BlogsOpinion

Die sosiale media vermoor die waarheid – ‘n tragiese feit

Dit beteken eenvoudig dat joernaliste die publiek des te meer moet dien met die waarheid wat op deeglik bewese feite gegrond is.

As ’n joernalis wat reeds amper 60 jaar in die bedryf is, het ek sedert ’n dekade gelede alhoe meer bekommerd geraak oor die toenemende negatiewe invloed van die sosiale media op die verspreiding van inligting.

Daarmee gee ek nie te kenne dat die sosiale media in al hul formate net sleg is nie. Inteendeel. Daar is wonderlike platforms wat met die korrekte gebruik ’n groot aanwins vir die hedendaagse lewenswyse is, en wat die kommunikasie tussen entiteite in die plaaslike en internasionale gemeenskappe, en tussen mense, hul gesinne en ander belanghebbendes soveel makliker en vinniger maak.

Ek probeer ook nie voorgee dat die sg. Hoofstroommedia, wat in die jongste tyd amper ’n vloekwoord geword het in die oë van groot sosiale media-aanhangers, sonder foute is nie. Ver daarvandaan. Daar is publikasies wat hul eie agendas het, en wat sekere beleids/denkrigtings bevorder en prioritiseer.
Hier in Suid-Afrika het koerante van die Independentgroep die hoofstroom-joernalistiek groot skade berokken met ‘fopnuus’ en onwaar berigte, en die beste voorbeeld hiervan is waarskynlik die reeks stories oor die geboorte van ‘n tienling in Pretoria, waarvoor daar nog geen bewyse gevind is nie. Daar is ook talle ander voorbeelde, veral in die buiteland, waar die HSM oortree het en dit nog steeds doen.

Dit beteken egter nie dat die spreekwoordelike baba met die badwater uitgegooi moet word nie. Daar is talle publikasies, radio- en TV-stasies van die HSM wat streef na feitelike, waar, betroubare inligting. Dit beteken nie dat hulle nie hul eie redaksionele voorkeure het ivm. bv. politieke partye, klimaatskwessies, internasionale gebeure en dies meer nie.

Hulle het ook spesifieke teikengehore, en hul inhoud, veral menings en redaksionele standpunte, word dienooreenkomstig geformuleer. Iets waarmee daar nie fundamenteel fout gevind kan word nie. Mits die waarheid oor nuusgebeurtenisse nie geïgnoreer word nie.

Natuurlik sal daar verskille wees oor HSM-media se onderskeie redaksionele standpunte, en kykers/luisteraars/lesers het die volle reg om nie daarmee saam te stem nie. Die probleem is egter ’n betekenisvolle groep wat nie met die redaksionele standpunte saamstem nie, verwerp dan die medium, al verkondig die medium nie feitelike onwaarhede nie, en beweeg na die sosiale media wat hul eie ideologiese of ander standpunte ondersteun, maar wat nie skroom om blatante en bewese onwaarhede te verkondig nie, en wat dan deur die gehoor geglo word.

Of die kritici van die HSM dit nou glo of nie, dit is ’n feit dat die gerespekteerde media ‘hekwagters’ in hul nuusstrukture het om te verseker feite en die waarheid ly nie skade nie. Nie in verband met menings en politieke standpunte nie, wat uiteraard subjektief is na gelang van die gehoor se eie sienswyses, maar nuusgebeure.

’n Goeie voorbeeld van hoe ‘n blatante, bewese onwaarheid deur die sosiale media versprei word, is die stelling dat Donald Trump die verkiesing van 2020 gewen het. Hyself en die sosiale media wat hom ondersteun, is steeds besig om dit te verkondig. En dis eenvoudig ’n bewese leuen.

Om al bg. redes, het die stigterredakteur van die Suid-Afrikaanse Daily Maverick, Branko Brkic, ’n veldtog met die naam ‘Choose Truth’ internasionaal begin as deel van vanjaar se Wêreld-nuusdag op 28 September. Dis die eerste projek van Brkic se ‘Project Kontinuum’, word wêreldwyd deur 800 vennote ondersteun, en is die bloudruk vir toekomstige samewerking.

Die doel van die veldtog is om die kritieke rol van die joernalistiek oral ter wêreld te beklemtoon. Ook om die publiek te help om te onderskei tussen egte nuus en gerugte of valshede vermom as feite, iets wat alhoe moeiliker word in die huidige tydsgewrig van Kunsmatige Inligting, digitaal gegenereer deur bronne wat daarop uit is om openbare onenigheid met kwaadwillige disinformasie te saai.

Dit beteken eenvoudig dat joernaliste die publiek des te meer moet dien met die waarheid wat op deeglik bewese feite gegrond is. Op hierdie manier moet ’n gemeenskaplike verstandhouding tussen die publiek en joernaliste geskep word om die belange van die publiek te dien. Dit is veral belangrik omdat die Reuters-instituut aan die Universiteit van Oxford vroeër vanjaar nà ‘n studie verklaar het oor die hele wêreld wantrou die ‘meeste lede van die publiek die meeste van die nuus die meeste van die tyd’. Daarom moet daar ’n vaste verbondenheid aan betroubaarheid wees.

Ook aan akkuraatheid en regverdigheid, dmv. ’n deursigtige proses om die feite te verifieer wat die grondslag van die waarheid is. Brkic wys daarop betrokkenes moet ook aanvaar dat hulle dikwels op ’n gegewe tyd net die ‘beste weergawe van die waarheid’ sal hê, onderwyl meer inligting ingewin word, en indien foute gemaak word, moet dit reggestel word. Dis ’n tydlose waarheid dat feite uiters kompleks is, dat die waarheid nie altyd ooglopend is nie, en dat die joernalistiek as beroep ook feilbaar is.

Brkic maak talle ander weldeurdagte stellings waarvoor ons nie hier ruimte het nie, en sy toewyding tot die waarheid en gehalte-joernalistiek is ooglopend. Soos die Daily Maverick oor die afgelope 14 jaar in Suid-Afrika bewys het met sy gehalte-joernalistiek en ontbloting van onder meer die omvang van staatskaping in Suid-Afrika.

Hoe dit ookal sy, indien die joernalistiek as beroep nie daarin slaag om die publiek met ‘Choose the Truth’ te laat besef hoe erg die bedreiging van disinformasie en leuens in die sosiale media is nie, wag daar donker dae op ons almal. Baie, baie, stikdonker dae.

HAVE YOUR SAY

Like the South Coast Herald’s Facebook page, follow us on Twitter and Instagram

You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button