BlogsOpinion

Rassie Erasmus: ‘n uitsonderlike Suid-Afrikaner

"Die land het hiervan kennis geneem dmv. die twee TV-reekse Follow the Sun wat uiters gewild was met die kykers wat eerstehands ingelig is oor wat agter die skerms gebeur."

Noem die naam van Rassie Erasmus op enige veelrassige samekoms, in ’n kuierplek of groepsgesprek in Suid-Afrika, en die kanse is goed feitlik almal teenwoordig, of ’n groot persentasie van hulle sal weet wie dit is. Veral na die huidige sukses van die Springbokke met vier agtereenvolgende oorwinnings teen die All Blacks, en die twee Wêreldbekertitels sedert 2019.

Hy het feitlik kultusstatus bereik nie net omdat hy die Springbokke tot groot hoogtes aangevoer het nie, maar die manier waarop hy dit gedoen het. Hy word wêreldwyd in rugbykringe as baie na aan ’n rugby-genie beskou omdat hy innoverend dink, ongelooflik goed beplan, en bowenal, omdat sy spelers die hoogste respek vir hom het weens die manier waarop hy hulle bestuur.
Die land het hiervan kennis geneem dmv. die twee TV-reekse Follow the Sun wat uiters gewild was met die kykers wat eerstehands ingelig is oor wat agter die skerms gebeur. Die enigste kritiek was die kru taal wat soms gebruik is, maar soos die spelers self daarna verklaar het, dis hoe ons effektief kommunikeer.

Rassie, of Johan, sy oorspronklike voornaam, was self ’n Springbok, provinsiale kaptein en -afrigter. Hy en sy boesemvriend, Jacques Nienaber, wat die Bokafrigter was tydens Rassie se SA rugbyhooftyd, het voor 2019 groot welslae by die Ierse klub Munster behaal, waar hy nou nog lof toegeswaai word.

Sy innoverende denke het die aandag op hom gevestig toe hy destyds bv. op die dak van die Vrystaatstadion boodskappe aan sy span met gekleurde ligte geflits het, en as rugbyhoof as waterdraer op die veld gedraf het met boodskappe aan die Springbokke.

Dit het die argwaan van die internasionale rugbybase ontketen, wat die reëls blitsig laat verander het. By ’n ander geleentheid is hy maande lank by rugbywedstryde geskors omdat hy in ’n video skeidsregterblapse in breedvoerige detail uitgewys het. Die video het uitgelek en hy moes verantwoording doen.

Sy grootste bydrae is ongetwyfeld hoe hy met sy manier van bestuur en spanseleksie die spook van kwotaspelers soos mis voor die son laat verdwyn het. Deur swart spelers se talent te identifiseer en ontwikkel, en ook tydens sy termyn as rugbybaas strukture gevestig het wat hope swart rugbytalent na vore laat kom het, het hy meer gedoen om Suid-Afrikaners van alle rasse agter die Bokke te verenig as enigiemand anders.

Dit was twee naweke na mekaar duidelik sigbaar op die ikoniese veld Ellispark en die Kaapstad-stadion met die wedstryde teen die All Blacks. Die eenheid en samehorigheid tussen wit, swart en gekleurd was iets on te aanskou. Veral die manier waarop die spelers vir mekaar omgee, ongeag hul velkleur, is ‘n toonbeeld van wat hierdie land sal kan bereik as sport die bepalende faktor is en nie die politiek nie.
Die uwe het die samehorigheid self ervaar tydens en op die veld na die wedstryd tussen die Lions en die Cheetahs op Ellispark verlede Saterdag. Dit was lekker om te sien hoeveel jong swart kinders en hul ouers saam met hul wit eweknieë saamdrom vir fotos met die verskillende spelers en hul handtekeninge, ongeag hul ras.

Dit het ’n groot indruk op my gemaak, veral omdat ek, op dieselfde Ellispark, jare gelede, nooit sou kon dink dit sou eendag gebeur nie.

Veral nie ’n blanke pa wat sy twee jong seuntjies aan Rabz Maxwane oorhandig vir ’n foto met elkeen se sitvlak op sy heupe nie, aldrie met groot, wittand-glimlagte.

Rassie het reeds ’n ere-doktorsgraad van die Universiteit van die Vrystaat vir sy bydrae tot SA rugby en menseverhoudings, en dis ’n uitgemaakte saak dat hy vorentoe prestige-toekennings van die regering en elders sal ontvang.

Met die lees van sy outobiografie kom ’n mens agter hy, en sy gesin, moes soos talle ander rugbyspelers en hul geliefdes, groot opofferinge maak.

Beroepe soos dié van Rassie eis dikwels hul tol, hy was geen uitsondering nie. Sy huwelik het onlangs in die proses gesneuwel.

Hy verwys in die biografie na gesondheidsprobleme wat hy ondervind het, en het ’n week gelede vertel hoe die medikasie wat hy drink sy blaasfunksie affekteer. Op Ellispark moes hy noodgedwonge by ’n vrouetoilet ingaan om sy nood te verlig, met nogal komiese gevolge.

Die ooglopende vraag is nou: Wat maak ons indien Rassie nie meer daar is nie? Hoe lank sal hy kan voortgaan?

Global Sports News berig die voormalige Springbok-losskakel en -kaptein, Naas Botha, meen Rassie moet so lank as moontlik die Bok-afrigter bly.

Botha sê onderwyl Erasmus so goed vaar moet daar nie eens gedink word aan ’n opvolger nie.

Indien hy fisies daartoe in staat is, kan hy nog 20 jaar aanbly, want hy is nog relatief jonk, is Botha se mening.

Teen die Wêreldbeker-toernooi van 2027 sal Rassie sowat tien jaar saam met die Bokke wees, en daar is geen rede waarom hy nie ook daar kan wees met die Bokke in die toernooi van 2031 in Amerika nie. As Rassie die beste man vir die werk is, moet hy daar wees, het Botha gesê.

Ek stem saam. Maar sal Rassie dit nog wil doen? Sal sy gesondheid hou? Sal hy nog lus wees daarvoor? Net die tyd sal leer.

HAVE YOUR SAY

Like the South Coast Herald’s Facebook page, follow us on Twitter and Instagram

You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button