South Coast Fever

Donald Trump nou verseker van die presidentskap?

Opinion piece by Wouter Willemse.

Nooit gedink dat Donald Trump gesprekke hier in die Watergat totaal sou oorheers nie. Maar hy het.

Feitlik elkeen van ons ‘regulars’ en die meeste van ons besoekers uit ander provinsies het op die een of ander stadium daarna verwys.

Wil julle nie daarmee verveel nie, maar bloot bevestig dat diegene van ons wat die man nie kan verdra nie, dit eens was dat wat met hom gebeur het, totaal verwerplik is.

Dit was in reaksie op ’n paar stemme wat gemeen het hy verdien dit en het daarna gesoek met sy gedrag en retoriek. Ons het hulle gou op hul plek gesit.

’n Groot meerderheid van diegene wat kommentaar gelewer het, was egter van mening dat hy nou verseker is van ’n verkiesingsoorwinning, veral omdat President Biden finaal bewys het hy het ouderdomsprobleme.

Stem saam, maar soos Oom Pottie ons daarop gewys het, ’n week is ’n baie lang tyd in die politiek, en die verkiesing is nog vier maande in die toekoms. “Maar soos dinge nou lyk,” het Pottie verklaar, “is Donald en Melania binnekort weer in die Withuis.”

Saterdag se rugby was nog een van daardie teleurstellings wat in die laaste minuut van ’n wedstryd gebeur, en weereens het een punt die verskil gemaak.

Nietemin, die Iere het hul oorwinning verdien met ’n soliede vertoning en die Springbokke wat vir hul eie ondergang verantwoordelik was.

Die Iere se voorspelers was net te goed, en as die nie vir Handré Pollard met sy 100-persent rekord vir die wedstryd was nie, het ons verder verloor.

Ongelukkig was hy ook die speler met ’n swak aangee aan Cheslin Kolbe wat ’n oop doellyn voor hom gehad het.

Nou wag Portugal in Bloemfontein op die Bokke. Indien ons hulle nie met meer as 50 punte klop nie, sal ek verbaas wees.

Ons loopstorie kom van Jan Gerber van Roodepoort:

Vier ouerige mans speel gholf. Gert, Piet en Dolf spog die een na die ander oor hul seuns, wetende dat Marius se seun vir die ander span kolf.

Gert: “My seun het vanjaar buitengewoon goed gedoen. Hy het soveel geld gemaak hy het ’n splinternuwe huis aan ‘n vriend van hom geskenk.”.

“Jislaaik,” sê die ander.

Piet spog: “Wel, my seun het ook soveel geld verdien hy kon ’n splinternuwe Lamborghini aan ’n vriend van hom skenk.”

“Genugtig,” sê die drie vriende.

Dolf laat nie op hom wag nie: “My seun se rykdom het so toegeneem hy kon ’n vriend saamneem op ’n bootreis om die wêreld. Trouens, hulle is nou iewers op die Middellandse See.”

“Knap gedaan,” beaam die ander drie.

Die vierde speler, Marius, kry sy spreekbeurt en die ander drie maak hulle gereed om lagbuie te onderdruk.

“Wel, soos julle weet, my seun is homoseksueel. Hy het netso goed gedoen. Een van sy ‘lovers’ het hom ’n splinternuwe huis gegee, nog een het ’n Lamborghini aan hom geskenk, en ’n derde het hom saam op ’n uitgebreide bootreis geneem. Trouens, hulle is ook nog nie terug nie.”

’n Doodse stilte het neergedaal en die gholfronde was summier verby.

HAVE YOUR SAY

Like the South Coast Fever’s Facebook page

Back to top button