BlogsOpinion

Die Lorriesmous: Kaskenades in die plantasies

Die raadsaal klink soos ‘n miniatuur Loftus wanneer Naas ‘n drop van die halflyn deursit.

Die sakesektor is vasgevang in onsekerheid na die magsoordrag in 1994. Die verskaffers van kapitaalgoedere: fabriekstoerusting, siviele masjinerie asook vragmotors word negatief befoenkfaai deur ‘n persepsie van onsekerheid.  Neels en sy kollegas  sit op hete kole en word gereeld opgekommandeer na die raadsaal van die uitvoerende hoof.

LEES OOK: Die Lorriesmous: Die stoere boer

“Die jaarsyfer lyk nie goed nie, ek weet elkeen doen sy uiterste, die werkswinkel, parte-afdeling en verkoopspan is ons rugstring, ek weet waartoe julle in staat is en ons oorlewing hang van julle af….”. Daar is amper ‘n gewyde stilte in die raadsaal nadat die hoof afsluit. Neels is deel van ‘n span oorwegend anderstaliges, die rooitaal het hy lankal bemeester maar by sy kollegas bly hy ‘afrikane’, hulle warmpatatmonde kan mos nie rrr nie. Allermins laat hy hom onderkry en raak net meer vasberade.

Pixabay

Tot groot vermaak en ongeloof van selfs die verkoop-direkteur, bearbei Neels die grootste bosbou- maatskappy se groepaankoper. Hier betree Neels die gevegsfront waar sy bestuur jare gelede die aftog moes plaas teen die kompetisie. Na ses maande se onverrigte sake en kwalik benoemenswaardige  transaksies word Neels na die bestuurder se kantoor geroep. Maak die deur toe, klink Mike se stem ernstig toe Neels sy kantoor betree. Twee van sy kollegas het alreeds die trekpas in hierdie maand gekry  en hy verwag die ergste.

Weliswaar is dit sy beurt om in die stof te byt,  behalwe vir ‘n laaste kans om die transaksie met die bosbou manne deur te haak. Binne twee weke moet jy hulle bestelling  op die tafel hê,  deel Mike hom grynslaggend mee.’n Dag voor Neels se grasie verstryk, ontvang  hy ‘n faks wat hom uit die put van diepe donkerheid trek.

Al sy swoeg en vasbyt met meneer Muller, hoof-aankoper by Bosbou Beperk, was toe nie tevergeefs nie. Neels  kry instruksie om onmiddelik  na Piet Retief te verkas, die bestuur daar te ontmoet en ‘n bestelling van agt veertienton loggers te kry. Hy deel die deurbraak-nuus  mee aan die direksie wat stil in die mou lag; dit is Neels se laaste stuiptrekkings, skerts hulle onder mekaar toe hy groet. Neels  het nie die volle detail uitgelap nie,  slegs dat Bosbou se bestuur hom in Piet Retief te woord wou staan.

Met kinderlike opgewondenheid klap Neels die vroeë oggend kilometers af na Piet Retief. Tien minute voor afspraaktyd vergesel die ontvangsdame by die saagmeule-kantoor  hom na die raadsaal. Die tafel is gedek met die  bestuurspan en Gunther,  die bestuurshoof,  ‘n  tipiese Duitser, bekwaam en gedissiplineerd.

LEES OOK: Die Lorriesmous: Slim vang sy baas

Tot Neels se verbasing en verligting weet die manne wat hulle wil hê. Die probleem blyk dat die betrokke voertuigmodel eers oor ses maande beskikbaar is. Nou besef Neels  waarom Mike sy voorraad so vernuftig wegbêre – sedert Februarie staan daar 10 enerste 14 tonners weggesteek.  Neels oortuig die Boskorp manne  dat hy toutjies kan trek vir die agt 14 ton loggers, hulle moet net ‘n bestelling uitreik. Gunther onderteken die papierwerk en gee Neels ‘n knyptang handdruk wat hom duidelik laat verstaan hierdie is ernstige sake. Die terugtog was meer bedaard en Neels luister na Beethoven se derde triomfantlike simfonie op die Becker klankstelsel.

