BlogsOpinion

Stiltetyd: Waarom word mense in kultusse vasgevang?

Dalk ken jy iemand wat in die greep van ’n kultus is.

Onlangs is in die media weer berig oor die bestaan van kultusse. Kultusse word om ’n persoon of ’n dwaalleer gebou. Soms maak kultusse aanspraak daarop dat hulle Christelik is maar die essensiële waarhede van die geloof, soos dat Christus Hoof van die kerk en ware God en ware mens is, verloën. Kultusse neem dikwels beheer oor mense se lewens oor en maak hulle afhanklik van die leier of leiers van die kultus.

Die vervreem ook die volgelinge van hulle families. Soms word al die geld van die volgelinge opgeëis. Johannes is nogal ernstig daaroor dat Christene voortdurend moet seker maak dat die boodskap wat aan hulle verkondig word die regte boodskap is. Nie alles wat in die naam van Christus verkondig word, is noodwendig die waarheid nie. Daar is baie wat in die naam van Jesus na ons toe kom en lyk soos die regte produk maar dit nie is nie.

Johannes sê dat die kerk in sy dag en dit geld vir vandag ook, op die uitkyk moet wees vir vals profete. Die probleem is dat die nie altyd so maklik is nie. Die Satan doen hom voor soos ’n engel van die lig het die apostel Paulus ook al elders geskryf. Vals profete en kultusse kom immers in die naam van die Here. Vanweë hierdie aansprake glo mense hulle. Moet jou dus nie blind staar teen die verpakking, die blink papier en al die fieterjasies wat godsdienstiges opdis nie. Toets die geeste in gebed en deur die Bybel self te lees of hulle van God kom, leer 1 Johannes 4:1-4 ons.

Miskien is ’n goeie toets, word Christus verheerlik daarin wat geleer word? Staan by die pilare van die oorgelewerde geloof, Christus alleen, genade alleen, die Skrif of Bybel as hoogste bron en geloof alleen as enigste voorwaarde vir redding. Dalk ken jy iemand wat in die greep van ’n kultus is. Om te stry met so iemand gaan dalk die teenoorgestelde effek hê. Bid vir hom of haar en die Here sal jou die geleentheid gee om by sy of haar hart uit te kom. Boweal, getuig van wat die Bybel oor Jesus leer. Aan God alleen die eer.

HAVE YOUR SAY

Like our Facebook page, follow us on Twitter and Instagram

You can read the full story on our App. Download it here.
Check Also
Close
Back to top button