Wouter se Watergat

Die Lions het 40 minute lank hard gebrul...

Verlede Saterdag was dit weer ‘muur tot muur’-rugby in die URC-reeks, en soos almal teen hierdie tyd reeds weet, het al vier die Suid-Afrikaanse spanne oorwinnings behaal.

Ons is natuurlik veral bly oor die Sharks se goeie vertoning, maar wat ons 40 minute se groot plesier gegee het, was die Lions se verplettering van die Skotse spogspan Edinburgh in die eerste helfte van hul wedstryd op Ellispark.

Ek kan nie onthou wanneer laas ’n Suid-Afrikaanse provinsiale span buitelandse besoekers so ’n afranseling gegee het nie, en met skitterrugby.

Dit was iets om te aanskou hoe die Johannesburgers die eerste helfte met 48-0 teen die Skotte afgesluit het.

Oom Pottie was uiteraard op sy eie wolkie, maar baie meer bedeesd toe sy gunstelingspan in die tweede gelfte net een drie kon druk teenoor die besoekers se drie.

Nietemin, die Lions gaan nog ’n hele paar nuwe Springbokke oplewer, en ek is doodseker die franchise se bestuur is bedag op ryker ander franchises wat van hulle sal wil koop.

Soos die Sharks reeds gedoen het met die Tsitsuka-broers, Jordan Hendrikse en Ruan Dreyer.

Dis ’n realiteit van professionele sport wêreldwyd, maar bly jammer dat geld so ‘n groot rol speel in die wel en weë van spanne.

Die groot teleurstelling vir ons was die middelmatige vertonings van die Protea-manskrieketspan.

Teen Ierland, beslis nie die sterkste span in die wêreld nie, en kort op die hakke van hul powere pogings teen die Wes-Indiese Eilande.

Daar is wel jong spelers van internasionale witbalgehalte in die span, soos Tristan Stubbs en enkele ander nuwelinge, maar daar is egter ‘n groot gebrek aan ervare, gesoute spelers.

Hulle is beskikbaar, maar van hulle verkies om elders te speel, ennie net oor die beter vergoeding nie.

Die enigste afleiding is daar is groot fout met die bestuur van SA-krieket. Kwotas?

Verder nie veel te rapporteer nie, behalwe klagtes deur besoekers oor gereelde, ernstige, langdurige water-toevoeronderbrekings.

Ons het self van hulle ervaar, en dit skep oneindige probleme vir kuierplekke soos ons, veral met die was van skottelgoed.

Sal ons stadsrade ooit hul swak dienslewering kan uitskakel?

Nie solank die politieke onstabiliteit in KZN voortduur nie. Nog klagtes was oor die ewigheid wat die opgradering van Marine-rylaan duur. En die ongerief wat dit veroorsaak. Sug.

Ons loopstorie…
“Pa,” vra ’n seun, “wat is die verskil tussen kwaad en woedend?”

“Kom ek wys jou,” sê die pa.

Hy tel die telefoon op en skakel ’n nommer.

“Hallo,” antwoord ’n stem aan die ander kant.

“Hallo,” sê Koos, “Is Julius daar?”

“Nee,” antwoord die stem aan die ander kant. “Ek stel voor u gaan u nommer na.”

“Sien jy,” sê Koos vir sy seun. “Daai oom is glad nie in sy noppies met my nie. Hou dop wat nou gebeur.”

Koos skakel weer dieselfde nommer.

“Hallo, is Julius daar?”

“Luister hier,” antwoord die man vies. “Ek het mos gesê hier is nie ’n Julius nie! Hoe durf jy weer die nommer bel!”

“Het jy dit gehoor?” vra Koos vir sy laaitie. “Dit was kwaad. Nou gaan ek jou wys hoe lyk woedend.”

Koos skakel weer die nommer.

Toe die man antwoord sê Koos: “Hallo! Dis Julius hier. Was daar enige oproepe vir my?”

HAVE YOUR SAY

Like the South Coast Herald’s Facebook page, follow us on Twitter and Instagram

Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Exit mobile version