South Coast Fever

Wouter se Watergat

Ons het ‘n tipiese week in September ervaar: redelik stil, met baie min besoekers uit Gauteng en die Vrystaat...

Ons het ‘n tipiese week in September ervaar: redelik stil, met baie min besoekers uit Gauteng en die Vrystaat. Meesal ‘locals’ en ‘n klompie Durbaniete wat hier was op ‘n gholftoer. Baie lekker weer, en baie tyd om op die houtdek te sit en oor die oseaan te staar.

Daar was die normale gesprekke oor die toestand in die land, en veral oor die tragiese lewensverlies in die brand in Johannesburg. Teleurstelling oor die Proteas se swak vertoning in die T20-reeks teen die Aussies, en lekker geselsies oor die komende Rugby-wêreldtoernooi. Ivm. die krieket was daar verskeie teorieë oor waarom die Proteas so swak gevaar het, en uiiteindelik was die konsensus, wat ek heelhartig onderskryf, dat Suid-Afrika se beste span nie op die veld was nie. Die enkele veterane wat gespeel het, was verroes. En Temba Bavuma, ten spyte van ‘n oplewing hier en daar, is eenvoudig nie ‘n T20-speler van internasionale formaat nie. Baie goeie vyfdagman en -kaptein, bo-gemiddelde 50-boulbeurtspeler, maar T20? Nee. Daarbenewens kom belowende jonges soos Dewald Brevis en Tristan Stubbs nog nie die mas op nie.

Die opgewondenheid oor die Rugby-wêreldbekertoernooi neem daagliks roe, en ons kan nie wag vir die wedstryd teen Skotland nie. Hoop maar ‘n vervangbare speler word daar beseer sodat Handré Pollard opgeroep kan word. Lelike ding om te sê, maar dis hoe dit is. Ewenwel, aanstaande week sal ons lekker rugby kan gesels. Hopelik met vreugde in ons harte.

Verder niks om te rapporteer nie, behalwe ‘n storie uit die verlede wat weer opgeduik het: ‘n Man se vrou kom nie terug van ‘n inkopierit wat sy die vorige dag onderneem het nie. Hy bekommer hom deur die nag, maar aanvaar sy sal die volgende dag haar opwagting maak. Toe dit nie gebeur nie, gaan hy polisiestasie toe en meld haar verdwyning aan.

Man: My vrou is weg. Sy het gister gaan inkopies doen en is nog nie terug nie. Sersant: Haar lengte? Man: Nie regtig seker nie, gemiddeld vir ‘n vrou, so l.5 meter? Sersant: Gewig? Man:Weet nie juis nie. Het baie gewissel omdat sy gereeld die een of ander ‘minder-eet-en-oefenplan’ volg. Sersant: Haarkleur? Man: Dit wissel, sy verander dit elke paar maande. Waarskynlik donkerbruin. Sersant: Wat se klere het sy aangehad? Man: Dit kon ‘n broekpak gewees het, of ‘n rok. Ek kan nie mooi onthou nie. Sersant: Waarmee is sy weg? Het sy ‘n voertuig gehad? Man: Sy het met my splinternuwe ingevoerde Ford Ranger F-150 King Ranch gery. Dis ‘n viertrek-voertuig met ‘n V-8-masjien met ‘n turbo-aanjaer. Die Ford het ‘n sesgang-handratkas. Die sitplekke is van spesiale Bisonleer wart jy net in Amerika kry. Die vloermatte is van spesiale rubber, en sy sleephak is van spesiaal-versterkte staal om die grootste woonwaens te kan sleep. Hy het die nuutste model radio en DVD-speler, ses plekke vir koeldrankhouers. Die uitlaatstelsel is iets om te sien en hoor. Daarbenewens het ek allooiwiele van Michigan af ingevoer, laat aansit met net die beste Desert Dueller-bande. Hy het ‘n ligte skrapie aan die linkerdeur wat gister veroorsaak is…….my vrou…….my vrou het haar misgis…….my vrou…….. Die man begin onbedaardelik snik en neem ‘n tydjie om tot verhaal te kom. Die sersant sit sy hand op die man se skouer. ‘Moet nou nie bekommerd wees nie, my maat. Wees sterk en hou net moed. Ons het fantastiese speurders. Ons sal jou Ford Ranger kry.’

Like the South Coast Fever’s Facebook page

Check Also
Close
Back to top button