South Coast Fever

Stiltetyd

Kom ons besef weer ons afhanklikeid van die Here...

Soms wil mens net jubel. Veral wanneer die Here uitkoms bring. Het jy rede om te jubel? Dit sal dalk help as ons ons seëninge tel.

Natuurlik is daar van ons lesers wat deur moeilike tye gaan en nie die krag het of lus voel om hul seëninge te tel nie. Hulle voel dalk dat die lewe teen hulle is.

Daar is egter ook die goeie dae wat jy eenvoudig soos die Psalmis in Psalm 144 wil jubel. “Die Here my rots moet geprys word. Hy is my vertroueling, my bergskuiling, my beskutting, my bevryder, my skild. By Hom skuil ek.”

Mens wil so in jou geestesoog die Psalmis sien staan op ‘n hoë berg en hoor hoe hy voluit die lof van God besing. Dit borrel uit hom. Hy kan bykans nie ophou nie.

Geen wonder dat die Psalmis so kragtig en heldhaftig na vore tree nie. Die Here maak hom kragtig. Maak van hom ‘n dapper krygsman. ‘n Held wat nie terugdeins nie. Nie ‘n bang haar op sy kop nie.

Hoe vergelyk ons met die Psalmis? Miskien steek ons maar sleg af, want ons kla maklik en baie.
Wanneer laas het ons op die bergtop gestaan en gesing tot eer van die Here?
Wanneer laas het ons so kragtig gevoel soos hy en so daadkragtig opgetree?

Ons moet nie die indruk kry dat die Psalmis arrogant was nie. Daadkragtig en heldhaftig ja, maar arrogant, nee.
Hy wonder mos self wat die mens is dat die Here hom wil ken en die mensekind dat Hy aan hom sal dink.

Die mens is so nietig en klein. Ons is verganklik. Ons dae vlieg vinnig verby. Soos ‘n skaduwee gaan ons lewens om. Ons is amper niks. Dat die Here met ons besig bly; ons wil ken en aan ons dink, is ‘n onverklaarbare wonder.

Dit het niks met ons goedheid te doen nie. Dis enkel genade! Kom ons besef weer ons afhanklikheid van die Here.
Al is ons lewe soms bedreig, ons leef met ‘n verwagting, tussen die eerste en tweede koms van Jesus Christus.

Dit op sigself is rede tot jubeling. Jy is geseënd al kan jy net een seëning in herinnering roep.

HAVE YOUR SAY

Like the South Coast Fever’s Facebook page

Check Also
Close
Back to top button