BlogsOpinion

Die Lorriesmous: Wat nou gemaak?

Dalkies moet hy ‘n oorlewingkursus vir die nuwe geslag lorriesmouse aanbied!

In die leerskool van sy bedryf is Neels uitgedaag deur probleem-situasies wat nie in handleidings vervat is nie. Hy het ‘n lywige lêer vol sertifikate en toekennings in sy onderste laai weggesteek. Daarenteen het die tegniese- en finansiesmanne hulle plakkate geraam en uitgebasuin op hulle se kantoormure. Dit was egter onontbeerlik om al die opleidingkursusse en seminare by te woon. Die lorriesmous wat sy sout werd is, moet sonder om te dink, sy biltong reg en eweredig kerf met ‘n vlymskerp Rogersmes. Dog die groot meester blyk steeds meneer Ervaring  te wees. Daarom was Neels se wagwoord: ek leer elke dag iets nuuts. Die ergste leerskool was toe Thys Petoors een aand sy kantoor binneslinger.

Neels het hom nie gesteur of laat bestuur deur vasgestelde werkure nie. Op ‘n keer hou hulle lekker vakansie in Margate van die middel Desember tot eerste week van die nuwejaar.

Twee dae voor Kersfees bel die direkteur: Neels, Prins Makatini van Maseru was vanoggend opsoek na jou. Hy het ‘n bankwaarborg  saamgebring dat jy maar sy 35 ton platbak kombinasie kan aflewer. Daar is net een kinkel in die sage; jy moet die aflewering op oujaarsdag voor twaalfuur die middag in Maseru waarneem.. Die bankamptenare staan gereed vir jou. Ek het dit so bevestig. Hierdie plotselinge roep van die kwêvoël was nie te veel gevra van Neels nie. Die fat lady het duidelik en helder gesing toe Neels tien voor twaalf by sy huis opdaag, betyds om die oujaar te groet. Neels kon die punch vat.

Pixabay

Vanaand voel Neels nie lus om te korswel met kollegas of na sy eenmanhuis te gaan nie. Sy kantoor is sy vriendelike geselsplek, soms sonder enige besoekers. So het hy in sy allenigheid gesit en peins met ‘n skuimkoppie byderhand en RSG uit die hoek. Die klop aan sy deur was indringend. Kom binne, nooi Neels die laatkommer om die deur oop te maak.. Die deur word met mening oopgemaak en Rooi Thys kom op onvaste voete nader. Saam met hom gooi hy ‘n brandewynwalm wat Neels duiselig laat. Neels wip uit sy stoel en help Thys in ‘n ordentlike leunstoel. In sy hand klem hy ‘n halwe bottle Bols vas. Neels bied aan om vir hulle ‘n ordentlike dop uit Thys se bottle te skink, met genoeg ys en coke. Neels het al die toebehore byderhand gehad.

Hy vra Thys die rede vir sy laat en dringende besoek. Thys se hand reik na iets in sy leerbaadjie se binne sak. Hy trek ‘n langloop 38 special uit en plaas hom netjies op die lessenaar neer. Met gevoel praat Thys duidelik sonder sleeptong:  vanaand gaan ek daai skelm Cap van Tonder blaas. As jy dink ek praat nonsens dan trek ek nou ‘n skoot af deur jou yskas, daar bly nog vyf oor vir mister slimgat van Tonder.

Sy stem bulder so erg dat die teekoppies begin tril op hulle pierings.

Neels bly kalm en laat die stilte terug keer. Jy is heeltemal reg Thys, daai skelm het jou ingedoen. Voor jy ry om hom te looi, vertel my presies wat die vark jou aangedoen het. Neels se strategie is in die kol. Thys leun terug en sê: maak my glas eers goed vol met ‘n trippel, dan sal my tong losraak. Neels staan op en plaas sy hand op Thys se skouer. Praat gerus met my so lank as jy wil en as jou keel droog raak, druk op my knoppie. Neels het Thys Petoors ‘n aks onderskat. Thys se vertelling het begin toe hy sy eerste dertigtonner by Neels gekoop het. Na ‘n paar maande het hy Neels aan Cap van Tonder van die Potch distrik voorgestel. Cap en Thys het om die beurt daarna by Neels hulle vloot aangevul.

Thys was ‘n hoogaangeskrewe transportman met een kraak in sy mondering; die bottel se voggies. Op ‘n keer moes Cap vir Thys uit die verknorsing red met duidelike voorwaardes, behoorlik opgestel en onderteken by Cap se prokureur. Een van die voorwaardes was dat Thys nie weer aan’t suipe sou raak nie. Nadat Neels amper een van sy voorraad moes uitskink om Thys se stem te olie en die kort wyser op pad middernag is, staar Thys hom met leë oë aan. Sy laaste sin kom roggelend uit sy keel: toe stuur die vark die balju en hy lê beslag op my laaste en enigste lorrie….

Supplied

Soos ‘n trok wat homself doodtrek teen ‘n steil bult in die verkeerde rat, ruk Thys agteroor en staar leweloos na die plafon. Neels tel Thys uit die stoel en lê hom gemaklik neer op die kantoormat. Thys is so uit soos ‘n kers en sal nie eers bykom sou hy  in die rivier beland nie. Neels se strategie het weer vrugte afgewerp. Hy bel vir Elsie, wederhelf van die gevalle soldaat. Gelukkig is sy ‘n teatersuster en weet hoe om met Thys te werk. Dis nie die eerste keer dat Thys haar versorging nodig gehad het nie. Neels het inderwaarheid ‘n potensieële tragedie ontlont.

