Local news

Stiltetyd

Bloot die hoor van die Woord is nie genoeg nie...

Waarin glo jy regtig? Wie is jy? Ons is nie altyd gemaklik met sulke vrae nie.

Die vrae kan egter nie ontduik word nie. Hoe kyk jy na die wêreld?

Wat motiveer jou om die dinge te doen wat jy doen of nie doen nie? Dit gaan hier om die vraag na jou waardes, om die ‘huis’ wat jy bou.

Wat jou motiveer om sekere dinge te doen, of nie te doen nie, jou wêreld en lewensbeskouing, word bepaal deur die waarde wat jy aanhang.

Christus praat in Sy bergpreek (Matteus 5-7) oor die waardes wat belangrik is vir ‘n Christen se getuienis in hierdie wêreld.

Wat is die dinge waarna jy honger en dors, wat jou motiveer om te doen wat jy doen?

Spreek jy die morele verval in jou gemeenskap aan, of dra jy by tot die verval?

Wat sien jou kinders of kleinkinders as hulle op jou voorbeeld let?

Laat jy toe dat bekommernis jou opvreet, of leef jy in kinderlike afhanklikheid van die Here?

Jesus sê dat die hoor van God se Woord nie genoeg is nie. Ons moet Sy Woord ook uitleef.

Dis waaraan ons in hierdie land groot behoefte het; mense wat daders van die Woord is.

Jesus kontrasteer twee bouers met mekaar in Matteus 7:24-29.

Die wyse mens is die man of vrou wat sy lewe bou op die rots van God se Woord. Die dwase mens bou sy huis op die sand van menslike opinies wat nou sus en dan so is.

Daar is baie menings oor hoe ons die morele verval, korrupsie en misdaad in ons land kan aanspreek.

Miskien moet die meer as vyf en sewentig persent Christene in hierdie land net een week lank besluit om te gaan uitvoer wat hulle in die Bybel lees.

Dan bou ons op rots. Wie egter hul eie planne maak en staatmaak op hul eie insigte, bou op sand wat bly verskuif.

Jesus sê dat die storm, die krisis, dit waaraan jy en ek waarde heg, sal toets. Net die huis op die rots sal bly staan. Sal die ‘huis wat jy gebou het’ op die dag van toetsing bly staan?

HAVE YOUR SAY

Like our Facebook page, follow us on Twitter and Instagram

Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Back to top button