BlogsOpinions

Jesus Christus se Hemelvaart is ons Hemelvaart

Jesus gaan weg en die dissipels kan Hom nie volg nie. By Hemelvaart is afskeid die oorheersende gedagte. Die dissipels het alles gelos en Jesus gevolg, en nou sê Hy weggaan. Wat gaan van hulle word?

Ds. Koos Mouton – Gerf Kerk Mooirivier

Lees Johannes 14:1-14.

Jesus gaan weg en die dissipels kan Hom nie volg nie. By Hemelvaart is afskeid die oorheersende gedagte. Die dissipels het alles gelos en Jesus gevolg, en nou sê Hy weggaan. Wat gaan van hulle word?

Om hulle gerus te stel sê Jesus: “Julle moet nie ontsteld wees nie.” Hoekom nie? Want Jesus gaan terug na God wat in die hemel is. Waar is hemel? Daar waar God is. Waar is hel? Waar God nie is. Ons soek die hemel te ver. Hemelvaart sê Jesus is naby. So naby soos God self. Jesus se Hemelvaart sê dat Jesus na God se woonplek gaan om vir ons daar woonplek gereed te maak. Hemelvaart beteken dat daar vir ons plek is by God.

Soos Jesus se kruis ons kruis is, sy opstanding, ons opstanding, is sy Hemelvaart ons Hemelvaart. “In Christus het God ons saam met Jesus uit die dood opgewek en ons saam met Hom ‘n plek in die hemel gegee.” (Ef. 2:6). Daarom is die wat in Christus gesterf het nie buite die lewe nie. Ons wat nog lewe, is buite die lewe, en die Vaderhuis. Daar is baie plek, want God se vaderhart is ruim. Dis soos liefde en ruimte. As daar nie liefde in ‘n huis is nie, is daar nie ruimte vir mekaar nie – al is die huis baie groot. Waar daar nie liefde in ‘n huis is nie, vlug ons uit die huis. As jy iemand nie liefhet nie, het jy nie vir hom of haar ruimte nie. God se Seun het vir ons ruimte kom maak.

Hy het afstand van sy ruimte by God gedoen om my ‘n dak te gee. By God in die Vaderhuis waarheen Hy teruggekeer het. Christus het ons menswees hemel toe geneem, en Hy het sy Gees as teenpand (dink aan trouringe as pand) gestuur. Sedertdien is ook die tempel wat met hande gebou is, vervang met ‘n geestelike huis. (Hand 7:48,49.) Ons, die kerk van die Here, is daardie geestelike huis waarin God woon. (Ef. 2:20-22.).

Dit beteken dat God se kerk die “beeld” is van ons huis in die hemel. Daarom het God se kerk op aarde ook ruimte en liefde…vir alle mense. Gaan ons na die uiterste van die aarde om vir mense te vertel van God se liefde en ruimte vir hulle. Die Heilige Gees wat Jesus gestuur het na Hy weg is, laat ons verlang na Jesus se wederkoms en laat ons verlang na die hemelse dinge. Na ons hemelse woonplek en ruimte. Ons word nie wêreldvreemd nie, maar ons leef met die een oog op die hemel en die ander oog op die werksbank, die ploegskaar, die rekenaar. Intussen, as jy bang word vir al die verskriklike dinge wat in die wêreld gebeur, laat jou hart nie ontsteld word nie. Jesus het gegaan om vir jou plek te gaan maak in die Vaderhuis.

En leef nou met die hand aan die ploeg geslaan.

Related Articles

Back to top button