Pixabay

Hy is vroeër as gewoonlik op kantoor en is rustig aan’t roer aan sy tweede koppie koffie toe Mike hom van agter op die skouer klop. Kom vertel ons die goeie nuus in die raadsaal, bring sommer die dokumentasie saam; die vergadering is om nege-uur. Dit gee Neels net genoeg tyd om die agt lêers op te stel, gereed om deur die bestuur afgeteken te word. Stiptelik om nege stap hy die raadsaal binne,  amper salueer hy die bestuurspan wat hom nie kan opsom nie, net vraend beloer. Hy staan botstil voor die manne en groet hulle sonder enige aksent. Mike gee hom die groenlig om sy verslag  op die tafel te plaas.

Stilweg pak hy die agt transaksaksies  op die tafel met Boskorp se bestelling wat soos ‘n vlag  pryk.

Baie sarkasties, kwalik hoorbaar, kom die Verkoopdirekteur tot verhaal:  Jy het gelukkig nie al tien van my vragdraers wat  vir DMA Konstruksie gereserveer is, sonder my toestemming  staan en verkoop nie. Hierdie modelle is goud werd en is geoormerk vir een van ons grootste kliënte! Nou het jy ons in die pekel gedompel hy Boskorp, Hierdie was jou laaste kans en jy het dit met onderskeiding verspeel.

Ou Mike se gesig speel verkleurmannetjie  tussen die woordspel. Toe sê hy iets wat ‘n piesangskil onder sy blink nevvies sou word: Ek fire jou op hierdie oomblik, uit en gedaan!! Daar hang ‘n gedempte, amper eerbiedige stilte in die raadsaal. Neels is weer op die verhoog in sy matriekjaar, sy gelyke in toneelspel moet nog gebore word.

Hy begin effens waggel asof hy slegte tyding gekry het en begin stadig en rasperig diep asem haal, geen woord of teëspraak kom uit sy mond nie.

Die handelaarshoof stap rustig na Neels  met ‘n glas water en nooi hom om plaas te neem op ‘n stoel om die tafel. Nou is die gort gaar vir Mike, dieselfde soos vir Hamman en sy galg in die groot boek.

Baie bedeesd word Mike gevra om sy transaksie met DMA konstruksie, sy kliënt,  op die tafel te plaas. Nou is die flambojante grootbek direkteur se woordeskat nêrens te vinde nie, nog minder enige bewys van sy transaksie vir tien vragdraers. Uiteindelik kom sy verweer dat hy oor twee maande sy bestelling sou kry. Sy gesig word deur twee verkleurmannetjies versier. Die vraagteken op die hoof se gesig en sy oë wat blitse straal is al antwoord wat Mike kry.

Pixabay

Met ’n nederige  gebaar bied Mike aan om Boskorp se transaksie te erken en hulle hoofkantoor met dank en erkenning  te verwittig. Neels  staan op en skud blad met Mike, sy woorde slaan teen die plafon vas: gee my ‘n snotklap dat ek kan wakkerskrik! Die raadsaal klink soos ‘n miniatuur Loftus wanneer Naas ‘n drop van die halflyn deursit. Die tambotie deur is gesluit vir die dag en Neels  is herhaaldelik gevra om sy herkoms te skilder.

Net ou Mike, al sy sondes nou vergewe, het gemaak of hy weet wat ‘n lorriesmous laat tiek.

Tereg het oom Danie lank gelede opgemerk: Watch die score board. Om te kan score moet jy dêm hard werk op die veld. In hierdie geval was dit Neels se beurt om te score in die bosplantasies. Die aflewering  van agt doelvervaardigde bosvoertuie was aangeteken in die annale van Boskorp en die Handelaar  se argiewe. Neels sou lank daarna nog droogweg verwys as kaskenades in die plantasies.

Hannes van der Westhuizen.

 

Hannes van der Westhuizen was born, raised and educated in Pretoria. He tried varsity, did not like it and took up a job with Lever Brothers.

 A colleague suggested they try being salesmen after reading a newspaper ad.  On his first assignment, Hannes managed to get a large corporation in Kimberley to buy calculators and once he was handed his first commission cheque, he was hooked on sales.

Hannes was head-hunted by a truck sales company and was completely smitten.  He and his proper love, wife Elma, retired to Anerley where they enjoy being beachcombers.

Back to top button