BlogsOpinion

Staar ’n nuwe epidemie SA in die gesig?

Die Departement van Gesondheid het Suid-Afrikaners 10 dae gelede verseker die uitbraak is steeds onder beheer. Dit beteken egter nie dat ons oorgerus moet raak nie, want Covid 19 het bewys virusse is onvoorspelbaar omdat hulle gereeld muteer.

Die meeste van ons het die afgelope tyd kennis geneem van ’n siekte met die naam Apokke, voorheen Aapokke (Monkeypox, of Mpox in Engels ) wat jare gelede in die Republiek van die Kongo ontstaan het, en die afgelope tyd op verskeie plekke in die wêreld voorkom, hoofsaaklik in Afrikalande, die afgelope tyd ook in Suid-Afrika.

Die uwe het verskeie onlangse berigte ivm die siekte gesien en besef het dis noodsaaklik dat deeglik kennis geneem word van die erns, verspreiding en simptome daarvan. Verskeie bronne op die internet en nuusplatforms gee breedvoerige uiteensettings daarvan, en daar kan aanvaar word indien die siekte se verspreiding nie gekeer word nie, dit in ’n groot probleem oor die hele planeet kan ontwikkel, veral in Afrika.

Die uitbraak is aanvanklik in Afrika geïgnoreer en kan weens sy gevolglike verspreiding in ’n nuwe wêreld-pandemie ontwikkel. President Ramaphosa het reeds sy kommer uitgespreek oor die vinnige verspreiding van die siekte in die Afrika-Uniegebied, maar Professor Adrian Puren, die Uitvoerende Direkteur van die Nasionale Instituut vir Aanmeldbare siektes sê daar is geen rede tot paniek nie, mits die nodige stappe gedoen word.

Die Departement van Gesondheid het Suid-Afrikaners 10 dae gelede verseker die uitbraak is steeds onder beheer. Dit beteken egter nie dat ons oorgerus moet raak nie, want Covid 19 het bewys virusse is onvoorspelbaar omdat hulle gereeld muteer.

Daarom hou die Departement die saak baie fyn dop, werk nou saam met ander lande, veral in Afrika, en relevante internasionale liggame soos die Wêreld-gesondheidsorganisasie om die verspreiding van die siekte te keer. Die Departement het ‘n beroep op Suid-Afrikaners gedoen om op hul hoede te wees, en veral streng persoonlike higiëne toe te pas om hierdie aansteeklike, maar behandelbare siekte te beveg.

Teen 18 Augustus, is 24 gevalle in Suid-Afrika, en drie sterftes, aangemeld. Negentien mense het herstel, en twee was in tuis-isolasie. Twaalf gevalle is in Gauteng geïdentifiseer, 11 in KwaZulu-Natal, en een in Wes-Kaapland. Enigiemand, ongeag geslag, ouderdom, seksuele oriëntasie of rassegroep kan die siekte opdoen.

Die huidige epidemiologiese data toon dat mense wat HIV-positief is en mans wat seks het met mans, tuberkulose- en suikersiektelyers die grootste risiko loop om besmet te word. Van die simptome van Apokke is ’n veluitslag wat twee tot vier weke kan duur, koors, hoof-, spier- en rugpyn, energieloosheid en geswolle kliere. Die uitslag lyk soos sere of waterblase, en kan voorkom op die gesig, hande, handpalms, voetsole en in die lies.

Die inkubasietyd (tyd vanaf blootstelling tot aanvang van simptome) wissel van vyf tot 21 dae. Die duur van simptome is tipies twee tot vier weke. Daar kan ligte simptome wees, maar dit kan voorkom sonder dat enige simptome bekend is.

Die Minister van Gesondheid, Joe Phaahla het onlangs bevestig dat daar tans vier soorte entstowwe teen Apokke in die wêreld is, maar dat daar nog geen entstowwe teen die virussiekte deur die Suid-Afrikaanse Gesondheidsproduktebeheerrraad (Sahpra) goedgekeur is nie. Hy het Sahpra versoek om ondersoek oor die enstowwe in te stel. Die voorkeur-entstof in die VSA wat toegedien word om jou teen Apokke te beskerm is JYNNEOS, wat ’n twee-dosis-entstof is.

Die eerste 10 000 inentings teen die virus, geskenk deur Amerika, kom vandeesweek na ’n groot vertraging in Afrika aan, nadat dit reeds in meer as 70 ander lande buite Afrika beskikbaar was. Die amptelike redes vir die vertraging word aangegee as die hoë koste van die entstof en WGO-rompslomp.

Veral kinders en swanger vroue in die Oos- en Suider- Afrikalande is die kwesbaarste. Meer as 200 bevestigde gevalle is teen verlede week in Burundi, Rwanda, Kenia, Uganda en Suid-Afrika bevestig, die meeste van hulle in Burundi.

Apokke kom by mense en sommige diere voor. Die siekte word veroorsaak deur ’n soönotiese virus in die genus Orthopoxvirus, en die variola-virus, die veroorsakende agent van pokke, was ook in hierdie genus. Van die twee tipes by mense, veroorsaak die Wes-Afrikatipe ’n minder ernstige siekte as die Sentraal-Afrika- of Kongokomtipe. Dit kan aangesteek word deur die hantering van bosvleis, dierebyte of -skrape, liggaamsvloeistowwe, besmette voorwerpe of ander noue kontak met ’n besmette persoon.

Verspreiding kan plaasvind deur klein druppels en moontlik die lugroete. Mense kan die virus versprei vanaf die begin van die simptome totdat die rowe afgeval het. Daar word aanvaar dat die virus normaalweg onder sekere knaagdiere in Afrika versprei.

Sporadiese gevalle kom gereeld in Sentraal- en Wes-Afrika voor, en dis hoogs-endemies in die Demokratiese Republiek van die Kongo. Die eerste gevalle onder mense is in 1970 in die DRK gevind. Dis vir die eerste keer in 1958 as ’n afsonderlike siekte onder laboratorium-ape geklassifiseer, en die eerste gevalle buite Afrika het in Mei 2022 in Brittanje voorgekom.

Daar is geen bekende genesing nie, en die Pokke-entstof is sowat 85% effektief om Apokke te neutraliseer. Die jongste sterftesyfer is tussen drie en ses present, en die meeste pasiënte herstel. Die WGO het op 23 Julie 2022 tot ’n ‘openbare gesondheidsnood van internasionale kommer’ verklaar.

Asof ons nie reeds genoeg bekommernisse het nie.

HAVE YOUR SAY

Like the South Coast Herald’s Facebook page, follow us on Twitter and Instagram

Back to top button