South Coast Fever

Wat het geword van Kersfees?

Wanneer ‘n mens deesdae in hierdie dae deur winkels stap, koerante lees en TV kyk, kan jy nie help om te wonder nie: Wat het van Kersfees en sy ware betekenis geword? Dis nie ‘n nuwe tendens nie, en is lankal reeds wêreldwyd waarneembaar. Waarskynlik omdat die Christendom ‘n opdraende stryd voer om te groei

Wanneer ‘n mens deesdae in hierdie dae deur winkels stap, koerante lees en TV kyk, kan jy nie help om te wonder nie: Wat het van Kersfees en sy ware betekenis geword? Dis nie ‘n nuwe tendens nie, en is lankal reeds wêreldwyd waarneembaar. Waarskynlik omdat die Christendom ‘n opdraende stryd voer om te groei en uit te brei. Veral in Europa, die bakermat van die Westerse beskawing, en ook in sekere dele van Amerika, is die oorblywende kerke vol grysaards, en dié kerke wat reeds leeggeloop het, omskep in restaurante en ander besighede, of staan bloot leeg en vervalle.

Die wense is deesdae oa. ‘Happy Holidays’, ‘Enjoy the season’, en die gevestigde ‘Seasonal greetings’. In my waarnemings die afgelope paar dae was die skaars verwyings na Kersfees feitlik uitsluitlik in Afrikaans, en soms ook op so ‘n manier dat die rede vir die dag geïgnoreer of eenvoudig misgekyk word. Dit beketen nie dat Christengelowiges nie steeds die dag op die gepaste wyse vier nie. Die hiper-kommersialisering daarvan deur sake-ondernemings wie se base nie Christene is nie, ook weens die apatiese houding van mense, wat verklaar hulle is Christene, tesame met ander redes wat ‘n onderwerp is vir ‘n ander gesprek, is egter ‘n onomstootlike feit. Dit het my weer laat dink aan ‘n rubriek wat ek ses jaar gelede raakgelees en ‘n groot indruk op my gemaak het. Dit is geskryf deur Howard Joffe, ‘n bekende Joodse skrywer en uitsaaier van Johannesburg.. Die opskrif was ‘Dis tyd dat Christene Kersfees terugneem’. Ek deel dit weer met Feverlesers:

“Enkele jare gelede het ek in die voetspore van Jesus geloop. Nogal ongewoon vir ‘n praktiserende Jood, maar ek het Sy weg na die kruis op die Via Dolorosa in die ou deel van Jerusalem gevolg. Ek het gestop waar hulle sê Hy het tot stilstand gekom, gerus waar Hy gerus het, en toe aangeloop met die pad soos Hy Sy dood tegemoet gegaan het. Ek was tot daardie dag nie bewus daarvan dat Hy Sy kruis met hom gedra het deur die stad se gangetjies nie, en ook nie dat die tog so pynlik en verskriklik uitputtend was nie.

My reaksie op die ervaring het my heeltemal onkant gevang. Ek het besef die grootsheid van die gebeurtenis het my aangeraak, en ek het geëerd gevoel om ‘n blik te kon kry van ‘n wêreld wat nie my eie was nie. Op daardie oomblik het ek ‘n diep band gevoel met miljoene Christene oor die hele wêreld. En ek was seker dat dit ‘n sleutelboodskap van die spesifieke geloof was. Ek het daardie dag oortuig geword daarvan dat elke Christen moet probeer om te doen en ervaar waaraan ek blootgestel was. Belangriker nog, dat hulle hulle geloof moet koester en die dinge wat hul geloof bedreig, met alle mag beveg. Waarom begin Christene nie met Kersfees nie?

In ‘n politiek-korrekte en oor-sensitiewe wêreld het ‘n bekommerenswaardige tendens ontwikkel: die neiging om Kersfees uit Kersfees te haal. Dit lyk wêreldwyd wil mense verskonend oor Kersfees te wees sodat niemand aanstoot neem nie. Dit word normaal om mense ‘Gelukkige vakansie’ toe te wens pleks van ‘Geseënde Kersfees’. Kersbome word in openbare plekke toegelaat want dit is nie simbolies van die geloof nie, en ons weet Kersvader se kleure is rooi en wit omdat hy so lyk in ou Coca-Cola-advertensies. Dis verwerplik en dom. En betreurenswaardig. As ‘n praktiserende Jood sal mense sê ek het geen reg om my oor ‘n ander geloof uit te spreek nie, maar ek reken die teenoorgestelde is waar. As ‘n nie-Christen, kan ek verklaar dat nie een van ons nie-Christene beledig sal voel indien ons nie ingesluit is in die Christene se Geseënde Kersfeesgroete nie. Ons kan dit verwerk. En indien nie, is dit ons probleem.

Ons kinders sal nie uitgesluit voel nie, en indien wel, is dit dalk goed vir hulle. Die lewensles is dat alles nie net om hulle draai nie, en dat ons vir ander mense moet kan feesvier, en namens hulle gelukkig voel. Ook dat die aarde bestaan uit verskillende gelowe en ervarings. Ek het wonderlike herinneringe aan ritte dorp toe saam met my ouers om na die Kersfeesliggies te gaan kyk. Ek het op die agtersitplek van my pa se Valiant gelê en in verwondering gekyk na die Kersliggies wat verby beweeg. Vandag is die liggies nog daar, maar geen verwysing na Kersfees meer op die kennisgewingborde van Adderleystraat nie.

Volgens ‘n opname deur die Internasionale Studiesentrum vir Nuwe Gelowe is bykans 90 000 Christene in 2016 alleen weens hul geloof doodgemaak. ‘n Derde van hulle deur Islamitiese ekstremiste soos ISIS, en ander deur staats- en nie-staatsvervolging in lande soos Noord-Korea. Dieselfde opname het getoon dat tot 600-miljoen Christene wêreldwyd daarvan weerhou is om hul geloof uit te leef. Christene is dus effektief die mees vervolgde groep mense op aarde. Ek glo dis tyd dat Christene die viering van hul geloof terugneem, en trots daarop wees sonder om geïntimideer te word deur diegene wat te onseker is om dit te kan verwerk. Begin deur Kersfees terug te neem uit die Feesseisoen. Die weggee daarvan het niemand goed gedoen nie, en is verkeerd. Geseënde Kersfees.”

Nogal ironies, maar treffend. ‘n Geseënde Christusfees word Feverlesers toegewens.

HAVE YOUR SAY

Like the South Coast Fever’s Facebook page

Back to top button