BlogsOpinion

EQ: Weet ons werklik hoe belangrik dit is?

Dit het uiteraard ’n groot impak op ’n mens se eie gedrag en interaksie met ander.

Hierdie joernalis het eers baie laat in sy lewe verneem van en kennis gemaak met die begrip emosionele intelligensie or EQ. En besef hoe belangrik, eintlik onontbeerlik, dit is vir goeie menseverhoudinge, ’n ewewigtige lewens-uitkyk en ook sukses in ons alledaagse bestaan.

Ek het met die koms van die nuwe eeu net meer as 20 jaar gelede daarvan gehoor, kennis geneem van die definisie, en om my geheue te verfris verlede naweek verskeie betroubare internetbronne daaroor geraadpleeg.

Die beweegrede was ’n artikel wat Afrikaans.com aan die SC Fever oor die onderwerp gestuur het. Dis opmerklik in die internetbronne dat daar bitter min meningsverskille is oor wat dit presies behels.

Die begrip is relatief nuut, en is in 1985 bekend gestel. In 1990 is dit die eerste keer in die sielkunde nagevors, en vandag besef sielkundiges, psigiaters en lewensafrigters die absoluut kardinale belang van emosionele intelligensie.

Die basiese definisie van die begrip is die vermoë om jou eie emosies te erken, te verwoord en te reguleer, maar belangriker nog, om die emosies van ander rondom jou te verstaan sodat jy met empatie en begrip kan reageer, jouself kan reguleer om by die omstandighede aan te pas en stres te hanteer.

Dit het uiteraard ’n groot impak op ’n mens se eie gedrag en interaksie met ander.

Hoe ’n mens gemoed bepaal, en dmv. emosionele intelligensie ’n manier toepas om met ander mense interaksie te hê wat hulle na jou toe aantrek, is ’n bepalende faktor.

Dit het gevolglik ’n beslissende invloed op mense se verhoudings in die algemeen en sukses bv. van kinders op skool, of volwassenes by hul werk.

Lewensafrigters wys daarop dat onkunde en luiheid dikwels die rede vir ’n lae vlak van emosionele intelligensie is, en dat baie mense nie die harde werk wil doen om hul emosies te herken en bemeester nie.

’n Belangrike waarheid is dat mense nie met emosionele intelligensie gebore word nie. Dit moet soos enige ander vaardigheid aangeleer en verbeter word.

Daar is toepaslike kursusse, sg. lewensafrigters of sielkiundiges wat kan help. Soos een sielkundige dit gestel het: “Jy moet vrede maak met ’n klomp goed. Jy moet verstaan hoe dit werk en dan moet jy dit begin toepas.”

Ouers kan hul kinders ’n groot guns bewys deur dit van kleins af by hulle in te prent.

In die artikel van Afrikaans.com wys Annelie van Jaarsveldt daarop IK was nog altyd beskou as die belangrikste bepaler van sukses, maar deesdae word emosionele intelligensie belangriker geag.

Daarom speel ouers ’n deurslaggewende rol om hul kinders emosioneel intelligent groot te maak. Wat is die eienskappe van ’n kind met emosionele intelligensie?

Van Jaarsveldt skryf dit is die sogenaamde ‘maklike’ kind – die kind wat homself ken, homself aanvaar en kan sê hoe hy voel. So ’n kind het gewoonlik ook ’n goeie selfbeeld en weet hoe om met sy maats om te gaan.

Dit is die kind wat sy speelgoed maklik deel (dit is natuurlik ouderdomsgepas, want wanneer hulle kleuters is, is dit nie altyd so maklik nie en moet dit nog aangeleer word). Dit is ook die kind wat sy beurt kan afwag en wat graag sy maats help.

So ’n kind het gewoonlik ook die vermoë om konflik, hartseer, woede en teleurstelling te hanteer – juis omdat hy sy eie emosies verstaan en homself dus kan reguleer.

Die emosioneel intelligente kind het respek vir ander se gevoelens en waardes en word nie sommer negatief beïnvloed nie – want as ’n mens se emosies onder beheer is, dink jy voor jy doen.

Van Jaarsveldt sê dit klink dalk alles baie volwasse, maar daar moet in gedagte gehou word emosionele intelligensie is iets wat ontwikkel – dit het dus baie met ouderdom en omstandighede te doen – en ons moet ook nooit ons kinders onderskat nie.

Die ouers se rol is om hul kinders te help en leiding te gee oor hoe om hulle gevoelens of emosies te erken en op gepaste wyse daarop te reageer.

Dit gebeur van babatyd af – waar dit belangrik is hoe jy op sy gesigsuitdrukkings reageer – dis hoekom gereelde oogkontak en reaksie op sy emosies so belangrik is.

Staan kwaliteittyd aan jou kind af – speel, gesels en hier van ses maande af – begin sy gevoelens verwoord – “Is jy honger? Is jy moeg?”

Die kleuter wat negatief en gefrustreerd optree, moet leer uit jou voorbeeld – daarom mag jy nooit uit woede optree nie. Gee jou kinders die geleentheid om sosiaal met ander kinders te verkeer. Wys hom jy is trots op hom, help hom om te sê hoe hy voel en help hom om die gevoelens ’n naam te gee.

Van Jaarsveldt skryf dit is egter onmoontlik om jou kind en ander se emosies te erken alvorens jy nie self eers leer om jou emosies te verwoord en te hanteer nie. Myns insiens ooglopend waar die proses kan ontspoor. Hoe leer ’n ouer wat self geen emosionele intelligensie het nie, sy kind?

Bg. inligting is ’n klein deel van die artikel op Afrikaans.com. Vir insiggewende feite, veral vir ouers met jong kinders, besoek die webwerf. Dalk verbeter jou eie emosionele intelligensie ook in die proses.

HAVE YOUR SAY

Like the South Coast Herald’s Facebook page, follow us on Twitter and Instagram

Back to top button