Hoe sê Ore – 19 Junie 2015

Hoe sê Ore - 19 Junie 2015

Wie beskerm wie?

Ore hoor by vrinne van hom dat hulle nie lank terug een aand by ’n funksie êrens by die Weermagbasis in Potch was. Glo die aand lekker gekuier en hulle sê mens kan met ’n klein begroting nog redelik ver kom daar. Ore bedoel mens kan darem vir jou pêl ook ’n ietsie by die kroeg bekostig. Maar wat sal hulle sien toe hulle teen die gebou kyk.

Dié geboue word deur ’n sekuriteitsmaatskappy in die stad beskerm! Ore het nie gedink hy sal dit beleef dat ’n militêre basis se geboue deur ’n privaat sekuriteitsmaatskappy beskerm moet word nie. Staan soldate dan nie meer wag nie?

Arme Bulle

Ore het baie Blou Bul-vriende en Ore probeer sy bes om nie voor hulle te lekker te kry oor hulle nou so stil is nie. Maar Ore wil hulle raad gee, anders lê daar nog droewiger tye voor vir hulle. Laat Victor Matfield maar eers by ’n laerskool gaan afrig, dan by ’n hoërskool, dan ’n paar jaar bietjie klub- of Varsitybeker voordat julle hom op julle span loslaat. Hoe kry mens twintig jaar se ervaring? Dis eenvoudig: Twintig jaar natuurlik!

Probeer tog

Dis darem jammer dat die Luiperds nou Saterdag teen die Valke in Potch speel terwyl die grootskole se halfeindwedstryde ook die hele dag in Potch is.
Dink net hoe lekker dit sou wees as daar gereel kon word dat ten minste die twee hoofwedstryde van die skole ook op Olënpark gespeel word. Gimmies en Volkies beide in aksie. Dink net hoe lekker vol kan Olënpark dan wees! Probeer tog dan!

Nie die stuurwiel

Ore weet Potchefstromers is nie gewoond aan sirkels nie. Dis maar ’n snaaksigheid in ons stad. Dis seker hoekom iemand oor die naweek om en om en om een van die sirkels in Silwerstraat gery het. Dalk was dit nie, soos hy beweer, die stuurwiel wat vasgehak het nie.

Exit mobile version