BlogsOpinion

Die Lorriesmous: Slim vang sy baas

Hierdie is slegs die begin van ‘n lang intrige.

Jare gelede toe dinge nog waarde had en bekostigbaar was, het hier en daar ‘n  stamboek salesman opgeskiet. Uit die aard van die saak het hy nie eiendomme of asransies verkoop nie. Hierdie knaap het jonk begin in sy verkooploopbaan. Hy is eers deeglik opgelei in sy produk,  en daarna die aantree tegniek en fynere verkoopkunsies geleer.

In sy kampioenjare het hy per geleentheid gedemonstreer hoe hy moes oefen om sy gesiguitdrukkings te projekteer, voor ‘n spieel aanvanklik maar daarna meer geinspireerd met die ware Jakob. Vir enige onverklaarbare rede het hierdie knaap, Kerneels Villiers, begin lorries verkoop.

Neels, soos hy bekend gestaan het, sou in die latere jare na die tegnies-elektroniese ontploffing in sy bedryf, met groot gedawer vertel dat sy eerste groot lorrie, nogal ‘n Oshkosh, die nuwe eienaar ‘n almintige R 22 000.00 uit die sak gejaag het, natuurlik sonder BTW want in 1971 was daar nie sulke skelmstreke nie. Deesdae kos ‘n lorrie se tyres jou meer.

Net voordat Neels vir die tweede maal afhaak, koop sterk Piet van Staden se seun, Doorsie, ‘n splinternuwe Ford Louisville by hom. Kort voorlank bestel sterk Piet sommer vier nuwe Louisvilles, drievyftig perdekrag modelle, om nie agter te raak by Doorsie nie. Die manne gooi stene vir die vale af want die boubedryf is lewendig. In 1982 verkoop Neels Paystar Internationals, die Louisvilles het vroeër van die mark onttrek.

Onverwags maak Doorsie draai op ‘n koue Dinsdag in Julie, weet te vertelle dat sy eerste Louisville op krukke loop en hy wil hom inruil op ‘n Paystar 350. Alles is moontlik, sê Neels, maar met die Fords wat van die mark af is en joune se kruppel toestand, sal hy moet uithaal en wys om Doors te bevredig.  Neels het nog nooit berekeningsfoute gemaak nie.  Einde ten laaste is die transaksie afgehandel en Doors nooi Neels vir ‘n braaifees op die rivierwalle.

Supplied.

Toe die skapies begin draai en die voggies weerklink op die oorkantste oewer, maak Doors spiets neffe sy nuwe pragstuk wat pryk op die geleentheid. Toe hy traan in die oog vir Neels bedank vir die ongelooflike transaksie en hom by ieder en elk, voorgeslag en nageslag, aanbeveel as die enigste man om sake met vertroue mee te doen, kry Neels ook ‘n knop in die keel. Hierdie is slegs die begin van ‘n lang intrige.

Neels was in vennootskap met Abie Goldstein se International agentskap. Die eienaar was Abie en het hoofsaaklik boerebesigheid gedoen. Totdat Neels, kampioenlorriesmous, hom ‘n aanbod gemaak het wat beide partye met wye glimlagte gelaat het.  Abie was minder opgewonde met Doorsie se transaksie, veral toe Neel voorstel die kruppel Ford moet van die vloer opgebou word.

Nes Abie was Neels ‘n syferman en syfers beteken geld. Die nekslag was toe Neels met Abie ooreenkom dat indien hy minder as dertig velle profyt op die Ford maak, sal hy wat Neels is, die verskil inbetaal. Selfs ‘n stamboek Jood kon die aanbod nie veto nie.

Na drie maande se noukeurige herbouing, inderdaad hergeboorte van die ou Ford, neem Neels sy trotse handewerk vir ‘n toetsrit.

So ver hy ry gaap vebygangers hom aan en dan trek hy los met die lugtoeter wat trompetteer soos ‘n beneukte olifantbul. Terug by die werkswinkel kondig Neels sy tevredenheid aan asook ‘n almintige braai vir die manne wat moere gedraai het, die mekanieks.

Die volgende dag staan die blinkrooi Louisville op die showroom vloer. Abie het sy broers en familie van Joburg genooi om vir hulle te wys wat hy besig was om te doen.  Neels het Abie maar oorgesien want afgesien van sy miljoene het hy onder die besemstok gestaan. So halftwaalf gebeur ‘n onverwagse, onbeplande wonderwerk. Tot nou was daar kwalik belangstelling of navraag oor die blink nuwe Ford.

