BlogsOpinion

Louw Wepener – een van ons dapperste voorsate

Louw Wepener se nalatenskap is groot.

Van kleins af is die uwe vertel van ’n man met die naam Louw Wepener, ’n dapper en onverskrokke man wat sy lewe in ’n oorlog teen die Basothos verloor het. Vandeesweek het ek afgekom op ’n artikel oor sy dood op 15 Augustus 1865, vandag (Donderdag) presies 159 jaar gelede.

Toe ek dit op die webwerf weet lees en daarna meer besonderhede op Wikipedia kry, het ek besluit om hierdie stukkie geskiedenis met lesers van die SC Fever te deel. Baie interessant, en help om hierdie rubriek seinhoud af te wissel.

Louw Wepener se volle name was Lourens Jacobus Wepener. Hy is op 21 Julie 1812 op Graaff-Reinet gebore. Sy ouers was Frederik Jacobus en Johanna Maria Wepener, wat albei oorlede is toe hy nog ’n jong seun was, en hy het by sy oom, Lourens Erasmus, grootgeword.
Hy was ’n slim skolier, maar het ’n timmerman geword en later in die Somerset-distrik begin boer. In 1850 het hy na die Aliwaldistrik getrek en op die plaas De Nek geboer. In 1840 trou hy met Hester Nel, wat net drie maande na die geboorte van hul seun Frederik, oorlede is. In 1843 trou hy met Hilletjie Durand, ’n weduwee met vier kinders. Hulle het drie seuns en drie dogters gehad.

Wepener het nie soos sy broers saam met die Groot Trek uit die Kaapkolonie vertrek nie. Hy het tussen 1834 en 1853 aan drie grensoorloë teen die Xhosas deelgeneem, eers as ’n veldkornet en later ’n kommandant. Hy was bekend as ’n dapper soldaat en goeie leier.

Toe die Eerste Basotho-oorlog in 1858 in die Vrystaat begin as gevolg van ’n gronddispuut, het Wepener dadelik soontoe gegaan. Ná die oorlog het hy in die Republiek van die Vrystaat aangebly en in 1862 vir hom twee plase in die Bethulie-distrik gekoop met die name Constantia en Moordenaarspoort.

Wepener was toe ’n waarnemende kommandant en het gou die bevelvoerder van al die Boere se suidelike magte geword en het talle gevegte gewen.

In hierdie tyd het die Basotho hom ‘Swartmaanhaar’ begin noem as gevolg van sy groot, swart baard en omdat hy ‘soos ’n leeumannetjie vroeg die oggend op sy prooi spring’.

In die Tweede Basotho-oorlog in 1865 is Wepener tot kommandant bevorder.

Op 8 Augustus het die eerste aanval op Thaba Bosigo, ’n sterk en intimiderende bergvesting met ’n fontein en oop stuk grond bo-op die berg waar baie mense en beeste saam gebly het, misluk.

Reg rondom was hoë kranse sodat dit baie moeilik was om op die berg te kom. Die offisiere onder leiding van Hoofkommandant, generaal Fick, was nie seker watter taktiek om te volg nie, en toe hulle uiteindelik vir kommandant Wepener die opdrag gee om die berg weer aan te val, was baie tyd reeds verkwis.

Die Boere was ook nie almal gewillig om aan die aanval deel te neem nie.

Uiteindelik het Wepener en ’n klein groepie vrywilligers teen die berg opgeklim terwyl die Basotho van bo af op hulle geskiet het.

Die Basotho het ook groot klippe van die berg af op die Boere afgerol.

Die groep het ver teen die Khublupas tot naby die kruin opgevorder, maar Basothosoldate het hulle uiteindelik gesien en Wepener is doodgeskiet.

Die Basothos het die groep gestorm en nog elf Boere is dood en 30 gewond.

Twee van Wepener se manskappe, Carl Mathey en Chris du Randt, het in die nag na sy lyk gaan soek en dit in ’n vlak graf geplaas, langs Adam Raubenheimer, nog ’n gesneuwelde boer.

Hy is hierna op Thaba Bosigo begrawe deur ’n Franse sendeling, Dr Prosper Lautre.

Elf maande later het Louw se seun Dick, en vier vriende die berg opgegaan en die koning se seun, Tladi, het hulle na die graf geneem en meegedeel Wepener se hart is in stukkies gesny en deur die krygers geëet omdat Koning Moshoeshoe geglo het sy soldate sou ook so dapper soos Wepener word.

Dick en sy vriende het sy pa se liggaam na die familieplaas Constantia geneem om herbegrawe te word.

Louw se seun was later die lid vir Wepener in die Vrystaatse volksraad.

Hy was ook landdros op Zeerust en Heidelberg in die destydse Transvaal. Louw Wepener se nalatenskap is groot: Die dorp Wepener is in 1867 gestig.

Daar is ’n skool met die naam Louw Wepener Gekombineerde Skool. ’n Bronsbeeld van Wepener is in 1965 op Wepener opgerig.

Daar is strate met die naam Louw Wepener in onder meer Bloemfontein, Alberton, Sedgefield, Vanderbijlpark en die Nelson Mandelabaai-munisipaliteit.

In Bethulie is daar ’n monument ter ere van Wepener, ’n borsbeeld deur die bekende beeldhouer Coert Steynberg. FW Reitz het ’n gedig geskryf met die titel ‘Ter nagedagtenis aan kommandant Louw Wepener’.

In 1941 is daar ’n monument op sy graf naby Bethulie opgerig.

Hy is ook deur die SA Weermag vereer. Van 1952 tot 1975 is die Louw Wepener-toekenning vir buitengewone heldemoed aan soldate gegee.

Van 1967 tot 1975 is die Louw Wepener-medalje vir dapperheid met die redding van lewens toegeken. Daar was vir ’n aantal jare ’n weermageenheid wat die Louw Wepener-regiment genoem is.

Voorwaar ’n besondere man.

HAVE YOUR SAY

Like the South Coast Herald’s Facebook page, follow us on Twitter and Instagram

Back to top button