BlogsOpinion

Die Lorriesmous: Die stoere boer

Neels, die lorriesmous, ry op ‘n dag verby Kleintjie se werksplek en gooi ankers toe hy ‘n vlamrooi Mustang op die vloer sien staan.

Anderkant Sannieshof  lê die Dippenaars se spogplaas. Hier het Kleintjie, gedoop Arnoldus  Gerhardus Stephanus, saam met sy twee broers en vier susters groot geword. Hulle pa, ryg, fier en seningrig, was ‘n gesiene man in die kontrei. Voorsitter van die kerkraad, die politieke party, boerevereeniging en dan ook lid van die provinsiale raad: ‘n gerekende man wat met ‘n seekoeisambok kon prentjies inkleur.

LEES OOK: Die Lorriesmous: Slim vang sy baas

Hy was so sterk as ‘n beneukte friesbul en kon met een blits van sy staalblou kykers die kinders bed toe stuur. Sy grofgewerkte hande kon ook ‘n vervlakste garingtjie met eenslag deur die naald se oog trek. Inderdaad was sy melkkudde, mielielande en lusernvelde tekenend van sy berekende sake vernuf en dissipline. Sy uithaler boervrou,  Gertruida, was sy skaduwee en sielsgenoot. Kleintjie se saad het voorwaar in vrugbare grond geval.

Kort voorlank was Kleintjie se susters getroud met voor die wind boerseuns uit die distrik. Hy en sy twee broers het meer betrokke geraak op die plaas, veral toe hul pa, by almal bekend as Uil, die politieke verhoë betree het. Uil se name was dieselfde as Kleintjie s’n en sy vrou het hom haar Uiltjie genoem.

Die grootste rede om die seuns meer betrokke op die plaas te kry, was toe Uil se regterarm op onverklaarbare wyse in die hamermeul afgeslaan is, kort bokant die elmboog. Sy linkerhand het weldra behendig geraak;  skryf, kar bestuur en selfs dasknoop was kinderspeletjies.

Kleintjie was nie ‘n gebore boer nie en is met die lusernlanderye opgesaal. Op ‘n dag roep hy vergadering met sy pa en broers. Hy skud die sak patats gou uit; Pa, ek en Riana van Potjiestroom wil trou en haar pa wat die bestuurder van die Ford garage is, het my ‘n posisie as motorverkoopman aangebied. Uil, wat sy seuns se samestellings ken, vra dat hulle moet stem oor Kleintjie se planne, Die uitslag was eenparig en kortvoorlank is Kleintjie en Riana getroud en hy ingeburger as karverkoopman. Kleintjie was flink in meer as een opsig en spoedig is hulle derde meisiekind gebore en gaan dit klopdisselboom by die werk.

En so staan die noodlot ook nie opsy nie.  Neels, die lorriesmous, ry op ‘n dag verby Kleintjie se werksplek en gooi ankers toe hy ‘n vlamrooi Mustang op die vloer sien staan. Dis Kleintjie se vloerspasie en hy staan bedeesd orent toe Neels  by die Mustang  oem en aah. Maar die affêre kos dan meer as ‘n dertig ton Louisville wat ek smous, verdedig Neels sy teenkant met die Mustang.

Net daar ontmoet die karsmous en lorriesmous mekaar neffens die Mustang en groei ‘n welige gemeenskaplike soeke na voorspoed tussen hulle.

En die noodlot sak tevrede terug in sy gemakstoel, Opgewonde bel Kleintjie laat die Maandagaand en maak afspraak met Neels om ‘n transaksie te bespreek. Dinsdag ontmoet hulle in die Royal vir ‘n sake ete. Watse gogga steek nou kop uit, skerts Neels. Ek wil ‘n splinternuwe dertigtonner by jou koop, en Kleintjie smak sy rooietjie weg. Dis nie ‘n kriminele oortreding om lorrie te koop nie en met die regte kontrak kan jy groot geld maak, antwoord Neels.

Die kontrak is met Mister Niehaus se kunsmisfabriek en my pa sal die lorrie op sy naam koop, beaam Kleintjie en teken die order sonder huiwering. Dit klink na ‘n reënbui op die knersvlakte en spoedig spyker Neels die transaksie aanmekaar.Na ‘n week of drie is die twee nuutgevonde kamerade gereed om die pad na Sannieshof aan te durf met die blinknuwe dertigtonner vir die veelbesproke aflewering.

Met dagbreek is Neels en Kleintjie oppad met die dertigtonner na sy pa se plaas. Neels is gewapen met die huurkoopdokumente en paraat vir enige gebeurlikheid. Hy dryf die trok en soos die kilometers aanrol, word die rit ‘n drywer-opleiding en sakevernuf-leerskool in die vervoerbedryf vir Kleintjie se onthalwe.

Met die son loodreg, draai Neels regs in op die plaaspaadjie. By die opstal is daar ‘n beroering toe die drie honderd en vyftig perdekrag monster tot stilstand kom.

