WOUTER SE WATERGAT: Nie veel positiewe dinge nie

Daar is organisasies en individue wat wonderlike werk doen om ons omgewing skoon te maak, te vernuwe en op plekke saam met die munisipaliteite werskaf om ons openbare beeld blink en spiekeries te hou.

Nog ‘n week hier op die Suidkus is verby, en daar is nie veel positiewe dinge waaroor verslag gedoen kan word nie. Die watervoorsieningsituasie is steeds erg geoordeel aan die gesprekke van ons besoekers. Hier was mense wat vyf weke laas gestort en hulself met swembadwater en waslappies aan die gang gehou het. Gelukkig het ons by die Watergat en ons huis opgaartenks. Nietemin, indien iets nie baie vinnig aan hierdie situasie gedoen word nie, gaan hierdie eens gewilde vakansieplek baie swaar kry. Daar is organisasies en individue wat wonderlike werk doen om ons omgewing skoon te maak, te vernuwe en op plekke saam met die munisipaliteite werskaf om ons openbare beeld blink en spiekeries te hou. Indien die plaaslike regerings egter nie baie vinnig hul kant bring nie, weet ek nie wat gaan gebeur nie. Kan maar net raai. En dit lyk nie goed nie.

Behalwe die normale sportgeselsies was die groot bespekingspunt die finale verslag van die Zondo-kommissie. Absoluut verstommend hoe ‘n familie uit Indië byna daarin geslaag het om ons land met die hulp van ‘n presidensiële rampokker oor te neem. Dit was hittete. Nou moet ons regstelsel net hul kant bring, die RET-faksie in die ANC ontman, president Ramaphosa herkies as ANC-president sodat hy kan skoonmaak, en die land na 2024 deur koalisies regeer word. Of is dit ‘n futiele gedagte?

Ons groot geleentheid van die week was ‘n 50e troudagviering vir Jan en Santie Weyers van Hibberdene. Vroulief se boontjiesop was ‘n groot sukses, en Santie het vertel dit herinner haar aan die sakevrou wat op haar verjaardag deur haar kollegas op ‘n middagete getrakteer is. Sy het twee borde restaurant-boontjiesop geeët omdat dit so lekker was. Haar man wag haar later die middag by die voordeur in, en lig haar in hy het ‘n spesiale verjaardag-verrassing gereël. Hy blinddoek haar en lei haar na die eetkamertafel. Net toe sy sit, lui sy selfoon, hy sien dis ‘n krisis by sy werk, maak verskoning en gaan gou kombuis toe om die oproep te beantwoord.

Net daar begin haar maag geluide maak. ‘n Skielike aanval van ‘flatulensie’, wat reeds op pad huis toe begin het, oorval haar. Sy lig haarself effens op en laat waai met ‘n ontlading, en skrik self vir die geluid en die onaangename reuk. Verskriklik. Binne dertig sekondes is die drukking terug en weer laat sy waai. Haar man sluit sy gesprek in die kombuis af, en sy maak weer seker sy’s ok. Dié keer is die onaangename walm eers erg, maar dit verdwyn voor haar man se oproep klaar is. Hy kom terug, maak verskoning vir sy afwesigheid, en vertel aan sy vrou hy het vir haar 50e verjaardag ‘n baie spesiale verrassingsete gereël het met die hulp van buite-spyseniers. Daarmee haal hy haar blinddoek af. By haar aan tafel (vol disse en lekker kos) sit haar twee seuns met hul vriendinne, en twee van haar eie beste vriendinne en hul mans. Van hulle met groot oë, haar kinders erg ontstig, syself tot in haar siel geskok, en haar man totaal oorbluf oor die die mense voor hom se reaksie.

Exit mobile version