Local news

Wouter se Watergat

Wat ’n wonderlike naweek...

Daar was baie naweke in die geskiedenis van die Watergat wat ons diep bedruk gelaat het, maar dan was daar ook dié wat groot plesier en blydskap verskaf het.
Verlede naweek was ongetwyfeld een van hulle.

Die Springbokke verslaan die Wallabies oortuigend met ’n klomp nuwelinge in die span en wen die reeks, die Proteas doen dieselfde teen die Wes-Indiese Eilande, Dricus du Plessis foeter Israel Adesanya goed op, die Sharks wen met ’n skitterende eindpoging, en Oom Pottie se Young Lions gee die WP streepsuiker. Wat meer wil ons hê?

Die rugby was wonderlik, die krieket ook, maar die kersie op die koek vir ons sowat 20 mense van vieruur Sondagoggend af in die Watergat gesit het, was Dricus du Plessis se vertoning.

Hoe lekker was dit nie om Siya en Eben saam met hom te sien, sy sportmangees na die geveg waar te neem, te besef hy het ’n persoonlikheid waarvan feitlik almal hou, en dat hy, ten spyte van die rowwe sport en ewe rowwe teenstanders, hom baie beskaafd en sonder bravado gedra.

Hoop dit bly so. Suid-Afrika kan baie trots wees op hom.

Ons glimlag vir die week kom uit Pottie se argief, nie nuut nie, effens lank, maar een van sy gunstelinge.

Die onderwyseres gee haar graad 5’s ’n werkopdrag: Hulle moet hulle ouers vra om hulle ’n storie met ’n les aan die einde daarvan te vertel. Die volgende dag kom die kinders toe terug en begin een vir een hulle stories te vertel.

Vinesh sê: “My pa is ’n hoenderboer en ons het baie broeihenne. Op ’n dag het ons die eiers in ’n mandjie op die kar se voorste sitplek gesit om dit mark toe te vat. My pa trap die rem, die mandjie val om en al die eiers breek in die kar!”
“Mooi, Vinesh,” sê die juffrou, “wat is die les van die storie?”
“Moenie al jou eiers in een mandjie sit nie,” sê die trotse seuntjie.
“Baie goed,” sê die onderwyseres.

Volgende is dit klein Sipho se beurt.

“Ons het nou-die-dag berg toe gestap en toe sien ons ’n muis wat uit sy gaatjie kom.”

“O?” vra die juffrou, “en wat is die les van die storie?”

“Die berg het ’n muis gebaar, Juffrou,” sê Sipho.

“’O, jaaa, dis seker waar,” sê die onderwyseres.

Toe is dit klein Kosie se beurt.

“Juffrou, my pappie het my vertel van Antie Susanna wat verlede jaar op hulle plaas aangeval is. Sy hoor die alarm by die heiningdraad gaan af, en besef die booswigtegaan die duur bottel brandewyn steel wat sy nou net op die dorp vir Oom Koos as ’n present gekoop het. Sy drink gou die bottel leeg. Sy vat die haelgeweer, patrone en ’n vleismes en wag hulle by die deur in. Toe hulle inkom in die huis, skiet sy vier met die haelgeweer dood, steek twee dood met die kombuismes, en slaan die laaste een katswink met die vuis!”

“Oe, maar dis vreeslike storie!” roep die onderwyseres uit, “watter soort van les kry jou pappie uit so ’n aaklige storie?”

Kosie antwoord: “Bly ver weg van Antie Susanna as sy gesuip is!”

HAVE YOUR SAY

Like the South Coast Herald’s Facebook page, follow us on Twitter and Instagram

Back to top button