South Coast Fever

Johan Pretorius: ‘n Gebed wat nuwe moed gee vir die toekoms

Suid Afrika se toekoms...

Dis geen geheim nie dat talle Suid-Afrikaners van alle rasse en politieke groeperinge weens sowel gebeure in die land as in die buiteland, in ‘n diep put van swartgalligheid oor die toekoms verval het. Dis oral. Om braaivleisvure, drink- en eetplekke, gesinsgesprekke, en in ons huishouding met die huishulp van baie jare wat in ‘n township bly, en nie uitgepraat kan raak oor al die negatiewe dinge wat daar gebeur nie. Veral oor die verval van die jeug, armoede en toenemde dwelmgebruik wat dreig om hande uit te ruk, die onvermoë van die polisie om wet en orde te handhaaf, erge korrupsie en patetiese mediese dienste. Die huishulp sê alhoemeer ouer swartmense in haar onmiddellike omgewing verlang na wat hulle noem ‘die stabiliteit onder apartheid, ten spyte van die euwels en onderdrukking van die beleid’.

Die uwe was nog altyd van nature ‘n optimis oor die toekoms van Suid-Afrika, ondanks die voldonge feit dat die regerende ANC die land stelselmatig deur hul agterente getrek het. Die afgelope drie maande was daar egter bitter min hoop in my gemoed oor, ten spyte van enkele ligpunte, totdat ek ‘n rubriek in die koerant Beeld se Deurloop gelees het. Dit het my negatiewe gevoel mateloos verbeter, en is geskryf deur ‘n gunsteling van my, Dana Snyman, ‘n joernalis en skrywer wat in hierdie stadium enig in sy soort is met raakvat-waarnemings. Die opskrif is ‘Oggendgebed vir moedelose Suid-Afrikaners’:

“Te maklik vergeet ek van die vrou wat die rooi vlag by die padwerke oral in die land swaai, en van die afgetrede stasiemeester, diep in sy 70’s wat steeds sy eie grasperk sny en beddings skoffel, die horlosie in sy voorhuis presies op tyd. En die lorriedrywer onderweg tussen Richmond en Hanover na vier uur se waaksame slaap in sy Scania op Leeu-Gamka. En die jong man van Oos Londen, ‘n IT-boffin, wat nie die sessyfer-aanbod vanuit Australië aanvaar het nie. En die klinieksuster met die troostende hande op Port Nolloth. En OomJapie van Strydenburg, ’n engel in ‘n insleepbakkie wat gestrande reisigers in sy buitekamer herberg gee. Die aandelemakelaar van Kaapstad wat derduisende rande in Suid-Afrikaanse kuns belê, en die prokureur wat die vrou met die stukkende lip help wie se man ‘n pikswart Mercedes Benz ry en nie onderhoud betaal nie. Die skoolhoof van die Strand wat, nadat drie van sy leerlinge op die N2 doodgery is, ‘n veldtog begin om ‘n voetbrug oor die N2 gebou te kry – en die brug wat toe gebou is tussen die township en sy skool. Die hartchirurg wat aan die oom van die Noordweste sê dis reg, oom, ek doen daardie klep vir oom gratis. Trevor Nyakane se pa en stiefma wat Trevor wou verras en die aand voor sy eerste toets in hul bakkie buite die stadion oornag het.

JC Smith van Yzerfontein wat Woensdag oorlede is terwyl hy mense gehelp het wie se boot omgeslaan het. Oom Koos wat elke oggend die patryse en ander voels op die sypaadjie voor sy winkel voer. Die NG-predikant wat my ‘n ‘Tom Waits-CD gegee het. Stefaans, die regse bomplanter wat liefde begin leef het. Die manne wat Maandagoggende op die lorrie die vullis kom haal. Die oom wat met die Sotho-petroljoggie Zoeloe praat. Die vars teer in die slaggate in Senekal se strate. En die konvooi vragmotors wat voer vir geknelde plaasboere se diere op droeë plekke neem. Die gerestoureerde hotel op Britstown waarin dit voel of jy in Parys in Frankryk is. Die veiligheidswag se flits in die nag voor jou huis. Almal wat nie soos Bheki Cele is nie. Almal wat nie soos daardie bakkieprofeet is wat op ‘n kerkkamp in st. 7 geestelik ophou ontwikkel het en almal verwyt wat in 1992 se referendum vir hul drome eerder as hul vrese gestem het.

Almal wat besef om teen mislukte regering en korrupte leiers te protesteer alhoe meer onafwendbaar word, wat Diettrich Bonhoeffer, die Duitse teoloog wat deur Hitler laat hang is, se woorde instinktief aanvoel: “Ons moenie net die wonde verbind van slagoffers wat deur die wiel van ongeregtigheid vertrap word nie. Ons moet ‘n stok in die wiel steek”. Die miljoene mense wat soggens opstaan en werk toe gaan. Die plaasboere wat die grond bewerk, kos produseer en goed is vir hul werkers. Die toegewyde onderwysers, en leerlinge, dosente, studente, ingenieurs, kelners, dokters, psigiaters en karwagte.

Open my oë, laat ek dit nie miskyk en vergeet elke keer wanneer ek dink of sê of skryf daar is geen hoop meer vir hierdie land nie.

Amen.

HAVE YOUR SAY

Like the South Coast Fever’s Facebook page

You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button