Neels kom tot sy sinne toe hy Doors se onegalige stappatroon gewaar, half kruppel geval toe‘n Bonneville  hom laat gruis eet het. Doors en sy vrou stap reguit na die rooi gevaarte en deins terug asof hy spook gesien het. Versigtig stap  hy nader en vryf met sy hand oor die bonnet. Eweskielik staan Neels langs hom en Grieta, Doors se slim vrou; sy hanteer haar man se finansies.

Hande in die sye  sê Doors vir Grieta: “Vra vir Neels van wanneer verkoop hy en Abie nuwe Louisvilles en waarom het hy my niks laat weet nie?” Neels bied hulle tee en wafers aan om die goeie nuus in sy kantoor te breek. Dis reg, sê Neels, jy kan maar sê hierdie perd is nuut, maar van wanneer af ons nuwe Fords verkoop, dit kan ek nie vertel nie. Ek is net die verkoopman en ek doen waarvoor die direkteure my aangestel het; om hierdie rooiblits te verkoop.

Doors wil die prys weet en Neels sê gelukkig is hierdie eenmalige aanbod ‘n rapsie laer geprys as ‘n nuwe Paystar. Grieta  laat nie op haar wag nie en wil onmiddellik bestelling teken. Abie slaat amper agteroor toe hy die bestelling goedkeur. Doors vra wat makeer Abie toe hulle buite kom.

Neels verduidelik dat die prys eintlik tienduisend rand hoër moes wees maar Doors is ‘n ou kliënt en Abie moet maar inval. Grieta omhels Neels en soen hom onverwags vol op die mond uit dankbaarheid.

En so loop nog ‘n transaksie op gladde spore. Doors is in sy sewende hemel. Abie se glimlag wat permanent sit; al moes hy Neel helfte van die profyt uitkeer. Maar ‘n man se gewete kan nooit buite rekening gelaat word nie; vir jare vorentoe moes Neel die Rooiblitspakkie dra. Doors en Grieta was oortuig hulle het ’n nuwe trok by Neels gekoop!

Vir Neels het die jare blinker en gryser om die slape geword. Nogtans bly hy getrou aan sy bedryf en woeker hy voort, selfs deur die ontstuimige See van die Politiek in ons land. Die groot ommekeer had ‘n aansienlike aandeel in die nuwe benadering om die gordel stywer te trek. Transaksies is skaarser en baie mededingend met kleiner winsmarges. Twee jaar die nuwe millennium in, blyk die sakesektor weer lewe kry.

In die lente van 2002 breek die son deur terwyl Neels skeerseep smeer. Vandag is die dag, deel hy sy gade opgewonde mee. Hy is op pad Vaaldriehoek toe met ‘n yslike tender vir die staalwerke. Na die tendervoorlegging weet Neels hy het guns behaal by die direksie, inderdaad word hy meegedeel hy is op die kortlys toe hy vertrek. Oppad terug draai sy kar asof vanself na Doors se plot, net  vir inloer en van sy welstand te verneem.

Aangekom merk hy ‘n klomp karre en geroesemoes op die plot in weerwil van Doors se vloot van vier trokke, die Rooiblits ingesluit, netjies neffens die werkswinkel geparkeerd sonder vrag. Doors se seun wink hom nader en weet te vertelle dat  sy pa-hulle kyk na vliegtuie wat in ‘n wolkekrabber vasgevlieg het. So het Neels dan die geskiedkundige “nine eleven” by Doors-hulle meegemaak.

Nadat Twin Towers ineengestort  en die rookwolk gesak het, groet die besoekers met ‘n loopdop, Doors se kroeg was in die vorm van ‘n skip wat altyd oordadig belaaid was.

Neels maak daar en dan die groot besluit, vandag gaan hy die sak ertappels uitskud. Hy gaan hierdie Rooiblits-saga nie langer saamsleep nie. Nadat Doors een van sy gesogte mampoer-kolleksie te voorskyn bring, bied Neels aan om die proppie te draai en te proe. Waarom jy en nie ek nie, wil Doors weet? Dis ‘n uitsonderlike bottel wat pas by ‘n uitsonderlike geleentheid, is Neels se verweer. Is daar nog ‘n kleinkind oppad, grap Grieta. Na die vierde ronde Groot Marico voggies, stel Neels voor hulle verkas na Doors se studeerkamer. Skertsend wou Grieta weet of Neels die bestelboek byderhand het, sy het dit laas gevra toe hulle Rooiblits gekoop het.

Nou is die hek oopgegooi  vir Neels se spiets. Hy begin deur hulle te bedank vir hulle jare lange ondersteuning en vriendskap, ook vir die bevredinging wat Doors ervaar het, veral met die Rooiblitstransaksie.

