BlogsOpinions

Kan rivierstad-idee regtig werk?

In Afrikaans is daar ‘n mooi woord om te verwys na groot drome wat baie tyd en breinkrag opeis, maar nooit realiseer nie. Ons noem dit lugkastele.

In Afrikaans is daar ‘n mooi woord om te verwys na groot drome wat baie tyd en breinkrag opeis, maar nooit realiseer nie. Ons noem dit lugkastele.

Om op so ‘n manier te verwys na die Vaal River City wat volgens beplanning teen ‘n koste van R11 miljard opgerig gaan word, is dalk onverdiend en onnodig pessimisties, maar heelwat water gaan nog deur die Vaalrivier moet vloei voordat hierdie modelstad ‘n realiteit sal word. ‘n Mens kan nie help om te wonder oor die ligging nie. Vaalweekblad het deur die jare al herhaaldelik aan mense wat hulself as kundiges uitgee, gevra waarom daardie lieflike stuk rivieroewer langs Mario Milani-rylaan tussen Vanderbijlpark en Vereeniging, nie soos ander oewergebiede ontwikkel word nie. Die antwoord was elke keer dat dit kleigrond is en dat bouwerk en versterkte fondasies geweldig duur gaan wees om voorsiening te maak vir die kenmerkende uitsit en inkrimp van kleigrond. Dié natuurverskynsel kan geboue baie vinnig uitmekaar laat kraak.

Die nuwe “aquastad” gaan volgens beplanning verskeie hoë geboue bevat. As mens die hedendaagse prys van bouwerk, tesame met die ekstra koste om op kleigrond te bou in aanmerking neem, begin die bedrae astronomies raak. Is die kool die sous werd?

Dalk is die moderne boutegnieke so gevorderd dat kleigrond deesdae geen gevaar meer inhou nie, of dalk is die probleem glad nie so erg as wat vermoed word nie. Die ontwikkelaars het sekerlik hul huiswerk en navorsing gedoen en ons glo nie so ‘n majestueuse projek sou blindelings aangepak word nie.

Dit sal tog gaaf wees as die ontwikkelaars ‘n bietjie meer van hul binnekring-inligting hieroor aan die media wil verskaf. Om verder duiwelsadvokaat te speel: Is hier genoeg mense in die Vaaldriehoek wat die nuwe megastad as inwoners kan betrek? Indien nie, en mense uit ander dele van die land hier gehuisves gaan word, kan die vraag gevra word of die Vaaldriehoek se sukkelende infrastruktuur soos riolering betyds uitgebrei en die bestaande stelsel beter in stand gehou kan word?

Nog ‘n vraag: Waar gaan inwoners van die nuwe “rivierstad” werk, want die Vaaldriehoek het reeds te min werksgeleenthede soos dit is. As dit inwoners gaan wees wat aan die Rand werk, is die probleem opgelos, want hulle bring dan ekstra geld van buite na ons gebied. Die waarheid is dan net dat hierdie projek nie regtig ons bestaande Vaaldriehoekse mense bevoordeel nie, maar net ‘n groep relatief welgesteldes uit ander dele, wat agter hoë mure gaan leef waar die “gewone gepeupel” nie toegelaat word nie. Boonop word Jan Publiek se laaste stukkie riviertoegang opgeëis.

Maar kom ons bly vir eers positief want as die beoogde River City-idee werk soos dit moet, gaan dit minstens vir ‘n geruime tyd tydens die ontwikkelingsfase werksgeleenthede aan ‘n paar duisend mense verskaf. Dan val ons graag in by die koor wat lofliedere hieroor sing.

Related Articles

Back to top button