BlogsOpinion

Hluhluwe-iMfolozi wen die stryd teen renosterstropery

Dit lyk asof die pynlike besluit om die horings te verwyder van die wêreld se bekendste renosterbevolking oor die afgelope ses maande vrugte afgewerp het.

Die Pretoriusse het verlede week dokumentêre programme oor renosterstropery op DStv te siene gekry wat, om die minste te sê, hoogs-ontstellend was. ’n Deel van die boodskap in hierdie programme was nietemin positief en het besonderhede verskaf oor wat gedoen word om hierdie diere vir die nageslag te bewaar.

My donker gemoedstoestand hieroor is egter die naweek aansienlik verlig deur ’n artikel in die Daily Maverick deur Tony Carnie oor die welslae wat deesdae in KZN se Hluhluwe-iMfolozireservaat behaal word om hierdie euwel te bekamp.

Verlede jaar is daar gemiddeld 26 renosters per maand in hierdie reservaat gestroop. ’n Nood-onthoringsprogram is begin, en die stropings het vanjaar met 80% afgeneem. Dit lyk asof die pynlike besluit om die horings te verwyder van die wêreld se bekendste renosterbevolking oor die afgelope ses maande vrugte afgewerp het.

Carnie berig hierdie nuus is bekend gemaak deur die Wêreldwye Natuurfonds (WWF), wat betekenisvolle geldelike en ander steun verleen het aan die provinsiale Ezemvelo Wildbewaringagentskap om met ’n onthoringsprogram te begin in die reservaat van 96 000 hektaar in sentraal-Zoeloeland. Sowat 150 jaar gelede was die Suidelike witrenoster oor die hele Afrika feitlik uitgesterf weens onbeheerdse jagtogte.

Dit het gelei tot die totstandkoming van die Hluhluwe-iMfolozi-reservaat in 1876. Teen 1920, het minder as 100 van hierdie diere oorleef. Oor dekades hierna, het die gewese Natalse Parkeraad die oorlewendes opgepas en met spesiale teel- en bewaringsprogramme daarin geslaag om die witrenosterbevolking só uit te brei dat daar genoeg diere was om aan die Nasionale Krugerwildtuin geskenk te word, en ook aan talle ander reservate waar hierdie renosters uitgesterf het.

Toe die genadelose jag op hierdie diere groot verliese in die Krugerwildtuin en ander reservate ernstige afmetings begin aanneem het, het reservaatbestuurders begin met onthoringsprogramme om die diere mindere teikens vir die stropers te maak. Daar is drie jaar gelede begin met die onthoringsproses van renosters in die Krugerwildtuin. Ezemvelo het teen hierdie drastiese optrede besluit, maar het ernstige verliese begin ly toe die kriminele sindikate hulle op ander reservate begin toespits het.

Dit het in April verander toe Ezemvelo en die WWF begin het met ’n uitgebreide onthoringsproses. In ’n mediaverklaring het die WFF verlede Donderdag bekend gemaak die stropery het sedert die begin van die operasie met 80% afgeneem. In hierdie reservaat alleen is 307 renosters teen ’n gemiddeld van 26 per maand gestroop, maar hierdie syfer het nou tot enkelsyfers per maand afgeneem.

Slegs vier renosters is in Junie gestroop, agt in Julie en vier in Augustus, in teenstelling met amper dertig per maand voordat die onthoringsproses begin is. Weens sekuriteitsredes word die getal renosters wat in die reservaat oor is, nie verskaf nie, maar volgens betroubare inligting is meer as duisend renosters se horings verwyder. Tydens die proses is minstens agt renosterkalfies wat deur stropery wees gelaat is, gered.

Die WWF se Suid-Afrikaanse bestuurder van die renosterbewaringsprogram, Jeff Cooke, het daarop gewys dat renosterstropers gewetenloos is en dikwels koeie met klein kalfies doodmaak, en die kalfies aan hul eie lot oorlaat. “Gelukkig is hierdie agt kalfies tydens lugpatrollies van die onthoringsprogram opgemerk en gered.”

Die WWF het ook verklaar tesame met die onthoringsprogram, het die veiligheidskapasiteit van die Hluhluwe iMfolozi-reservaat stadig maar seker verbeter, met meer sekuriteitskameras, ‘slim grensdrade’ en die ontplooiing van spoorsny- en opsporingshonde.

Baie van die onthoringde renosters is toegerus met opsporings-toestelle om hul toekomstige bewegings te monitor. Hierdie toestelle word normaalweg aan die oorblywende horingstompie aangeheg.

Cooke het die harde werk en toewyding van die betrokkenes by die onthoringsproses aangeprys, maar gewaarsku hoewel die stropery drasties afgeneem het, kan die owerhede nie hul waaksaamheid verslap nie. ‘Ons weet die kriminele sindikate is voortdurend op die uitkyk vir gapings in die veiligheidstelsel en sal dit blitsvinning uitbuit’.

Saam met die goeie nuus dat die onthoringsprogram onmiddellike dividende afgewerp het, kom ook die waarskuwing dat die stroping van renosters nou na kleiner reservate kan beweeg waar renosters nog horings het. Om hierdie rede het die bestuurders van die Babanango-private wildreservaat in die noorde van KZN vandeesweek aangekondig dat die renosters in hierdie wildtuin ook onthoring is.

Alhoemeer reserwes en wildtuine begin nou hierdie desperate stappe doen, maar selfs die onthoringde renosters word soms teikens sodat hul oorblywende horingstompies gestroop kan word. Bestuurders van reservate is ook bekommerd dat die aansienlike koste van die onthorings-aksies nie gereeld oor die langtermyn volhoubaar is nie. Hierdie veldtogte is afhanklik van skenkersgeld, en hierdie skenkings kan ‘opdroog’ of afneem weens wat bestempel word as ‘skenker-moegheid’.

Hoe dit ookal sy, bg. verwikkeling is wonderlike nuus vir natuurliefhebbers en veral die mense van ons provinsie KZN. In ‘n stadium het dit gelyk asof die ikoniese Hluhluwe-iMfolozi-reservaat se renosters mettertyd uitgewis sou word, maar toegewyde lede van die publiek, reservaat-amptenare en vrygewige skenkers het dit, al is dit net tydelik, gestuit.

Ons kan net hoop en bid dat die skenkersgeld vir hierdie reddingsaksie sal bly vloei, en dat daar terselfdertyd op internasionale gebied doeltreffende stappe gedoen sal word om hierdie hedendaagse euwel te stuit.

HAVE YOUR SAY

Like the South Coast Herald’s Facebook page, follow us on Twitter and Instagram

You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button