Die ouderdom, O, die ouderdom

"Vroulief is twee jaar jonger, met meer skete, maar ook redelik gesond, maar albei van ons baie geseënd van Bo en mateloos dankbaar daarvoor."

Die uwe het twee groot gebeurtenisse die afgelope paar weke beleef. Laat in Julie het vroulief en ek na ’n aftree-oord verhuis, en vroeg in Augustus het ek die 80-mylpaal bereik.

Nooit, ooit gedink ek sou dit tot hier oorleef nie, maar ek het. Goeie algemene gesondheid, maar met verskeie lastige skete. Vroulief is twee jaar jonger, met meer skete, maar ook redelik gesond, maar albei van ons baie geseënd van Bo en mateloos dankbaar daarvoor. In my eie geval oor die afgelope jare ’n galblaas wat verwyder moes word, ’n diagnose van slaap-apnee wat meegebring het dat ek met ‘n masker moet slaap om te sorg dat ek normaal asemhaal en genoeg suurstof inkry.

Soos ek voorheen hieroor geskryf het: Dis die goeie nuus. Die skete is die slegte nuus. Hoewel nie lewensbedreigend nie, deel van die daaglikse lewe van ’n bejaarde.

In my eie geval oor die afgelope jare ’n galblaas wat verwyder moes word, ’n diagnose van slaap-apnee wat meegebring het dat ek met ‘n masker moet slaap om te sorg dat ek normaal asemhaal en genoeg suurstof inkry.

Die periodieke snorkery het verdwyn. Hoewel die hartfunksie nie verswak het nie, is ’n monitor onder die vel in my borskas ingeplant wat seine na ‘n kardioloog toe stuur wanneer my hartklop versteur word deur ’n periodieke onnodige impuls.

Ek drink medikasie om die hartklop normaal te hou, en dit werk perfek.

Ek het jare gelede drie sinus-operasies ondergaan, redelik suksesvol, maar het deurentyd gesukkel met ’n swelsel onder die die oë.

Iets wat onlangs vererger het, maar niks meer is as ’n irritasie nie. Medici kon nie vasstel wat dit veroorsaak nie. .

Hierdie persoonlike geskiedenis word nie genoem om simpatie te wek nie, maar om aan te dui die ouderdom het ’n prys vir almal. Vir sommiges laag. Vir ander hoër.

Ons is deeglik bewus daarvan daar is talle bejaardes oral wat baie, baie swaar kry weens wisselende omstandighede, en vir wie die ouderdom ’n straf is.

Soos talle Feverlesers beslis sal weet. Ons is die bevoorregtes.

Baie van ons vriende, kennisse en familielede het dit nie tot hier gemaak nie.

Covid, hart-aanvalle, dementia en die gevreesde kankersiekte het onder meer daarvoor gesorg. Selfs op relatiewe vroeë ouderdomme.

Van die bejaardes wat nog lewe, se lewensgehalte is nie goed nie. Selfs uiters sleg en aan die einde van die lewenspad.

Daarbenewens kan almal nie goeie mediese sorg bekostig nie.

Boonop is die mediese sorg deur staatshospitale op plekke uiters swak. Baie van ons wat goeie mediese sorg kan bekostig weens mediese fondse, besef nie hoe erg die situasie is vir mense wat nie mediese fondse kan bekostig nie.

Dan praat ek nie eens van wat onder die ander bevolkingsgroepe, waar werkloosheid en erge armoede algemeen is, gebeur nie.

Ons bejaardes moet noodwendig in ons eie besondere omstandighede die beste van ’n slegte saak maak.

Ek het die verouderingsproses lankal aanvaar en daarmee vrede gemaak. Wat anders kan ’n mens doen?

Ek het dit in ’n vorige artikel genoem, maar ek dink nog gereeld aan ’n uitspraak jare gelede deur die bekende omroeper en senior bestuurslid van die Afrikaanse Diens van die SAUK, en ‘n man met een van die mooiste uitsaaistemme wat ek in my lewe teëgekom het, Pieter de Bruyn.

Tydens ’n spanbou- en bestuursopleidingsessie van die SAUK het hy laat in die aand, nadat ons almal in die wingerd gaan kuier het, met ’n moedelose stem sy lot bekla.

Hy was toe al reeds oor die sestig, en het iets gesê wat in my geheue vasgesteek het.

“Ek begin nou besef,” het hy meewarig gesê, “hoe ouer ’n mens word, hoe f*kk*lder en f*kk*lder word jy.”

Almal het geskaterlag, veral ons jongeres, min wetend wat op ons wag en hoe waar daardie woorde was.

Soos ek self uitgevind het toe ek onlangs my rekenaarkontrak met ’n selfoonverskaffer wou opgradeer.

Alles het goed gegaan totdat my vingerafdruk geregistreer moes word om te bewys ek is wie ek is.

Ek het albei duime verskeie kere op die masjientjie geplaas, maar sonder sukses.

Niks het geregistreer nie, want daar was niks om te registreer nie. Nie een van my twee duime het enioge vinger-afdrukke oor nie. Glad, met net plooitjies. Sug.

Ten slotte. Ek het onlangs op die volgende skryfsel op die internet afgekom.

Indien nagevolg, sal ons bejaardes se lewens soveel draagliker wees: “Geseënd is hulle wat altyd verstaan. As ek bewend moet tas of struikelend gaan. Wat weet dat my ore met moeite kan hoor.

Dat ek maklik die draad van die storie verloor. Geseënd is hulle wat self sommer weet. Dat my oë al swak is en ek maklik vergeet. Geseënd is hulle wat kastig nie sien. Dat ek koffie gemors het toe hulle my bedien. Geseënd die wat lus het om rustig te wag.

Terwyl ek vertel van my eensame dag; Wat nooit sal verwyt of humeur sal verloor nie. Al vertel ek dieselfde ou storie weer oor.

Geseënd wie ook al deur die newels kan dring. Om gisters weer helder na vore te bring. Geseënd as hulle my op my dag laat voel. Dat hulle liefde en agting opreg word bedoel, Wat verstaan as my kragte my weifelend laat vra: “Hoekom is my kruis soms so swaar om te dra? Wat die las help verlig met hul liefde vir my. Op die skof wat my eindelik Huis toe sal lei.”

HAVE YOUR SAY

Like the South Coast Herald’s Facebook page, follow us on Twitter and Instagram

Exit mobile version