral iemand soos die uwe, wat baie tyd bestee aan verwikkelinge op sowel die sosiale as die sg. hoofstroommedia, kom feitlik daagliks af op items wat die een of ander sterk emosie ontlok. Ek deel vandeesweek twee wat ek die afgelope week teëgekom het met lesers van die Fever omdat dit my sowel bemoedig as beswaard gelaat het.

Die eerste skryfsel is deur ene Carina Stander op Facebook: “Vandag in ons plaaslike Spar het ek iets beleef wat my in my spore gestuit het. Dis maandeinde, die winkel is dolbesig en die rakpakkers is druk aan die gang. Doer tussen die ontbytpap en tee kom ‘n gestremde man nader. Gryskop, ek skat hom so 60 jaar oud. Skuifelstappie, bene wat onwillekeurig na die kant swaai. Sy een arm is permanent opgetrek, sy gesig heeltemal vertrek en hy kyk verskrik rond. Die twee Xhosa-rakpakkers laat los hulle werk net so, stap na hom en fluistervra met volkome deernis: “Boetie, where is Mama?” Die gestremde man probeer praat, maar daar kom net klanke uit, nie woorde nie. Hy lyk bitter bang. Die ander rakpakker se gesig verhelder: “There she is! Don’t worry, we will stay with till your Mama comes.”

Af in die winkelgang kom ‘n piepklein verrimpelde vroutjie aangeskuifel. Sy kan nie jonger as 90 wees nie. Haar ogies is ‘n waterige blou – sy en haar seun is duidelik verlig om mekaar weer in die winkel te kon vind. Sy is skoon verdwerg tussen die twee groot Xhosa-rakpakkers toe sy hulle groet met ‘n handskud op daai cool, streetwise manier met die klomp stappe. Ek hoor haar aksent – properse Engelse antie hierdie. Toe beduie sy na ‘n rak doer bo waar sy en haar seun onmoontlik kan bykom en hulle gee die pak suiker vir haar aan. Maak geselsies, maak ‘n grappie. Oogkontak, meelewing, gedeelde respek. Weg stap die een rakpakker om die diepbejaarde Mama en haar gestremde seun verder met die inkopies te help. Ek sluk aan die knop in my keel en vertel vir die een wat agterbly: “You have a beautiful heart. Thank you for helping those people the way you did.” Glimlag hy bietjie verbaas: “But of course, Ma’am. We know them. We see them.”
Die res van vandag loop en dink ek die lewe is mooier as wat ons raaksien. As ons dit nie weet nie, is dit omdat ons nie stip genoeg kyk nie. We see them.” Carina se storie het my ook weer laat besef die meerderheid verskille en baklei is op politieke en groepvlak, nie tydens daaglikse persoonlike kontak tussen mense van verskillende agtergronde nie. Talle mense in my onmiddellike omgewing verseker my hulle het min of geen probleme wanneer daar interaksie is met mense van ander bevolkingsgroepe nie, ongeag hul politieke of ander oortuigings. Hulle kan politici soos Jacob Zuma en Julius Malema egter nie verdra nie, en beskou sowel die ANC as die EFF as die grootste politiieke gevare vir die land.

Die tweede item is geplaas onder die opskrif ‘Plakkerskind-bevolkingsgroepe’: “Ek deel ? kamer met my pa, ma en boeties. Die ryk mense noem ons die ‘wit plakkerskamp’. Met hul groot karre bring hul pakke kos en klere. Altyd mooi aangetrek en baie vriendelik. Staan dan in ? ry en wag ons beurt af. Ons kinders sal opgewonde aan mekaar stamp. Pappa kry nie werk nie. En mamma huil as ons slaap. Dan dink ek aan die tannie met die mooi klere. Huil sy ook? Is haar seuntjie ook af en toe honger? Speel hy ook met plastiek-gewere? Ek hoor baie die woord “Armoede”. Seker ons bont klere en sinkplaat-huisies.

Daar is dae wanneer ons lekker speel en lag. Dan vergeet ek van die mooi, ryk tannie, tot op ‘n dag wanneer almal uit hul huisies skarrel en bondel. Nou gaan ons weer in n lang ry wag. Ek is hier gebore, en dit is al wat ek ken. Hier is ? hondjie. Hy is almal se hond. Ek noem hom Jasper. By ander mense het hy ander name. My voete is kaal en vuil, want hulle het my skoene gewen. Ek is baie lief vir my twee boeties, al maak ons mekaar soms seer. Pappa en mamma het ook vir ons baie van Jesus se liefde geleer.”

Sjoe. Ons besef nie altyd waaraan kinders in plakkerskampe blootgestel word en in watter omstandighede hulle leef nie. Net verlede week het vyf swart kinders in ‘n tydelike skuiling doodgebrand. Ewenwel, hierdie twee skryfsels het my weer laat dink oor die toekoms van ons land. Diep laat dink.

Like the South Coast Fever’s Facebook page

Check Also
Close
Back to top button