Stiltetyd: Is Jesus Here en Koning van jou lewe?

Pasop dat jy nie in die kraal van die Antichris parkeer nie.

In 1 Johannes 2:18 sê die apostel Johannes dat die Antichris kom en dat daar nou reeds baie antichriste is, omdat dit die laaste uur is. As iemand teen iets is, of ’n standpunt inneem teenoor iets, dan sê ons dat die persoon daarteen is.

Jy kry natuurlik mense wat vir niks staan nie en wat verkies om neutraal te bly as daar standpunt ingeneem moet word. Ongelukkig het Christus reeds gesê dat wie nie vir Hom is nie, teen Hom is. Die vraag is dus waarvoor staan jy? Staan jy bekend as iemand wat standpunt kan inneem, of sou jy as ’n draadsitter bekend staan?

Jy kry natuurlik heethoofdiges wat wel standpunt inneem, maar kort van draad is en sy of haar sienings op ander wil afdwing.

Die Antichris is geassosieer met verset teen God gedurende die eindtyd, soos verpersoonlik in ’n mag of persoon. Die antichriste of teenstanders het volgens 1 Joh 2:19 uit die geledere van die Christelike gemeente weggegaan omdat hulle nie wou erken dat Jesus werklik die mensgeworde Christus is nie.

Uit eie geledere, uit die binnekring, waar ’n mens dit die minste sou verwag, het die antichriste of teenstanders te voorskyn getree, net soos Judas ook eers deel van Jesus se binnekring was.

Die anti-Christelike standpunt het onder andere daarop neergekom dat Jesus Christus nie werklik mens geword het om versoening en vergifnis te bring nie.

Hulle ontkenning van Jesus se Messiasskap wys dat hulle in die kraal van die duiwel hoort. Dit is immers die hartklop van die gemeente se belydenis dat Jesus die Messias is, die Seun van God.

Soms maak ‘n mens se hardnekkigheid, soms hul eie idees, dat hulle nie meer die volle evangelie aanhang nie.
Later word hulle so oortuig van hulle eie idees dat hulle hulself glo.

Die uiteinde is dat hulle Christus teëstaan en word so deel van die gees van die Antichris wat in die wêreld werksaam is. Waar staan jy? Is Jesus net ’n goeie rolmodel of is hy die Here en Koning van jou lewe? Volg jy in Sy voetspore of volg jy jou eie idees oor Jesus?

Pasop dat jy nie in die kraal van die Antichris parkeer nie.

HAVE YOUR SAY

Like the South Coast Herald’s Facebook page, follow us on Twitter and Instagram

Exit mobile version