Kleintjie se broers, swaers en susters asook die dominee het kom kyk hoe lyk Kleintjie se nuwe bedryf. Daar is onrus in die lug toe Uil naderkom en Kleintjie en Neels versoek om neffens in die wilgerboom se skadu te versuim terwyl daar binne die eetkamer kajuitraad gehou word. Kleintjie weet van niks wat aangaan nie, ook nie dat die dominee gevra is om die gesprekke ordelik te hou nie. Neels besef dat Uil man alleen teen sy kinders se veto reg staan, hulle wil nie hê pa moet die lorrie koop nie.

Dis virseker dat Uil en sy teenkant vir Neels in die pekelwater gaan indompel. Die geruis in die eetkamer raak stil en Uil wuif vir hulle om nader te staan. Die eetkamer is opgestel nes ‘n raadsaal. Neels en Kleintjie se stoele staan oorkant die slagordes wat alreeds opgestel is. Ma Gertruida het besluit om op die draad te sit en hiekel in die oorkantste hoek. Uil sit in die voorsitterstoel en na die bekendstelling aan mekaar en die doel van die agenda, open dominee met gebed.

Na die gebed knik Uil vir Neel om skuins voor die sprekersposisie in te neem. As verkoper van die dertigtonner moet hy ondermeer die voertuigspesifikasie, kosteberekening en winsmarges aan die twyfelbende verduidelik. Hierdie is Neels se grondgebied en hy ontknoop die vervoerbedryf in ongekende detail. Op ligter trant sluit hy af met die cliché, transport is inderdaad transports!

Ou dik Servaas wat met ousus getroud is, wil weet wie die lorrie gaan bestuur? Neels het gewag vir hierdie gaping, Dis waar ek tersprake kom met naverkoopdiens aan my kliënt. Ek sal ast’ware in die passasiersitplek langs Kleintjie wees sodat hy nie na die verkeerde rat oorslaan nie. Servaas se blus is nog nie uit nie en wil weet of Kleintjie ‘n kode elf lisensie het.

SUPPLIED

Kleintjie is nie op die bek geval nie en ruk ‘n dokument uit sy binnesak. Kyk pa, hier is hy. Uil kyk en knik instemmend. Jare daarna op Uil en Grieta se sewentigste, vertel hy hoe Kleintjie sy troulisensie aangegee en hy saam gespeel het. Nadat al die kwelvrae op die spit gedryf en uitgelooi is, maak dominee keelskoon en stel voor dat hy Kleintjie se wens sekondeer.

Weer knik Uil instemmend en dominee lees sy vooropgestelde voorname stadig en met duidelike uitspraak wat die transaksie bevestig. Daar hang ‘n ongemaklikheid in die stilte en Uil grom soos ‘n omgekrapte maanhaar: indien daar enige teenkant bestaan om die nuwe lorrie vir my seun by Neels te koop, dan moet daardie persoon nou opstaan en bewese beswaar maak.

Uil se staalblou kykers slaan weerligte in die vertrek. Uiteindelik kom Kleintjie aan die woord: dankie pa, dankie dominee en Neels wat my sake hanteer. Neels kom tot verhaal toe almal alreeds verkas het. Droogweg merk hy op: wanneer gaan dominee afsluit?

Kleintjie is so opgecharge dat hy die wiel vat want hy moet sy lisensie op die dorp gaan regmaak voor die kantoor toemaak. Hy vra Neels om ‘n netjiestoegedraaide doos met twaalf klingelinkse vas te hou. Kwartuur voor toemaak tyd loop Kleintjie met die geskenk onder die arm die lisensiehoof se kantoor binne. Neels begin onrustig raak en net toe kom Kleintjie met ‘n ongewone two step oor die pad aangeloop. Sy glimlag is verblindend en vra Neels om terug te bestuur plaas toe. Hy moes terloops ‘n paar kappe saam met die lisensiemanne maak wat sy kode 11 uitgereik het.

Kleintjie, die seun van die Stoere Boer met die af-arm, het sy eerste dertigtonner by Neels gekoop, ‘n transaksie met sorg geplant wat sou groei tot ‘n welige laning.

Hannes van der Westhuizen.

Hannes van der Westhuizen was born, raised and educated in Pretoria. He tried varsity, did not like it and took up a job with Lever Brothers.

 A colleague suggested they try being salesmen after reading a newspaper ad.  On his first assignment, Hannes managed to get a large corporation in Kimberley to buy calculators and once he was handed his first commission cheque, he was hooked on sales.

Hannes was head-hunted by a truck sales company and was completely smitten.  He and his proper love, wife Elma, retired to Anerley where they enjoy being beachcombers.

 

HAVE YOUR SAY

Like the South Coast Herald’s Facebook page, follow us on Twitter and Instagram

For news straight to your phone, add us on WhatsApp 082 421 6033

Back to top button