BlogsOpinion

Nog ‘n naweek van rugbyspanning lê voor

"Met rustyd was dit gelykop, en die Lionsmanne het besef hul span was dalk aan die herstel."

Ons kan maar net nie wegkom van die rugby nie. Verlede naweek was dit weer een van daardie Saterdae waartydens die Watergat propvol rugby-ondersteuners van vier verskillende rugbyspanne was met die eindstryd om die Curriebeker op die spel.

Die meerderheid was natuurlik Sharksmense, soos ekself, maar hier was heelwat Lions saam met Oom Pottie, en dan natuurlik ’n hele klomp Vrystaters wat op die Suidkus kom aftree het, en ’n groep Blou Bul-aanhangers op ’n gholftoer.

Wat ’n spannende en genotville ervaring. Sommer in die eerste tien minute van die kragmeting tussen die Lions en die Cheetahs op Ellispark, het die Lionsmanne in hul biere gestik en die Vrystaters was die uitbundigheid vanself.

Met rustyd was dit gelykop, en die Lionsmanne het besef hul span was dalk aan die herstel.

Dit was ’n wonderlike wedstryd om dop te hou, met skitterende drieë deur albei spanne.

Toe die Lions Sanele Nohamba en Morné Brandon (waar kom hy vandaan?) egter met skouspelagtige individuele drieë vorendag kom, was dit duidelik die Lions is in die eindstryd.

Nodeloos om te verklaar, Oom Pottie het op sy eie, persoonlike wolkie rondgesweef.

Die volgende wedstryd was seker die spannendste in jare hier by ons. Sharks-ondersteuners wat gekyk het, sal weet.

Ook besef dat die Bulle hulself grootliks kan blameer dat hulle verloor het, hoewel die Sharks ongelooflike deursettingsvermoë getoon het, veral met die verlies aan drie spelers aan die einde.

Daar is waarskynlik groot trauma in Jake White se kontrei, en ek wonder wat hy agter geslote deure aan sy span te sê gehad het.

Vir die oud-Shark Boeta Chamberlain sal daardie amper-oor-skop aan die einde vir seker vir die res van sy lewe by hom spook.

Ewenwel, nou is dit die Sharks en die Lions.

Die Lions is vanjaar ’n skittterende span, en hoewel die uiteindelike spankeuse van die Sharks ’n groot invloed gaan hê, dink ek nogtans die Sharks behoort hulle op Ellispark te klop.

Hulle het net te veel ervaring en groot name. Pottie se antwoord hierop was ‘You wish’. Kom ons kyk.

’n Nuusgebeurtenis wat ’n hele paar dae die onderwerp van bespreking was, was die stelling van Donald Trump tydens die debat met Kamala Harris dat asielsoekers/immigrante uit Haïti op ’n Amerikaanse dorp die inwoners se troeteldiere eet.

Veral toe dit aan die lig kom dat die stelling van alle waarheid ontbloot is.

Die pro-Trump besoekers aan die Watergat het wal gegooi maar die anti-Trumpers se argumente was deurslaggewend.

Groot meningsverskille ja, maar ons het in die breë saamgestem dis tragies dat ’n Amerikaanse presidentsverkiesing tot so ’n banale vlak gedaal het.

Hoe dit ookal sy, ons moet onsself maar gereed maak vir ’n onstuimige twee maande in die Amerikaanse politiek.

Al gedink wat gaan gebeur indien Trump die verkiesing sou verloor, hy weier om die uitslag te aanvaar, soos in 2020, en hy sy MAGA-ondersteuners aanmoedig om weerstand te bied?
Nag. Donker nag.

Om mee af te sluit:
Die onderwyser vra die klas om ‘n sin te maak met ‘bo my vuurmaakplek’.
Sannie: “My rok is so kort dit sit bo my vuurmaakplek”.

HAVE YOUR SAY

Like the South Coast Herald’s Facebook page, follow us on Twitter and Instagram

You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button