Van skietysters en ketties gepraat; Neels was nie ‘n versamelaar of verbruiker van wapenarye nie. Tog moes hy op ‘n keer in die donker gaatjie kyk.

Neels; nie op sy bek geval nie, het die brawe vent stip in die oë gekyk en duidelik dog kalm gegrom: As jy die sneller trek, maak seker jy gee my die doodskoot. As jy my kwes, raak ek erger besete as ‘n gekweste buffelbul!

Neels merk die gaping en haak ‘n merkwaardige vaskop. Hy skuif ongesiens nader en druk die loop grond toe. Sy regter hand doen die afwerking en gryp die skietding uit die vent se hand, so maklik soos die driemaal-tafel opsê. Neels het hierdie skietlustige ‘n blywende les geleer; respekteer jou skietyster.

Gewapen met ‘n wettige bevelskrif, knip Neels se span die osketting se slot van die swaar plaashek. In die verte staan drie dertigton- kombinasies, perde met hulle drie-as leunwaens. Die Koper, wat ses paaiemente agterstallig geraak het, steek die voertuie weg op ‘n plaas deuskant Heilbron wat hy die afgelope drie maande huur. Dit het meer as Aardrykskunde geverg om die voertuie op hulle nuwe domicilium op te spoor.

Neels se span op die insleeptrok is gewapen met vol gelaaide batterye, twee dromme diesel en ‘n kas gereedskap. Neels klim uit sy 528i en knor vir die lastige blaffende brakke. Sy manne werkskaf naarstigtelik sonder enige geluid of beweging vanuit die plaasopstal. Toe die laaste Cummins gebloei is en hy op die derde draai hik en proes, kom mevrou Tredoux, die javel se wederhelf met vinnige  lang tree op Neels afgestap. Sy is in ‘n beneukte bui en het ‘n vlieëplak in die hand waarmee sy beduie: Meneer, jy soek vir groot moeilikheid. Swiets ons lorries se enjins af. Vat jou span en neuk van ons plaas af. Gert is in die kombuis en hy lê aan op julle met sy 303.

Pixabay

Neels kan hom nie verder beteuel nie: Mevrou Tredoux, gaan praat mooi met jou man. Waarsku hom dat as hy die skoot  aftrek en my kwes, raak ek besete. Dan wil niemand in sy skoene staan nie!  Sy draai om dat haar voorskote wapper en langtree terug kombuis toe. Nou por Neels sy span: Julle is seker klaar dat ons kan laat loop. So gesê, so gemaak. Baie geruisloos en besadig ry die stoet, met Neels, wat die agterhoede dek, neffens die opstal se kombuis verby. Niemand kyk links of regs nie, net met oë stip vorentoe. Geen skoot is afgetrek nie.

Die terugnames is veilig after slot en grendel in die agterjaart van die besigheid geparkeer. Mnr Goldstein klop Neels op die skouer met ‘n breë glimlag. Neels se oë val oor die pad voor hulle vertoonkamer en merk Gert en sy beneukte vrou wat bak-arm uit hulle bakkie klim. Abie, ek dink jy moet rustig in jou kantoor gaan sit en uit die geweervuur bly. Sonder om te klop storm Mevrou vooraan met Gert op haar hakke, by Neels se kantoor in. Neels vat die wind uit hulle seile: sit gerus, ek het julle al vroeër verwag. Hier is die drie lorries se lêers en die hofbevel wat terugname gelas weens agterstallige betaling en verandering van woonadres sonder om ons, die regmatige eienaars, in te lig.

Pixabay

Het julle enige vrae in die verband? Gert kom met ‘n lae volume stem aan die woord: wat word nou van my drie tippers wat ek ingeruil het op die transaksie? Neels bly vir ‘n halwe minuut doodstil: met ‘n skalkse glimlag antwoord hy vir Gert: Jou drie tippers het jy as deposito aangebied en soos die verkoopdokumente aandui, is die waarde verreken teenoor die verkoopprys. Iedergeval, die tippers het ek aan ‘n man van Zambië verkoop, met ‘n redelike wins. Die Tredouxs se monde hang verslae oop.

Neels kom nou ernstig aan die woord: Gert, julle het met ons besigheid gedoen en ons stel ons kliënte se aangeleenthede hoog op prys. Ek verdryf julle nie uit my kantoor of skel op julle nie. Daar is slegs ‘n derde van die oorspronklike koopsom uitstaande. Ek gee julle die versekering dat ek die lorries nie sal verkoop as julle binne sewe dae die volle balans betaal nie. Gaan praat met jou neef, jou vrou se skoonfamilie. Hulle is gesiene mense in die Riemland.

Neels betrag homself  gewoonlik in die badkamerspieël na hy  geskeer het. Hy knipoog vir homself: Met ‘n rapsie geluk staan hy nog bokant die grond om oor die Lorriesmous se hinkstappe en binnebreke te peins. Soms was dit so hittetitte of hy was bokveld toe. Dalkies moet hy ‘n oorlewingkursus vir die nuwe geslag lorriesmouse aanbied!

Hannes van der Westhuizen.

 

Hannes van der Westhuizen was born, raised and educated in Pretoria. He tried varsity, did not like it and took up a job with Lever Brothers.

 A colleague suggested they try being salesmen after reading a newspaper ad.  On his first assignment, Hannes managed to get a large corporation in Kimberley to buy calculators and once he was handed his first commission cheque, he was hooked on sales.

Hannes was head-hunted by a truck sales company and was completely smitten.  He and his proper love, wife Elma, retired to Anerley where they enjoy being beachcombers.

 

Back to top button