Uiteindelik wil Neels weet watter een van die elf lorries wat Doors gekoop het, die top transaksie was, die minste tandpyn gegee en die meeste wins gegooi het? Soos in ‘n geoefende duet, antwoord Doors en Grieta uit een mond, die Ford, Rooiblits op sy naam.

Neels vra toe vir Grieta om Rooiblits se lêer uit te haal en aangesien die kabinet oop is, ook die eerste Ford wat Doors gekoop het, se lêer. Grieta het nooit lêers of belangrike dokumente vernietig nie. Doors wil weet wat aan die gang is want sy goed is alles klaar betaal en privaat; ook maar katvoet vir die Ontvanger. Nee sê Neels , ek wil jou wys hoe lêers eintlik werk. En so bekyk hulle elke handtekeninig en prys, spesifikasie en sertifikaat van elke trok. Neels maak toe die mespunt voorstel: Grieta, vat jy die eerste Ford se lisensieskyf en Doors, vat jy Rooiblits s’n. Lees dan die onderstelnommers vir mekaar… nou is daar nie meer omdraaikans nie.

Supplied

Na minute se oor en weer lesery en stryery staan Doors met gebalde vuiste op. Neels verwag die ergste maar berus hom dat Doors hom net katswink sou slaan en nie verder verinneweer nie. Doors slaan egter op die tafel, gelukkig is stinkhout harder as enige vuis, en bulder: nou weet ons Ford is ‘n klomp skelms, hulle bou meer as een trok op dieselfde chassisnommer en maak so meer geld.

Doodse stilte hang dik in die vertrek. Kwalik hoorbaar kom Neels aan die beurt. Dis nie Ford nie, dis ekke…..  Wat bedoel jy, vra Grieta en Doors gelyktydig. Onthou julle die transaksie met die kreupel Ford wat julle ingeruil het? Nou wat van hom, wil Doors grootoog weet. ‘n Paar maande daarna het julle die Rooiblits by my kom koop. Nou raak Doors beneuk en staan bakarm voor Neels.

My goeie vriende, luister mooi, pleit Neels benoud, julle het nog altyd verkondig dat Rooiblits die beste trok, beste waarde vir sy prys was… Nou moet ek bieg: Rooiblits en die eerste Ford wat julle by my gekoop het, is dieselfde trok.

Nou is die stilte erger as nog ‘n straler wat ‘n wolkekrabber soek om in te ontplof. Doors klink beheersd kalm toe hy in ‘n kwalik hoorbaar stem vra: “Het jy my eie lorrie dan nog ‘n slag aan my verkoop? Jy het  my dubbel laat betaal vir dieselfde trok!” Nou bulder hy erger as die donderweer: “Grieta, bring my pa se drie-nul-drie; ek hou hom ge-olie vir sulke skelms.” Meteens spring Neels veerkragtig uit sy stoel en staan penorent voor Doors.

“As jy skoot aftrek maak seker dis tussen my oë. Voor jy mik, vra vir Grieta of Rooiblits net moeite en verdriet was en bokkerol wins gemaak het?” Nou is dit Neels se beurt om stof te skop soos gekweste blouwildebeesbul. “Ek sê jou,” en sy kyk Doors met warm asem in die gesig, vierkantig in die oog, “Ek sou driemaal vir Rooiblits betaal het. Niemand kan vir Rooiblits ooit nadoen nie.”

Toe sak Neels terug in sy stoel en begin aan’t ruk gaan, heeltemal aangedaan en verslae noudat hy sy sak bagasie uiteindelik afgeskud het. Doors skrou in die gang af: “Griet, los die geweer, bring baie ys uit die kombuis, vanaand gaan ons Rooiblits weer vier.”

Jare daarna, lank na sy aftrede, vertel Neels Villiers steeds hoe slim sy baas gevang het.

 

 

Hannes van der Westhuizen.

Hannes van der Westhuizen was born, raised and educated in Pretoria. He tried varsity, did not like it and took up a job with Lever Brothers.

 A colleague suggested they try being salesmen after reading a newspaper ad.  On his first assignment, Hannes  managed to get a large corporation in Kimberley to buy calculators and once he was handed his first commission cheque, he was hooked on sales.

Hannes was head-hunted by a truck sales company and was completely smitten.  He and his proper love, wife Elma, retired to Anerley where they enjoy being beachcombers.

 

HAVE YOUR SAY

Like the South Coast Herald’s Facebook page, follow us on Twitter and Instagram

For news straight to your phone, add us on WhatsApp 082 421 6033

 

 

Back to top button