BlogsOpinion

Wie staan by jou in goeie en slegte tye?

Die Bybel gebruik vyf keer die woord Parakleet en gewoonlik is dit God die Heilige Gees wat dié naam kry, behalwe in 1 Johannes 2. Jesus is hier Parakleet.

Om iemand vier en twintig uur te hê wat aan jou kant is, aan jou sy staan, langs jou staan in goeie en slegte tye kan gerusstellend wees.

1 Johannes 2:1 sê dat ons Iemand aan die regterhand van die Allerhoogste God het wat vir ons intree by die genadetroon van God.

Hy word genoem die Parakleet.

Die Griekse woord beskryf iemand wat geroep is om te help, om aan iemand anders bystand te verleen, vir iemand ’n voorspraak te wees, of iemand se pleitbesorger, iemand wat aan jou troos bied omdat dié persoon vir jou in die bres tree.

Soos ’n prokureur of ’n advokaat namens, vir jou en in jou belang sou optree, is jou Parakleet iemand op wie jy kan reken om jou saak te behartig.

Die Bybel gebruik vyf keer die woord Parakleet en gewoonlik is dit God die Heilige Gees wat dié naam kry, behalwe in 1 Johannes 2. Jesus is hier Parakleet.

Jesus staan in ons plek voor die Vader. Ons kan dalk eerder die woord Parakleet hier vertaal met bemiddelaar.

Wat is die rol van ’n bemiddelaar? Hy tree vir iemand in.

Dis wat Jesus doen 24-7 aan die regterhand van die Vader, dag en nag in jou wat in Hom glo as Here en Verlosser se belang.

Dis baie bemoedigend om te weet dat ons ’n bemiddelaar het aan God se regterhand.

Kom ons gebruik ook die voorbeeld van ’n rugbywedstryd.

Soms laat ’n speler die bal val, slaan aan en maak dat die ander span punte aanteken. Dit kan dalk die gang van die wedstryd bepaal. Is dit die einde van die speler se loopbaan? Nee. Die afrigter haal nie summier die speler van die veld af nie.

Toe Jesus die apostel Petrus vertel het dat hy wat Petrus is Jesus gaan verloën, was dit nie die einde van Petrus nie.

Jesus het vir hom gebid dat sy geloof nie ophou nie. Ons slaan almal soms die bal aan. God gooi ons nie uit die span uit nie. God sit ons terug in die spel. Hy gee ons om Christus wil weer ’n kans. Dit is ons troos. Wie staan jou by in goeie en slegte tye?

HAVE YOUR SAY

Like our Facebook page, follow us on Twitter and Instagram

Back to top button